Sy weet nie hoe lank sy onder die omgekeerde bakkie vasgekeer was nie. Maar sy onthou die verskriklike pyn. Haar linkerbeen was vasgepen en sy het bloed gehoes. Die reuk van diesel en geskroeide rubberbande was in haar neus en warm enjinolie en batterysuur het oor haar gedrup. Sy kon nie haar verloofde en die drie kinders sien nie. Sy het na hulle geroep en geroep, maar daar was net die aaklige stilte . . .

Die 38-jarige Lunelle Kotzee kon dit nie toe al weet nie, maar Danie Breytenbach (33) en sy kinders, Melisha (4) en Duncan (8), asook Lunelle se seun, Luan (16), was reeds dood of sterwend. Kort tevore was hulle nog dolgelukkig op pad terug na Heidelberg in Gauteng ná ’n heerlike Kersvakansie op die KwaZulu-Natalse kusdorp Ballito, maar toe verander ’n fratsongeluk haar lewe onherroeplik.

Agter van links is Luan, Lunelle en Danie en voor Melisha en Duncan vrolik op Ballito, waar hulle voor die tragedie vakansie gehou het.

Die donkerkop huil kort-kort terwyl sy praat oor die trauma van daardie dag, 3 Januarie. Sy verduur nog baie pyn weens ’n gebreekte skouer en brandwonde aan haar bene, wat deur suur of warm enjinolie veroorsaak is. Maar haar geestelike lyding is veel erger, sê Lunelle.

“My hart is gebreek en dis ’n fisieke pyn. Dit voel of iemand my hart platdruk. Om asem te haal is seer.”

Lunelle, wat by haar suster, Riana Hendriksz, op Heidelberg woon sedert sy onlangs uit die hospitaal ontslaan is, se hande bewe terwyl sy verder vertel: “Ek het na Luan geroep en ek’t gebid en ek’t geroep na Danie en die kinders. Ek het geskree: ‘Luan, antwoord my; waar’s jy?’

”Sy sou eers later hoor Danie en die kinders is uit die rollende dubbelkajuitbakkie geslinger omdat hul sitplekgordels nie vas was nie. Lunelle s’n was vas, maar het gebreek weens die geweld van die ongeluk en sy het halfpad uitgeval. Van die luikrugmotortjie wat daar naby Villiers in die Vrystaat van agter teen hulle gebots het, het sy niks geweet nie. Ook nie hoe lank sy onder die bakkie gelê het voor ’n groep mans opgedaag het nie. Hulle moes ’n domkrag gebruik om die bakkie van haar te lig.

“Almal het my heeltyd probeer kalm hou en gesê my familie is oukei, maar ek het geweet hulle jok,” sê sy. Eindelik het iemand haar vertel Danie en Duncan is dood en Melisha en Luan baie ernstig beseer.

Ek is nie ’n weduwee nie . . . Daar’s nie ’n naam vir my nie.
Haar geliefdes wat nie meer daar is nie. Van links is haar verloofde, Danie Breytenbach, seun, Luan, en Danie se kinders, Duncan en Melisha. Lunelle het hulle in ’n restaurant afgeneem onderweg na hul heel laaste seevakansie saam.

“Maar dit het nie by my ingesink nie,” sê Lunelle. Nadat sy bevry is, het sy haar seun vlugtig gesien toe hulle hom in die ambulans laai. “Luan het sy kop gelig en ek het sy been sien beweeg, toe dink ek hy’s oukei.”

Dit was eers heelwat later die aand dat Lunelle in haar bed in die Netcare-Unie-hospitaal in Alberton gehoor het haar seun is tydens die ambulansrit dood.

“Ek kon dit nie verstaan nie,” vertel Lunelle deur haar trane. Sy haal ’n slag diep asem voor sy verder praat: “Ek het altyd gehoor ma’s se hart kan voel as hul kind dood is, maar dis nie waar nie. My hart het eers gebreek toe hulle vir my sê my kind is weg . . .”

Lunelle, ’n kredietbestuurder, het Danie in 2013 ontmoet. Sy vertel sy was besig om te bestuur toe sy ’n aantreklike ou in die voertuig langs hare opmerk. Sy het haar telefoonnommer op ’n stuk papier teen haar motorruit gehou vir hom om te sien. Die jong projekbestuurder het haar gebel en hulle het van hul eerste afspraak af gekliek.

Albei was geskei en hul kinders uit hul vorige huwelike het goed oor die weg gekom. Lunelle het veral ’n sterk band met Danie se klein Melisha gevorm.

