“Ek kan niks hoor nie.”

“Glad niks nie?”

“Eerlikwaar, net ’n suising. Is dit nie hier waar hy laas was nie?”

“O, maar dit was baie vroeg vanoggend. Kom ons soek hom.”

Ek sug en haal die oorfoon uit my oor. Ek is saam met Ronny Makukule en Jess Wilmot, twee ervare veldwagters, op die spoor van ’n olifantbul genaamd Bulumko in die verre noordooste van Suid-Afrika.

Ek het verwag om ’n duidelike sein van die opsporingshalsband te hoor wat Bulumko nou al ’n paar jaar lank dra. Die halsband kommunikeer met ’n satelliet; daarom kan ons van ver af weet waar hy rondbeweeg, maar nie vandag nie.

Pleks daarvan is daar geen teken van hom nie, net ’n GPS-punt aanloklik naby wat ons ure gelede gekry het toe hy hier gewei het. Ek voel nogal omgekrap dat die tegnologie my in die steek gelaat het.

Foto: Verskaf
Blinde Bulumko

Ronny fynkam reeds die horison vanaf die seildak van ons bakkie, wat onder werknemers van Elephants Alive as “Shrek” bekend is. Dit is byna herfs, maar die dagtemperatuur kan steeds tot 34 styg, en Shrek is naas ’n swembad die beste plek waar jy kan wees. Skielik glimlag Ronny.

“Daar’s hy! In daardie groot klomp bome!”

Ek lig die verkyker. Ronny is reg. Bulumko. Hy is ’n tamaai en indrukwekkende bul in sy fleur, oud genoeg om kenmerkende kepe in sy ore te hê.

Hulle het waarskynlik aan takke of dorings vasgehaak. Hoe ouer olifante word, hoe meer geneig is hul ore om verweer te raak. Hy het ook twee slagtande wat voor uitstaan – nie naastenby die grootste wat ek al gesien het nie, maar elk meer as ’n meter lank.

Bulumko se naam beteken wysheid, maar wat my nog altyd getref het, is hoe hy beweeg.

In sy slentergang voel-voel hy die bome met sy slurp en bepaal tydsaam sy roete. Hy verkies om langs die grondpaaie te stap waarop ons ry. Af en toe talm hy langer as die ander bulle by waterbronne.

Soos elke olifant wat ek al leer ken het, het Bulumko sy eie eienaardighede en unieke eienskappe. Maar afgesien daarvan is hy steeds effens anders. Bulumko is blind.

In baie spesies sal ’n blinde individu eenvoudig nie oorleef nie. Maar sig is nie so belangrik vir olifante soos vir ander diere nie. Gehoor en reuk is veel noodsaakliker. Nie net het Bulumko ’n manier gevind om die wêreld sonder sig baas te raak nie; ook om sy sosiale lewe te hanteer.

Hy kan ander bulle verdryf om by die varsste water uit te kom of in ’n goeie skadukol te rus. Ander diere aanvaar hom beslis. Danksy sy grootte, ouderdom en tande is hy selfs dominant. Ons verhouding met Bulumko is uitsonderlik.

Foto: Verskaf
Dié jong bulletjies het almal gelyk by die watergat opgedaag. Die volgorde waarin hulle drink – en wie in die skadu mag staan – gee ons baie inligting oor hul onderlinge verhoudings.

Terwyl die ander olifante wat ons dophou aan ons teenwoordigheid gewoond raak, aanvaar Bulumko ons as vriende en medereisigers. Ons kan ure lank by hom by ’n watergat bly terwyl hy daar baai. Wanneer hy wegbeweeg, brom hy, ’n kort maar lae en welluidende klank wat aandui ons moet hom volg – kom ons gaan! Ek wonder dikwels of dit juis vanweë Bulumko se blindheid is dat hy so met ons kommunikeer.

Vir hom is ons meer as waarnemers; ons is byna nog ’n olifant. Omdat hy ons nie kan sien nie, is dit dalk vir hom makliker om met ons as metgeselle te kommunikeer en is ons motor vir hom soos nog ’n groot dier.

