Vandag is sy ’n persoonlike afrigter, fiksheidsmodel, entrepreneur en beroepsliggaamsbouer met boarms wat jou na jou asem sal laat snak.

Want vandat sy op 20 in ’n fiksheidstydskrif geblaai en gesien het hoe ander vroulike liggaamsbouers lyk, het dit haar obsessie geraak: om ook so te lyk.

Sy het vir haarself gesê sy wil dieselfde gespierde voorkoms as die vroue op die bladsye bereik. In 2007 het Theresa vir haar eerste liggaamsboukompetisie geoefen.

Daarna het sy vir Jeff Haran (50) ontmoet wat nou haar verloofde is. Dié afrigter wat in fiksheid en liggaamsboukompetisies spesialiseer, het haar haar oefenprogram help verbeter. 

View this post on Instagram

A post shared by Theresa Ivancik Ifbb Pro ?? (@tivancik_ifbbpro)

Jeff het mooi vir haar ’n plan uitgelê om haar doelwit te bereik: Sy moes haar kilojoule-inname van sowat 3 345 tot 7 530 verhoog as sy in liggaamsbou wou uitblink.

In 2008 het Theresa en Jeff begin werk aan haar mikpunt om ’n persoonlike afrigter en IFBB-beroepsatleet te word.

Theresa, wat 68 kg weeg, het geleer kos is belangrik om haar lyf krag te gee, en sy het die deurmekaar etery gestaak wat haar daarvan weerhou het om haar doelwitte te bereik.

Sy volg ’n streng dieet om die resultate te bereik. Wanneer sy vir ’n kompetisie voorberei, bestaan haar etes gewoonlik uit eierwit, spinasie en koffie vir maaltyd een; kabeljou, rys en murgpampoentjies vir maaltyd twee; hoender, rys en broccoli vir haar derde maaltyd; weer kabeljou, rys en murgpampoentjies vir maaltyd vier; hoender, patat en broccoli vir maaltyd vyf en eierwitte en spinasie vir maaltyd ses – alles met amper 4 L water afgesluk.

Theresa oefen drie dae agtermekaar in ’n druk-, trek-, bene-verdeling waar sy elke dag op ’n ander deel van haar lyf fokus voor sy ’n dag afvat om te rus.


Vir Theresa is geduld in liggaamsbou deurslaggewend, en sy is gretig om die belangrikheid daarvan met nuwe deelnemers aan die sport te deel. Theresa het 209 000 volgelinge op Instagram onder die naam @tivancik_ifbbpro en sy kry daagliks boodskappe van aanhangers en bewonderaars wat van haar voorkoms hou en haar ondersteun.

“Ek kry altyd sulke wonderlike kommentaar van mense wat vir my sê ek lyk wonderlik en hoeveel werk en toewyding dit verg, en mense wens hulle kan dit so goed soos ek doen. Ek kry ’n groot hoeveelheid likes en baie goeie kommentaar, steun en liefde op Instagram. Ek ignoreer of wis gewoonlik die boodskappe uit wat ek voel nie geskik is nie en as dit sleg genoeg is, blokkeer ek hulle.

“Ek reken almal kry ’n kans op my blad en as hulle dit wil bederf, sal ek hulle dadelik blokkeer. Ek doen dit, want as hulle dit een keer doen, sal hulle dit weer doen. Hulle sal nooit iets gaafs hê om te sê nie. Ek elimineer net alle negatiwiteit van my blad af. Ek is baie positief in wat ek wil hê mense moet sien en dis hoekom ek alles sif.”

“Ek ontvang selde sulke boodskappe, maar dit is eenvoudig onvanpas en onbeskof. Mense sê goed soos ‘walglik’ of ‘Wat is sy naam?’ of ‘Is dit ’n ou of ’n meisie?’. Die ding is, ek verstaan nie hoekom mense die behoefte het om hul mening oor iemand se droom uit te spreek nie. Hoekom word ek gekruisig vir iets wat ek graag doen?"


“Voor liggaamsbou was ek terneergedruk en onseker oor baie goed in die lewe en oor wat ek wou wees,” sê Theresa.

“Ek was kleintyd bitter skaam – veral in groot groepe. Nou het ek liggaamlik en geestelik in ’n baie sterk vrou ontwikkel. Ek hou daarvan om ander mense hul doelwitte te help bereik en my kennis aan ander oor te dra om hulle te help sukses behaal.

“Ek hou van hoe liggaamsbou my geestelik en liggaamlik laat voel en hoe ons altyd ’n doelwit het om te bereik. Ons probeer altyd die volgende beste weergawe van onsself wees. Dit gaan nie oor wat jy aan die buitekant sien nie. Daar is ook gesondheidsvoordele aan wat aan die binnekant aangaan. Maer liggaamsmassa is die beste ding vir die liggaam. As vroue moet ons harder werk, want ons veg meer teen hormone as ’n man.


Deur die jare het Theresa al aan verskeie byeenkomste deelgeneem. Maar haar grootste prestasie nog, is haar bywoning van Olympia verlede jaar. Nou wil sy die kompetisie wen en as die beste ter wêreld aangewys word.

“Die moeilikste deel is om die stelsel te vertrou en die dieet tyd te gee,” sê Theresa. “Dit is ’n sport en dit verg jare om jou lyf te vervolmaak. Dit gebeur nie oornag nie.

“My grootste prestasie was om Olympia te haal. Nie almal kry die kans om op daardie verhoog te staan nie en dit was ’n eer om tot daar te kom. Die volgende doelwit is om Olympia te wen en as die beste ter wêreld aangewys te word.

“Liggaamsbou gaan oor eet, slaap en oefen en dit is ’n leefstyl. Wees dus bereid om baie tyd daaraan te bestee om jou kuns te vervolmaak.”