Sy hou egter vol sy’s onskuldig en dat sy regtig haar hand in ’n ongeluk verloor het.

Julija Adlesic van Ljubljana, Slowenië, is twee jaar tronkstraf opgelê nadat die hof bevind het sy en haar kêrel het tot dié ysingwekkende stap oorgegaan om versekeringsgeld van amper R21 miljoen te probeer eis. 

Die twee het aanvanklik in die hospitaal vertel sy is haar hand kwyt in ’n ongeluk terwyl sy boomtakke afgesaag het, maar die hof het bevind hulle het dit opsetlik met 'n sirkelsaag gedoen.

Ondersoekbeamptes het vasgestel sy het vyf polisse by verskillende versekeraars in die jaar voor haar besering uitgeneem.

Haar 30-jarige kêrel, Sebastien Abramof, het ook in die dae voor die voorval inligting oor kunshande op die internet gesoek.

In die hof is aangevoer dat sy diep in die skuld was en besig was met persoonlike bankrotskap-stappe.

Daar is voorts bevind dat die paartjie doelbewus haar afgesaagde hand tuis gelos het pleks van dit saam te neem hospitaal toe sodat sy permanent gestrem kon wees.

Polisiebeamptes het egter die hand gevind en chirurge kon dit weer heg waar dit net bokant haar pols afgesy was.

Sy het haar gehegte linkerhand voortdurend binne en buite die hof toegehou.

Haar kêrel is tot drie jaar tronkstraf gevonnis, en sy pa het 'n opgeskorte vonnis van een jaar ontvang.

Julija het nooit van haar storie afgewyk nie.

“Niemand wil gestrem wees nie. Ek het my hand verloor . . . net ek weet hoe dit gebeur het”, het sy tydens haar verhoor gesê.

Haar mooi uitrustings tydens haar verskynings het dikwels aandag getrek, en haar regspan het ook aangevoer ’n jong vrou wat gesteld is op haar voorkoms sou nooit in staat wees om haar eie lyf sulke skade te berokken nie.

Haar kêrel is intussen ook ’n verdagte in 'n ondersoek na die dood van sy vorige meisie in 2015 in 'n beweerde skietongeluk.

Bronne: total-slovenia-news.com, news.sky.co.uk, bbc.co.uk, YouTube