Dis ’n verhaal wat aan ’n sielkundige misdaadriller herinner – een waarvan die slothoofstuk 10 jaar later steeds nie geskryf is nie.

Dit is die verhaal van ’n skoolmeisie wat wreed van haar jeugdige onskuld beroof is en van ’n ma wat eindelik tot moord gedryf is deur die skrikbewind van ’n gewelddadige dronkaard wat sy vrou en stiefdogter jare lank geslaan en misbruik het.

Susan* het die aanrandings deur haar tweede man, ’n alkoholis en mynbeampte van Westonaria, Gauteng, jare lank verduur. Tot die nag dat Johan* in sy besopenheid haar vertel het hy het haar jongste kind, Mariaan*, gereeld verkrag.

Voor daardie nag het sy nie die omvang van sy geweld besef nie. En dié openbaring, beweer sy, het haar verby breekpunt gestuur.

Die verhoor van die ma wat haar man se gruweldade in 2009 deur ’n huurmoordenaar laat beëindig het, het ’n beroering deur die land gestuur. Sy is aan moord skuldig bevind en 25 jaar tronkstraf opgelê.

Maar die slot van dié riller is nog nie afgehandel nie, want jare nadat dit op die spits gedryf is, is daar vir ma en dogter nog geen afsluiting nie.

Susan (nou 58) en Mariaan (nou 27) worstel albei met skuldgevoelens en albei meen sy is deur die ander verwerp. Mariaan, wat herhaaldelik van familielede moes hoor sy is die rede dat haar ma in die tronk is, het opgehou om vir Susan te gaan kuier. Sy sê haar ma verwyt haar.

“Ek kon nie meer nie. Die skuldgevoel het my skouers laat meegee,” vertel Mariaan met oë wat rooi gehuil is.

“Ek wou my rug op die seer keer, maar nou is ek weens my ma en ander se verwyte een van die grootste verloorders in ’n tragedie wat nie my skuld was nie.” En Susan? “Waaraan ek die skuldigste is, is dat ek toegelaat het dat my dogter soveel jare lank in so ’n huis moes grootword," sê sy in die gevangenis in Johannesburg waar sy haar dae slyt.

Maar die swaarste is die gevoel dat Mariaan haar verwerp het.

“Ek was eers kwaad omdat Mariaan my nie besoek nie. Ek het alleen, depressief en verwerp gevoel.” Maar, voeg sy by, “ek besef watter traumatiese rimpeleffek die gebeure van die afgelope 10 jaar op haar moes gehad het. Ek wil haar net vasdruk en liefhê.”

Mariaan klem ’n snesie in haar hand vas hier waar sy op ’n houtstoel in die son sit. Haar grimering is besmeer weens die traanspore wat oor haar wange tot op haar ken rol.

Sy kyk stip na die grond voor haar voete terwyl sy vertel hoe die skuldgevoelens oor haar ma haar met die jare gebreek het. Johan se mishandeling en die daaropvolgende moord het haar van alles beroof: haar onskuld, haar geloof in die mensdom – en nou ook haar verhouding met haar ma.

Jare lank is Mariaan deur haar eie vlees en bloed as ’n skuldige party beskou in ’n moord waarin sy geen aandeel het nie. Foto: Martin De Kock

“My ma was my alles,” sê sy snikkend. “En sy is steeds, al het ons mekaar twee jaar laas gesien. Voorheen was ons onafskeidbaar; ons het alles saam gedoen. Dalk was dit omdat ek die jongste van vyf kinders was.”

Sy voel selfs skuldig omdat sy as skoolkind toegekyk het hoe haar ma verskree en aangerand word, al het haar ma se man daarna presies dieselfde aan haar gedoen.

En toe kom die dag in 2009 toe sy moes kyk hoe haar ma deur die polisie weggelei word vir die moord op Johan.

“Ek kon dit destyds nie glo toe my skraal en liefdevolle ma aan my erken sy het Johan laat vermoor nie. Ek sou nooit kon dink sy is tot so iets in staat nie. Dit was die dae, weke en maande se mishandeling wat haar eindelik gebreek het,” sê Mariaan.

“Die aand met haar inhegtenisneming het sy my in die oë gekyk en gesê: ‘Dis vir jou dat ek hom laat vermoor het; onthou dit net.’ ’’ Dié woorde laat Mariaan glo selfs haar ma verwyt haar heimlik.

