Evonna Byrd (28), van Newark in die Amerikaanse deelstaat New Jersey, is gelukkig sy het nie doodgebloei toe sy haar seun, Ezra, in die gesin se sportnutsmotor op pad hospitaal toe in die lewe bring nie. 

Haar water het gebreek drie minute nadat hulle met die rit van 15 minute begin het en sy het minder as ’n minuut later die baba se kop sien uitsteek.

Haar man, Chris (30), het gemeen sy oordryf en was verbaas toe die baba se skouers sekondes later begin verskyn.

Oomblikke later het sy in ’n sakkerige sweetpakbroek aan Ezra die lewe geskenk. Hulle was toe 10 minute se ry van die hospitaal af.

Foto: Magazine Features.

Evonna, ’n tuisonderwyser en stigter van ’n mentorprogram sonder winsbejag vir jong meisies, sê: “Dit is waarlik ’n wonderwerk. Toe ons by die hospitaal kom, was daar geen komplikasies nie en ons kon binne twee dae huis toe gaan.

“Ek het ontsettende pyn in die motor ervaar. Dit was die ergste pyn wat ek in my lewe gevoel het. Ek het geweet wat gebeur.

“Dit het gevoel of ek doodgaan. Ek kon nie glo wat gebeur nie. Dit het gevoel soos iets wat jy in rolprente sien. Ek kon doodgebloei het.

“Ek het vir Chris gesê ek kan nie meer hou nie en toe glip die baba se kop skielik uit.

“Chris se adrenalien het vinnig en hard gepomp. Hy het geweet hy sou ons superheld moes wees. Ons het nie tyd gehad vir wag vir ’n ambulans of die polisie nie. Hy moes ons net daar kry.”

Foto: Magazine Features.

Evonna se twee ouer kinders, Crystal (3) en Christopher jr. (1), het tydens die geboorte op die agtersitplek gesit.

Christopher jr. is te jonk om te verstaan wat gebeur, maar Crystal het verstaan haar ma is swanger en iets is fout.

“Christopher het my nooit hoor skree nie, maar het nie geweet wat aangaan nie. Hy het net stil en geskok daar gesit,” sê Evonna.

“Crystal het begin huil. Sy het verstaan iets is fout en sy het voortdurend vir Chris gesê hy moet my help.”

Toe hulle by die hospitaal aankom, het die mediese personeel na die motor gekom om die naelstring te knip voor Evonna en Ezra op ’n draagbaar weggeneem is.

Evonna is verbaas oor hoe goed die geboorte verloop het in ag genome die aaklige ervaring in die motor. 

Boonop het sy en haar gesin soos “klein glansmense” oral in die hospitaal gevoel.

Foto: Magazine Features.

“Die verpleegster het die baba opgetel terwyl hy nog aan die naelstring vas was en hom begin skoonmaak. Toe knip hulle die naelstring en sit ons albei op ’n draagbaar.

“Toe ons by die hospitaal kom, was ek en Ezra piekfyn,” sê Evonna.

“Die verpleegsters en dokters het taamlik geskok gelyk. Hulle sien seker nie gereeld so iets nie. 

“Hulle het heeltyd gesê hoe sterk ek is, want ek het deurgedruk.”

Die gesin is nou al twee weke by die huis. Klein Ezra drink goed en pas by sy sibbes aan, salig onbewus van sy unieke geboorte.

“Hy is volmaak. Ons is baie dankbaar,” sê Evonna. “Die twee ouer kinders voed en soen hom gedurig.”