Die baba se gehuil in die motor was oorverdowend. Sy ma het presies geweet wat haar kind nodig het: ’n bottel en ’n skoon, droë doek.

Maar hulle was in die middel van nêrens, op pad terug huis toe ná die vakansie, en nêrens was ’n plek waar haar man veilig kon stilhou nie.

Tracy Todd, wat byna 21 jaar gelede in ’n motor­ongeluk van die nek af ondertoe verlam is, moes al baie uitdagings konfronteer. Nou het sy eindelik weer geluk gevind. Foto: Lubabalo Lesolle.

Namate die minute verbygetik en die huilery knaend voortgeduur het, het dit vir Tracy Todd (48) net te veel geword. Sy moes by haar seun uitkom. Toe maak sy haar sitplekgordel los en klim oor op die agtersitplek om hom te versorg.

Dis ’n toneel waarmee die meeste ouers hulle kan vereenselwig, veral dié tyd van die jaar wanneer baie mense van vakansie af terugry. Vasgevang op die bedrywige paaie en desperaat om by die huis te kom; baie ma’s sou presies dieselfde gedoen het.

Maar Tracy waarsku: Moenie! Sy onthou die ongeluk asof dit gister gebeur het.

“Dit was die 13de April 1998,” vertel sy.

Tracy (toe 28), haar man, Craig, en hul 10 maande oue seun, Chad, was op pad na hul huis in Mbombela, Mpumalanga, ná ’n twee weke lange vakansie in die Oos-Kaap.

“Ons was hoogstens twee uur se ry weg van die huis af en kon nie wag om tuis te kom nie,” vertel Tracy.

“Ons het heeldag gery en ons hondjie was saam met ons in die motor.”

Toe Chad onrustig word en begin huil, het Tracy na die agtersitplek oorgeklim om hom te troos. Maar net toe sy hom uit sy motorstoeltjie haal, het die ondenkbare gebeur: Die motor voor hulle het skielik gestop.

Craig het beheer oor hul motor verloor en dit het voor aankomende verkeer ingeswenk. Die kar het gerol en Tracy, wat steeds nie vasgegespe was nie, is kop eerste teen die dak geslinger.

Tracy saam met haar seun, Chad. Hy was nog ’n baba ten tyde van die ongeluk. Foto: Verskaf.

Toe die motor eindelik ophou rol, het Tracy skaars ’n skraap aan haar lyf gehad, maar sy het geweet iets groots is fout. Sy kon haar arm in haar skoot sien rus, maar sy kon dit nie voel nie.

Op daardie oomblik het sy besef sy het haar nek gebreek.

Maar al waarop sy kon fokus, was om haar baba op te spoor. Sy kon Chad hoor huil, maar kon nie haar kop draai om te sien waar hy was nie.

“Ek het vir my man gesê om hom te soek. Ek was nie seker of hy uit die motor geslinger is nie, maar gelukkig was hy steeds binne.”

Craig, Chad en die hond was almal ongedeerd, maar Tracy was nie naastenby so gelukkig nie.

Sy is na ’n staatshospitaal in Standerton, Mpumalanga, geneem. Nadat vasgestel is haar ruggraat is tussen die vierde en sesde nekwerwel beskadig, is sy per lugambulans na die Life Eugene Marais-hospitaal in Pretoria oorgeplaas.

Daar het dokters ’n noodoperasie uitgevoer deur been uit haar heup te haal om haar nek mee te stabiliseer. Al was Tracy verlam, het dit nooit by haar opgekom dat sy nie weer sal kan loop nie.

“Selfs toe ek in die waakeenheid wakker word en ek nie op my eie kon asemhaal nie, het ek net geglo ek sal beter raak en uit die hospitaal loop. Want dis wat jy heeltyd hoor; jy hoor altyd die wonderwerkstories.”

Die werklikheid het eers ses weke later, toe sy eindelik huis toe gaan, begin insink. Sy is ’n kwadrupleeg, wat beteken sy kan geen deel van haar liggaam buiten haar kop beweeg nie.

“Jy kan skielik niks doen nie,” vertel sy toe ons haar by haar huis in Mbombela besoek.

“Die ergste was om my baba te hoor huil en hom nie te kon optel nie. Jy het nie meer enige privaatheid of onafhanklikheid nie.”

Sy het voorheen as ’n gr. 2-onderwyseres gewerk, maar haar toestand het dit onmoontlik gemaak om daarmee voort te gaan. Dit was vir haar moeilik om so van ander afhanklik te wees, en binne 18 maande ná die ongeluk is sy en haar man geskei.

Ná die egskeiding het sy nog depressiewer geraak en selfs selfdoodgedagtes gehad.

“Ek het gedink: Wie sal my ooit weer liefhê? Niemand wil my hê nie. Ek is ’n las vir my ouers en die samelewing,” onthou sy.

