Zoja Toeganowa (70) het in 1987 die lewe aan ’n dogter in ’n hospitaal in Tsjeljabinsk in Rusland geskenk.

Toe die personeel haar ’n kind gee wat sy nie herken nie, het die vrou begin kla dat hulle haar omgeruil het.

“Sy het ligte hare, ’n ligte vel en groot oë gehad,” sê sy. “Toe hulle die volgende dag die kind vir voeding bring, het ek na haar gekyk en dit was ’n heel ander gesig.”

Dokters het egter geweier om na haar aantygings te luister en aanvaar sy ly aan ’n geestesiekte.

In plaas van om haar bewerings te ondersoek, het hulle haar ’n psigiatriese toets laat ondergaan.

Foto: Magazine Features.

Zoja en haar man het ’n dogtertjie, wat hulle Katja genoem het, grootgemaak. Sy sukkel met ’n hartsiekte.

Die ander vrou, Elwira Toeligenowa, was ’n alkoholis wat Zoja se dogter, wat sy Loetsjia genoem het, grootgemaak het.

Loetsjia moes bedel vir geld vir kos want nie een van haar ouers het gewerk nie, sê Zoja.

Op 13 is Loetsjia in ’n weeshuis opgeneem nadat haar ma aan alkoholisme gesterf en haar pa vir moord tronk toe is.

Zoja sê sy was altyd bekommerd dat sy iemand anders se kind grootmaak, maar het nie verder ondersoek ingestel tot met haar man se dood nie.

“Ek het ’n program gesien waar twee kinders omgeruil is en het hardop begin huil,” sê sy.

Foto: Magazine Features.

Sy het Loetsjia met Katja se hulp opgespoor en ’n DNS-toets het bevestig die twee meisies is omgeruil.

Zoja het intussen ’n eis vir meer as R700 000 se skadevergoeding ingestel.

Katja het ’n agtjarige seun en Loetsjia het drie kinders.