Beverley Dickenson (49), wat as tuinier op die graaf van Pembroke se Wilton-landgoed gewerk het, se man, David, het haar ’n week ná haar dogter, Charlotte Dunne (26), se tragiese sterfte dood aangetref, berig Metro UK.

“Glo my, ’n mens kan nooit sê wanneer iemand dit gaan doen nie," het Beverley se seun, Joe, aan The Times gesê.

"My suster was piekfyn; my ma ook. Niks het daarop gedui iets skort nie."

In ’n Facebook-inskrywing skryf Charlotte se pa, Neil: “Ek, Joe en die hele familie wil graag vir julle baie dankie sê vir die liefde wat ons in dié moeilike tyd ontvang het. Ons het ’n wonderlike hoeveelheid vriendelikheid ervaar van diegene van julle wat Charlotte geken het. ’n Mens kan sien sy het baie lewens aangeraak.”

Die familie kon meer as R90 000 vir die begrafniskoste insamel, berig Daily Mail online. Voor die predikant Mark Wood gister sy preek begin het, het hy gesê: “Ons rou oor hulle albei. Dit is hartverskeurend; dit is ontsettend hartseer. Ek sal beslis vandag in my dienste vir hulle bid.”

Samantha Stephens, wat Charlotte goed geken het, het aanvanklik met die geldsinsameling begin met die mikpunt om sowat R50 000 in te samel. “Charlotte was sorgsaam, vriendelik, snaaks en pragtig, en ek weet ons sal haar almal vreeslik baie mis,” het sy van die 26-jarige gesê.

“Dit is nou belangrik om die wonderlike herinnerings te koester wat ons met haar gedeel het en om te onthou dit is nie tot siens vir altyd nie.”

Die bevinding van ’n nadoodse ondersoek na Charlotte se dood was dat sy haarself by haar huis opgehang het. ’n Doodsondersoek na Beverley se dood is op 17 Junie gehou en daar is ook bevind sy het haarself gehang. Albei ondersoeke is afgehandel.

“As ’n dorp voel ons uiters hartseer oor wat gebeur het,” het Wilton se burgemeester, Peter Edge, gesê.

Bronne: Metro.co.uk, Dailymail.co.uk, Thetimes.co.uk