Opgewonde om weer met Bulumko “te praat” klouter ek van die dak af, reg om te ry na ’n kol waar ons hom beter kan sien. Ek glimlag vir Ronny en Jess. “Wat kan nou beter wees!” Jess lag en skud haar kop vir my. Maar dit is regtig wat ek wil hê – dat ’n olifant my soos ’n olifant behandel. Toe laat Jess Shrek se swaar enjin brul, en ons ry na Bulumko toe en laat ’n stofstreep agter.

Dit was nie onvermydelik dat my lewe so sou verloop nie: gedefinieer deur olifante – hul lewe, bewegings en gewoontes. Ek het nie soos Ronny in die bos grootgeword nie. Ek is nie soos hy en Jess Suid-Afrikaans nie.

As jy my op sewe gevra het wat ek wil word wanneer ek groot is, sou ek gesê het Indiana Jones of David Attenborough. Maar daardie vroeë drome het vervaag toe ek as student aan die King’s College in Cambridge, Engeland, besluit het ek wil ’n lewende organisme bestudeer deur te ondersoek hoe dit gebore word, groei, voortplant (of nie) en doodgaan.

Ek het met primate begin, maar later besluit dit sou interessanter wees om ’n dier met ’n selfs stadiger lewensverloop te bestudeer. Ek het met ’n lys begin en “walvisse” neergeskryf. Die gedagte aan seesiek word het my amper laat stik. Ek het dit doodgekrap. Toe skryf ek “olifante” neer – en daarmee het my lewe ’n ander koers ingeslaan.

Wat is ’n olifant? ’n Gunstelingkarakter in ’n kinderboek, ’n oorlogswapen, ’n godsdienstige ikoon, ’n trekdier, ’n pes, ’n simbool van natuurbewaring, ’n bron van inkomste, ’n verlies aan inkomste, ’n jagtrofee, ’n toeristeaantreklikheid, ’n skrikwekkende gedierte, ’n sagmoedige reus, ’n bron van ivoor of ’n bron van mag.

Olifante is dit alles, en die uiteenlopende antwoorde illustreer die kompleksiteit en geskiedenis van ons verhouding met ons grootste landsoogdier. Min diere ontlok so ’n innige passie en soveel botsende menings. Dit tref my dikwels dat dié reusagtige diere soveel betekenis, simboliek en soms bagasie saamdra – maar ten minste het hulle die krag daarvoor.

Wanneer ek sê ek werk met olifante, het die meeste mense reeds ’n vooropgestelde idee waarmee ek moeilik kan meeding. Maar my beskouing van olifante is so persoonlik soos enigiemand anders s’n. Vir my is olifante die grootste, mees ingewikkelde raaisel wat ek al teëgekom het, en hulle boei my eindeloos.

Ek is steeds nuuskierig oor hoe olifante evolusionêr sin maak met hul lang lewe, ondoeltreffende dermkanaal en stadige voortplanting in ’n wêreld waar dit ’n opsie is om klein te wees en vinnig voort te plant en te vermeerder.

Foto: Verskaf
Die Britse ekoloog Hannah Mumby het jare bestee aan navorsing oor olifante.

Hoe het dit gebeur dat ons reuse in hierdie wêreld het? En hoe leef ons met hulle saam? Om antwoorde op van dié vrae te kry, sal jy bereid moet wees om jou hande vuil te smeer.

olgende keer wanneer jy op safari is en dit veilig is, vra jou gids om vir jou ’n bol olifantmis op te tel. Jy kan dit reg rondom meet, die omtrek of net een van die kante meet en die langer en korter mates neem en die gemiddeld bereken om die deursnee te kry. As die deursnee minder as 12 cm is, is dit ’n jong olifant, jonger as 15 jaar of so – 10 cm sal ’n kalf van sowat 10 jaar wees.

En kyk ook na die samestelling van die mis – jy sal opmerk dit lyk nie of dit baie goed verwerk is nie. Dis normaal; olifante is agterdermverteerders, nie herkouend soos ’n bees nie; daarom is daar steeds heelwat sigbare plantinhoud.