Haar seun het by sy pa gewoon, maar hy het namiddae en elke tweede naweek by haar deurgebring. Met behulp van ’n span versorgers kon sy in al sy behoeftes voorsien.

Vandag is hy 21 jaar oud, en vir hom was Tracy nog altyd net ma. Foto: Verskaf.

Maar al het sy haar seun sien grootword, het sy tog soms gewonder of dit nie vir hom beter sou wees as sy in die ongeluk dood is nie.

“Eendag het ek genoeg gehad en een van my versorgers oorreed om my by die hek te laat uitgaan. Ek het haar gesê ek gaan by een van my vriende in die straat kuier, maar toe sien sy ek slaan ’n ander koers in,” vertel sy.

Teen dié tyd het Tracy reeds ’n elektriese rolstoel gebruik.

“My plan was om tot by die hoofstraat te kom en voor ’n vragmotor of bus in te ry.”

Gelukkig het haar versorger agter haar aangehardloop en aangedring dat sy huis toe kom. Maar dit het nog ’n ongeluk geverg om haar lewensbeskouing te verander.

Toe sy in 2004 saam met ’n vriend in ’n helikopter was, het die tuig amper in ’n piesangplantasie naby Hazyview, Mpumalanga, neergestort. Die vlieënier het ’n suksesvolle noodlanding uitgevoer en Tracy is nie beseer nie.

Sy sê nadat sy dié ongeluk ook oorleef het, het sy besef “daar is ’n plan”.

“Ek moet hier wees,” sê sy.

Kort daarna het Tracy motiveringspraatjies begin lewer. Haar eerste praatjie was by ’n kerk, en na aanleiding van die positiewe reaksie daarop het sy daarmee volgehou. Gehore het by haar aangrypende verhaal aanklank gevind.

“Mense reageer gewoonlik baie positief en word dikwels daaraan herinner dat hulle soveel dinge in hul lewe as vanselfsprekend aanvaar,” sê sy.

Die reaksie was trouens so goed, dit het haar geïnspireer om haar memoires, Brave Lotus Flower Rides the Dragon, te skryf.

Dit het in 2017 verskyn.

Roy Heine het die Comrades namens Tracy gehardloop nadat hulle mekaar aanlyn ontmoet het. Foto: Verskaf.

In ’n pluimpie op Tracy se webtuiste onthul die hardlooplegende Bruce Fordyce watter groot uitwerking die boek op hom gehad het.

Die Comradeskampioen erken hy het ’n paar jaar gelede terneergedruk gevoel, want dokters het hom gewaarsku hy sou weens gesondheidsprobleme dalk nooit weer hardloop nie.

Gelukkig was dit toe nie die geval nie, maar hy sê nadat hy Tracy se boek gelees het, het hy besef “hoe onbenullig en selfsugtig” sy probleem was.

Tracy verdien haar brood deur haar skryfwerk en praatjies.

’n Groot deel van haar inkomste word gebruik vir die salarisse van die vier assistente wat haar versorg.

Ondanks al haar swaarkry is sy vir soveel dinge dankbaar. Pragtige troufoto’s versier die mure van haar leefvertrek.

Ná jare van enkellopend wees en ’n mislukte poging tot ’n verhouding het Tracy in 2009 die sprong gewaag en aanlyn na ’n maat begin soek.

“Ek was baie eerlik. Ek het gesê ek is van die nek af ondertoe verlam en ek het foto’s van my in my rolstoel geplaas sodat geen misverstand kon plaasvind nie,” sê sy.

Sy het wonderlike mans ontmoet, maar een het bo die res uitgestaan. Roy Heine, ’n argitek, het in Port Elizabeth gewoon en was die voorsitter van sy hardloopklub.

Toe Tracy hom sê sy is spyt sy het nooit die Comradesmarathon gehardloop nie, het hy aangebied om dit namens haar te hardloop.

“Ek het hom nie regtig geglo nie tot ek hom die eindstreep sien oorsteek het met ’n plakkaat wat lui: ‘For my friend Tracy Todd.’"

’n Maand daarna het Roy die eerste keer by Tracy gaan kuier. Die liefde het geblom en kort daarna het hy Mbombela toe getrek om by haar te wees.

Die twee is in 2016 getroud. Foto: Verskaf.

Toe die twee in 2016 trou, het Tracy se gesin uitgebrei – sy is nou ’n toegewyde stiefma vir Roy se tweeling, Timothy en Philip (27).

Sy is ook baie trots op haar seun. Chad (nou 21) kan glad nie onthou hoe sy ma voor haar ongeluk was nie.

“Dis amper ’n bedekte seën,” sê Tracy. “Vir hom is ek net ma.”

Ná wat met haar gebeur het, raak sy nou hoogs ontsteld wanneer sy mense sonder ’n sitplekgordel sien ry.

“Benewens dat jy die wet oortree, kan dit lewensveranderende gevolge hê – nie net vir jou nie, maar ook vir jou gesin.”