En g’n wonder – Ophelia Vanity het al meer as R50 000 aan ’n ooglidoperasie uitgegee om soos die pop te lyk. 

Ophelia (30) het al altesaam R414 000 uitgegee om haar verstommende pop-voorkoms te kry, berig Daily Mail.

“Ek dink Barbie is baie ikonies. Ek probeer beslis nie rassisties wees nie,” sê Ophelia, wat van Chinese afkoms is.

“Daar is deesdae poppe en Barbies van elke lengte, velkleur en etnisiteit, maar ek was nog altyd meer aangetrokke tot die ikoniese Barbie-voorkoms. 

“Dis hoekom ek meer Kaukasies wil lyk – om nader aan die hoofstroom- ikoniese voorkoms te beweeg.

“Ek het die operasie al ses jaar lank nodig, en baie mense het my geterg of geboelie oor my oë, daarom hoop ek die operasie sal my meer selfvertroue gee.”

Benewens die ooglidoperasie het sy ook ’n neusoperasie en maande se botoks-behandelings en vullers gekry.

En asof dit nie genoeg was nie, berig The Sun Ophelia beplan om bors- en boude-inplantings te kry, haar vel te laat bleik, en sy oorweeg dit selfs om vier van haar ribbebene te verwyder om ’n piepklein middeltjie te kry.

Hoewel die Barbie-ewebeeld meer as 75 000 aanhangers het op Instagram, sukkel sy nog steeds met selfbeeldprobleme, maar is besig om stadig maar seker aan haar selfvertroue te werk.

“Ek het anoreksie op hoërskool gehad. Ek is beslis nie meer anoreksies nie, maar ek dink nie ek het ten volle herstel nie, want ek sal altyd oor die algemeen ’n lae selfbeeld oor my lyf hê, maar ek sukkel ook met liggaamsdismorfiese steuring.

“Die botoks- en lipinspuitings het beslis gehelp met my selfbeeld. Ek het nie ’n goeie selfbeeld nie en ek dink dis nog ’n rede dat ek probeer om so na aan ’n menslike pop as moontlik te lyk.

“Dis een van die min dinge wat vir my ’n bietjie selfvertroue gee.”

Al het sy deurgeloop onder lelike aanmerkings van internetboelies, sê die Kaliforniese boorling, wat politieke wetenskap en Frans as hoofvakke op universiteit gehad het, mense moet nooit ander volgens hul voorkoms beoordeel nie.

“Mense het ’n reusagtige wanopvatting dat ek ‘onder ’n waan verkeer’, maar dis bloot my persoonlike estetiese voorkeur,” het sy aan Life & Style gesê.

“Dit sou ’n veel beter plek gewees het as mense nie so vinnig ander stereotipeer en veroordeel nie, en meer oopkop, vol begrip en empatie was, en terselfdertyd ook die tyd gevat het om iemand te leer ken voor hulle valse of haatlike goed oor hulle sê.”

Bronne: Thesun.co.uk, Dailymail.co.uk, Lifeandstylemag.com