As jy ooit ’n Asiatiese en ’n Afrikaolifant volgens hul tande moet onderskei, kan jy van die slagtande vergeet, want die maaltande kan jou meer help. Lê die twee tande langs mekaar neer en kyk na die berge en dale. Die Afrikaolifant se tande sal riwwe soos diamante hê, terwyl die Asiatiese olifant s’n soos parallelle lyne lyk wat net-net aan mekaar raak.

Olifante kry tot ses stelle maaltande in ’n leeftyd, en namate die laaste stel verweer, kan hulle nie hul kos meer so goed maal nie. Hulle doen dan dinge soos om die gras wat hulle vreet eers versigtig af te stof. Hulle kies ook sagter kos wanneer hul laaste stel maaltande begin afslyt. In party groot misbolle sal jy stokke en baie onverteerde materiaal kry – ’n teken van ouderdom wat jou aan die kringloop van ’n olifant se lewe herinner. Jy kan dalk ook ’n padda daarin kry – ’n herinnering dat paddas soms in misbolle leef, glo dit of nie.

Ek het dit nog nooit aan Afrikaolifante gesien nie, maar wanneer hulle ouer word, begin Asiatiese olifante se vel bleek word met sproete en donker pigmentasie. Dit is pragtig. Maar daardie onreëlmatige pigmentasie maak nie van hulle wit olifante nie.

Vir daardie etiket is daar baie spesifieke kriteria. Ek het dié kriteria nie nodig gehad toe ek die eerste keer ’n wit olifant gesien het nie. Ek het net geweet. Wit olifante is lankal ’n simbool van prestige en mag in die meeste Boeddhistiese lande in Suidoos-Asië.

In die hoofstad van Mianmar, Nay Pyi Taw, het die gesag van die olifante nie vervaag nie. Toe ek die land laas besoek het, was daar ’n volwasse olifantkoei en twee jong wit olifante. Die jongste was haar kalf wat in gevangenskap gebore is.

Foto: Verskaf
’n Wit­olifantkalfie in Mianmar. Hy het ’n sterk band met sy speelding.

Toe ek die wit kalf die eerste keer ontmoet, het hy met ’n buiteband en ’n bal gespeel, bekoorlik en oulik. Die volgende keer, net ’n jaar later, het hy reusagtig groot geword en was nou sterk en spelerig. Piesangbederfies het sy groei aangevuur, en ek het gehoop hy en die mense wat hom versorg, sou veilig wees en sy jeugdige geesdrif kon beteuel.

Al drie wit olifante het my aan mammoete herinner, hul hare dik en golwend in weerbarstige, blonde stringe. Ek het my hand op die oudste koei, die ma, se sy gesit. Haar vel was pienkerig, nes myne, maar ’n bietjie harder. Haar oë was blouer as myne, pêrelagtig en amper reënboogkleurig. Die lig laat hulle van kleur en helderheid verander.

Ek het nie haar naam geken nie, toe fluister ek vir haar “Sin phyu daw” – dit beteken “wit olifantkoningin”. Die ontmoeting met haar het my verstand te bowe gegaan.

Vir die meeste mense is die kenmerkendste eienskap van olifante hul grootte. Daar is ’n rede hoekom die naam van ’n gedoemde olifant, Jumbo, ’n woord vir enigiets reusagtig groots geword het. In sy lewe moes hy dit verduur dat mense hom van Soedan na Parys, toe na Londen en daarna na Noord-Amerika vervoer.

Foto: Verskaf
Navorsing met Asiatiese olifante. Hulle word gemeet, monsters word van hul mis geneem en hulle word op ’n houtskaal geweeg. In Mianmar raak olifantdrywers baie geheg aan hul dier.
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

Hy was ’n vertoonstuk in ’n tyd van ontdekking, ’n simbool van die koloniale era se Wedloop vir Afrika, ’n steunpilaar in die nywerheidsomwenteling en ’n ster wat in die Nuwe Wêreld sukses behaal het. Hy het oor die Brooklynbrug gestap om te wys hoe veilig dit is en het skares in Parys en Londen en toe in Times Square gelok.

