Cynthia Covert het pas die manikuurbehandeling voltooi van ’n kliënt, Barbara Howell, wat op ’n landgoed op die eiland woon toe sy ’n alligator in die nabye dam sien.

Sy het begin foto’s neem van Barbara se stoep af, waar sy die naelversorging gedoen het, maar het ál nader aan die dier beweeg.

Barbara en haar man het in 'n stadium besef Cynthia is te naby aan die dier en het geskree sy moet versigtig wees omdat hulle ’n paar dae tevore gesien het hoe die reptiel ’n bok doodmaak. “Ek lyk nie soos ’n bok nie,” het Cynthia geantwoord.

Die volgende oomblik het die alligator haar aan die been beetgekry en in die water begin trek. Barbara en ander omstanders het gehardloop om te help en het op ’n kol vir haar ’n tou gegooi om haar uit te trek.

Cynthia het die tou gegryp en kalm laat hoor: “Ek dink nie ek sal dit weer doen nie.” Maar toe gryp die dier haar weer en trek haar onder die water in.

’n Alligator verdrink gewoonlik sy prooi, iets wat as die “doodsrol” bekendstaan – en dis hoe Cynthia gesterf het. Toe reddingswerkers op die toneel opdaag, was daar geen teken van Cynthia se liggaam nie.

Die dier het 15 minute later aan die anderkant van die dam te voorskyn gekom, steeds met Cynthia se liggaam wat hy aan die been beetgehad het.

Dit het weer verdwyn en toe dit ’n tweede keer te voorskyn kom, het die polisie die dier doodgeskiet om die vrou se liggaam te kry.

Barbara het later gesê Cynthia het voor die voorval vreemd opgetree en was meer spraaksaam as gewoonlik, berig NBC News.

Werkers wat haar liggaam uitgehaal het, het gesê haar been was erg beskadig. ’n Lykskouing het later die oorsaak van dood as verdrinking bevestig.

Dit was die derde dood as gevolg van ’n alligator wat die afgelope vier jaar in Suid-Carolina aangemeld is.

Bronne: Mail Online, NBC News, ABCnews4.com