Tess Thompson Talley het die land reeds in Junie 2017 besoek, maar die foto’s het eers in Junie vanjaar op Twitter opgeduik en gou-gou soos ’n veldbrand versprei. 

Luidens berigte het die 37-jarige dit in 2017 op Facebook geplaas met die byskrif: “Gebede vir my eenmalige droomjagtog wat vandag waar geword het! Hierdie seldsame swart kameelperdbul raakgesien en hom ’n hele ruk bekruip. 

“Ek het geweet dit is die een.

Hy was meer as 18 jaar oud, 4 000 pond (1 800 kg) en ons was geseënd om 2 000 pond (900 kg) vleis van hom te kry.”

Die Facebook-plasing is sedertdien uitgevee, maar die foto’s het mense wêreldwyd briesend gemaak.

Selfs bekendes soos die Amerikaanse aktrise Debra Messing en Britse komediant Ricky Gervais het tot die stryd toegetree. 

Die Will and Grace-akstrise het Talley “’n walglike, vieslike, amorele, hartelose, selfsugtige moordenaar” genoem. Ricky se twiet was vol kragwoorde, berig The Guardian

Maar Talley voel blykbaar heel anders oor haar jaggewoonte. In ’n verklaring aan Fox News het sy haar verdedig en gesê die swart kameelperd was deel van ’n subspesie wat glad nie seldsaam is nie.

“Die getalle van die subspesie is eintlik aan die toeneem, deels danksy jagters en bewaringspogings, waarvoor grootwildjag grotendeels betaal,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg die kameelperd was te oud om te teel en het twee jonger bulle doodgemaak wat kon voortgeplant het, en so die getalle laat afneem. 

“Dit word bewaring deur wildbestuur genoem,” het Talley gesê en volgehou dit was nie ’n “geblikte” jag nie.

“Vir al die mense wat my dood wens of my selfs met die dood dreig: Dit beteken niks goeds vir jul ‘beweging’ nie. Dit wys net vir die wêreld hoe skeefgetrek jul prioriteite is,” het sy gesê. 

“Presies dieselfde foto kon geplaas gewees het, en word daagliks geplaas, van mans met hul trofeë en nie ’n woord word gesê nie.” 

Bronne: The Guardian, The Washington Post, Fox News