Die eerste oproep was omstreeks kwart voor drie die oggend. Al wat die polisie kon hoor, was iemand wat “hallo” gesê het.

Soos die gebruik wanneer iemand die noodnommer skakel, is die polisie na die omgewing gestuur vanwaar die oproep gekom het. Hulle kon niemand opspoor nie. ’n Kwartier later het nog ’n oproep van dieselfde nommer gevolg. Dié keer het die polisie haar in die hospitaal se parkeerterrein aangetref.

Maar daar was geen nood nie, volgens die polisie wou sy bloot na ’n ander stad geneem word.

Hulle het haar glo vermaan en aangesê om die hospitaalperseel te verlaat. Sy het so gemaak, maar dadelik weer die noodnommer gebel. Die rede vir die oproep?

Sarah was glo vies omdat die polisie nie die diens gelewer het wat sy van hulle verwag het nie ’n rit na die volgende stad.

Sy is weer vermaan, maar van ophou, het Sarah nog nie gehoor nie. Toe sy hulle die vierde keer bel, het sy wel ’n rit gekry, dié keer in ’n polisiemotor. Dit was egter nie na haar verwagte bestemming nie, maar na die Polk County-tronk.

Boonop word sy nou aangekla van die misbruik van die 911-nommer.

En die polisie van Winter Haven het hul ervaring met Sarah op hul Facebook-blad gedeel as ’n waarskuwing aan ander wat die noodnommer wil misbruik.

Maar nie alle Facebook-gebruikers dink die polisie het reg opgetree nie. Terwyl sommige haar inhegtenisneming steun, is daar talle wat dink sy het hulp nodig en dat die polisie haar misverstaan het.

Ene Amanda Jane Lewis beskryf die plasing van Sarah se optrede op die polisie se Facebook-blad as laag en gemeen. “Iemand was duidelik in nood, en julle kon nie ’n vinger lig om te help nie. En toe dink julle dit sal pret wees om haar in die openbaar te verneder nadat julle haar tronk toe gesleep het,” is haar mening.

Talle plasings gis dat Sarah óf onder die invloed van dwelms was óf dat sy geestesgesondheidsprobleme het en dat die polisie haar nie in hegtenis moes geneem het nie.

“Hoekom is julle so onbeskof en harteloos? Julle het geen idee wat haar storie is nie en aanvaar bloot net die ergste,” sê Kim Johnson Williams.

Vir Sandra Hernanez is die antwoord duidelik: “Sy was by die hospitaal. As sy hulp nodig gehad het, kon sy net daar ingeloop het en hulp gevra het.”

Angela Concepcion, wat glo jare lank vir 911 gewerk het, verdedig die polisie se optrede.

“Hierdie is ’n voorbeeld van die misbruik van ’n diens en ook ’n aanduiding van mense wat ’n ander diens benodig as dit wat die polisie kan bied . . . Sy mag dalk sielkundige probleme hê, maar die polisie het die regte ding gedoen deur haar na ’n veilige plek te neem pleks van om haar daar te los.”

Ashley Gayton sê elke oomblik wat die polisie op Sarah gebruik het, kon dieselfde oomblik gewees het dat die polisie iemand kon help wat regtig in die nood is. “Die onnodige gebruik van 911 kan ’n lewe kos,” skryf sy.

“Hierdie soort nonsens gebeur gereeld,” vertel Melissa King Beall en sy vertel van haar paramedikus-vriend wat iemand met ’n pyn in die bors moes gaan oplaai het. “Toe hulle by die hospitaal aankom, vertel die man hy het nie pyn in die bors nie, en hy het ook nie mediese hulp nodig nie. Hy wou net ’n rit tot by die hospitaal hê om naby ’n vriend te wees wat hom na Best Buy sou neem om ’n TV te koop.”

Die misbruik van die noodnommer kan in Florida tot ’n boete van $1 000 (R17 248) of ’n jaar in die tronk lei.

In Amerika word daar ’n geraamde 240 miljoen oproepe na 911 gemaak. Daar is geen nasionale statistiek oor hoeveel mense die nommer misbruik nie. Maar in San Francisco byvoorbeeld is ongeveer 40% van alle oproepe na die noodnommer nie werklik noodoproepe nie.

Bronne: foxnews.com, mg.co.za, ansaralaw.com, ktvu.com