Mariaan het twee weke voor die moord uit haar ouerhuis gevlug en by haar kêrel gaan woon. Dalk sou haar ma nie die aand van die moord geknak het as sy tuis was nie, sê sy.

“Maar ek moes net wegkom.”

Die hof het destyds gehoor Susan het ’n huurmoordenaar R6 000 betaal en by die huis ingelaat. Hy het Johan 14 keer met ’n mes gesteek; hy is kort daarna dood. Die moordenaar het Susan toe aan ’n stoel vasgebind om dit na ’n huisrooftog te laat lyk.

Susan beweer die huurmoordenaar het op ’n dag by hul winkel ingestap en gesien hoe Johan haar aanrand. Hy het aangebied om hom te vermoor en sy foonnommer by haar gelos.

“Tien jaar ná my ma se vonnisoplegging voel ek steeds skuldig dat sy alleen in daardie tronk sit,” sê Mariaan.

“Die res van die gesin, met die uitsondering van een van my susters, het my nog altyd beskou as die rede dat my ma agter tralies is.

“Jare aaneen het dit aan my gevreet, tot op die punt dat ek my rug op hulle gekeer het, ook op my ma.” Sy vee haar hare met bewende hande uit haar gesig.

“Die seerste wat ek nog gehad het, is toe ek onlangs moes lees hoe ek my ma weggegooi het; hoe ek haar nie meer wil sien nie.”

Sy verwys na ’n berig deur die aanlyn nuusdiens Times Live waarvolgens Susan aan ’n besoekende afvaardiging van die Gautengse wetgewer gesê het haar dogter het haar verwerp. Die trane vloei weer.

“Sy ken my situasie beter as enigeen. Sy weet hoe moeilik die afgelope paar jaar was. Dat ek werkloos is; dat my man werkloos is; dat ons in die proses by my skoonouers woon om aan die lewe te bly,” sê Mariaan.

‘Ek kan vrede maak met al die seer. Maar nie met die verwerping nie. Ek hoop om eendag weer my ma terug te hê’

“In die afgelope paar maande het ek haar gebel, maar met die laaste oproep was daar doodeenvoudig net verwyte. Ek het selfs ophou briewe skryf, want ek kry geen antwoord nie.

“Ek moes my rug op die seer keer sodat ek in ’n mate vrede kan kry. Ek het nie destyds gevra om in daardie huis te wees nie. Ek was nie daar toe sy besluit het om die moord te reël nie.

“Ek het my aan alles en almal onttrek. Dis ’n verlies waarvan ’n mens nie sommer herstel nie.”

Eers huiwer sy en sê dan: “Ek kan vrede maak met al die seer. Maar nie met die verwerping nie. Ek hoop om eendag weer my ma terug te hê. Want dis wat sy altyd sal bly – my ma – en ek het haar lief.”

Nee, Mariaan het geen skuld aan wat gebeur het nie, sê Susan hier in die tronk se besoeklokaal met sy kil wit mure en houtbankies. As ma voel Susan skuldig omdat haar dogter se mishandeling onder haar neus gebeur het.

“Ek en Mariaan het nog altyd ’n besonder hegte band gehad,” sê sy.

“Sy was my baba. Ek het altyd probeer vergoed omdat ek skuldig gevoel het oor die mishandeling wat sy moes verduur. Sy was altyd verskriklik bang wanneer Johan by die huis was, maar ek was onder die indruk dit is weens sy humeur.

"Ek sou nooit kon raai wat hy werklik besig was om aan my dogter te doen nie.” Sy het nog nooit met Mariaan of met die ander kinders oor die moord gepraat nie, sê Susan.

“Dalk is dit wat ons van mekaar vervreem het. Aanvanklik het ek stilgebly omdat ek hulle nie wou ontstel tydens die kort besoektye wat ek my kinders in die tronk kon sien nie.”

Susan vee ’n traan weg.

“Maar vandag wil ek aan haar sê sy moet die skuldgevoel van haar skouers vee. Ek het haar in die steek gelaat. My grootste begeerte is om haar lief te hê en vir haar te sê: ‘My kind, jy is vlekkeloos.’ ”

* Skuilname.