“Dit was lekker om ’n dogter in my lewe te hê. Al die kinders was soos ons eie.”

In 2016 het hulle verloof geraak. Lunelle, Danie en hul kinders het soos een gelukkige gesin saam in hul huis op Heidelberg gewoon. Die verloofde paartjie sou einde vanjaar getrou het. Die seevakansie was heerlik, vertel Lunelle met ’n glimlag.

Lunelle en Danie sou einde vanjaar getrou het

“Ons is vir amper drie weke Ballito toe om Danie se broer se huis op te pas. Die manne het videospeletjies gespeel en ek en Melisha het skulpies opgetel en ons make-up gedoen. Melisha het so ’n make-up-tafeltjie vir Kersfees gekry. Sy’t die vakansie so baie gelag en was so gelukkig. Die dae op die strand was perfek. En ek en Danie het nog nader aan mekaar geraak.”

Hulle het twee dae vroeër as beplan die terugtog aangepak. “Ons was net reg om huis toe te gaan. Almal was gelukkig en het grappies gemaak,” vertel sy. Net ’n uur voor Heidelberg het die twee seuns ’n nood gehad. Danie het langs die pad gestop.

“Die laaste ding wat Luan vir my gesê het, was: ‘Mamma, nou het die koeie my sien piepie.’ ”

Die seuns het weer agter by Melisha ingeklim. “Ons het net weer begin ry; ek was nog besig om vir ons musiek op my foon te soek . . .” Sy het nooit die slag gevoel of gehoor nie – net eensklaps besef die bakkie is besig om “gat oor kop” deur die lug te trek.

“Dit het soos ’n ewigheid gevoel.”

Lunelle sê sy mis haar Luan-kind se grappe en hoe hy haar en ander altyd kon gerusstel.

Sy sou eers later hoor wat gebeur het. Hul bakkie het in die linkerbaan van die N3-snelweg gery. Skuins agter hulle in die regterbaan het ’n motortjie se band gebars. Dié voertuig se neus is onder die bakkie in en het veroorsaak dat dié se stert in die lug opwip. Die vyf insittendes van die ander motor is nie beseer nie.

Lunelle het onder die bakkie tot verhaal gekom. Terwyl sy vergeefs na Danie en die kinders geroep het, was sy angsbevange dat die voertuig aan die brand sou slaan. Sy ly aan engtevrees en sal daardie tyd onder die wrak nooit vergeet nie.

“Daardie reuk van diesel en tyres wil ek nooit weer ruik nie.”

Danie is op slag dood. Duncan is op die toneel dood voor hulp opgedaag het. Melisha is, nes Luan, dood verklaar met hul aankoms by die hospitaal. Lunelle was ’n maand in die hospitaal met haar gebrande bene, gebreekte skouer en ’n platgevalde long.

Die hospitaal het haar egter toegelaat om Luan se roudiens 11 dae ná die ongeluk by te woon en Danie en sy kinders s’n twee dae later. Aan haar vinger dra sy Luan se ring. Om haar pols is Danie se armband.

“Wat noem ’n mens my? Ek is nie ’n weduwee nie. ’n Ma wat haar kind verloor het, haar verloofde en stiefkinders? Daar’s nie ’n naam vir my nie.”

Om haar nek hang engelvlerkies.

“Luan se pa (haar eks, Deon Kotzee) het ná ons seun se dood vere in sy huis aangetref. Dis ’n teken hulle is in die hemel. Ek kry nou oral veertjies en weet dis van hulle.”

Danie en sy kinders kyk uitbundig vir die kamera.

Emosioneel gaan dit nog swaar met haar. “Gisteraand het ek ’n breakdown gehad. Ek het nog nie voor gisteraand aan Luan se as geraak nie. Dit was in ’n kas gebêre. Maar gisteraand het ek die kissie teen my bors vasgedruk en so op die vloer my oë uitgehuil.”

Ná die roudienste is sy vir oulaas na die huis wat sy met Danie en die kinders gedeel het. “Dit was baie emosioneel.

Ek kon hulle nog daar ruik, maar ek sou nie afsluiting kon kry nie.”

Sy weet Danie, Luan, Melisha en Duncan se ander geliefdes sukkel ook met hul verlies.

“Melisha en Duncan se mamma het haar kinders verloor. Danie se ouers het hul kind en kleinkinders verloor.

“Ek wil nie alleen oud word nie. Ek weet nie hoe enigiemand Danie se skoene sal vol staan nie, maar ek het hoop vir die toekoms.” 

Foto's: Fani Mahuntsi, verskaf