Maar alles het in 1885 tot ’n einde gekom toe ’n lokomotief Jumbo getref en sy lewe op net 24 jaar kortgeknip het. Ontario, Kanada, waar hy dood is, was myle verwyderd van die habitat van sy spesie, maar sy mitologie was groter en het langer as sy fisieke teenwoordigheid voortgeleef.

En dit sê heelwat, want hy was massief met ’n skouerbreedte van 3,2 m. As sy lewe nie so skielik beëindig is nie, sou hy dalk 4 m bereik het – die hoogte waartoe die sirkuseienaar P.T. Barnum dit in elk geval aangedik het.

Foto: Verskaf
’n Groot werkende bul in Mianmar. Sy slagtande is afgevyl om beserings te voorkom.

Daar is iets fundamenteel hartseer daaraan as ’n reuseolifant ’n swakheid toon. Ek kan my net voorstel hoe sy jare lange hanteerder, Matthew Scott, gevoel het toe Jumbo sterwend daar lê. Ons het nog sy skelet, die punt van sy stert en die eggo van sy roem.

Die grootste olifant wat ek in Mianmar meet, is ’n pragtige bul met dik slagtande genaamd Thaung Sein Win. Ons is nie veronderstel om gunstelinge te hê nie, maar ek weet een of meer navorsers het ’n sagte plekkie vir hom, met die gevolg dat hy gereeld in tesiserkennings en in die sosiale media genoem word.

Hy het soos party olifante die amber oë wat voel asof hulle regdeur jou kyk. Hy is ook baie reuksensitief: Hy snuif met sy slurp en hou dit dan teen sy verhemelte, waar olifante ’n sensoriese orgaan het om geure te verwerk.

Hy is ons reus: 3,61 m met ’n gewig van 4 t, ’n sproetgesig en pragtige dik, wit slagtande.

Thaung Sein Win is met ons ontmoeting al 50 jaar oud. Soos Jumbo het sy lewe vry in die natuur begin, in ’n trop saam met sy ma. Toe hy omtrent vier was, is hulle in ’n kamp ingejaag en het die trop bosbouolifante geword.

Foto: Verskaf
Pepsi en sy drywer. Pepsi is geleer om toeriste se verlore plakkies op te tel en sy drywer het vir hom ’n neklus daaruit gemaak.

Hierdie vangmetode is voorheen gereeld ingespan, want dit het die voordeel dat jy ’n groot getal olifante gelyktydig kry. Dit moes ’n taamlike skouspel gewees het, al kan jy jou dit nou moeilik indink omdat praktyke soveel verander het.

Mans op spesiaal opgeleide olifante en mense wat trom slaan, het toe die trop tot in ’n oopgekapte gebied aangejaag. Die area is dan omhein en vuur, tromme en ’n groot lawaai gebruik om die olifante in ’n tregtervorm in ’n kamp in te jaag.

Die metode waarmee Thaung Sein Win gevang is, is nou in onbruik en is net deel van olifante en mense se gedeelde geskiedenis in Mianmar.

Olifante word trouens nou as bedreig erken. Toe Thaung Sein Win groot genoeg was, is hy van sy ma en die olifante saam met wie hy gevang is, weggeneem na Kawlin, ’n dorp langs die spoorlyn wat vanaf Mandalay noordwaarts kronkel.

Foto: Verskaf
Die bul en sy drywer demonstreer hul bosbouvaardig­hede.

Al is die dorp op die oog af doodgewoon, sal dit altyd vir my die vlietende skoonheid van ’n somerromanse hê. Toe ek Kawlin in November 2012 die eerste keer gesien het, het dit gebaai in goue sonskyn.

Dit was die tuiste van ’n paar ongelooflike mense wat met olifante werk. Daar is min plekke waar ek al gelukkiger was. Wat dit so besonders maak, is dat jy heeldag onder ’n groen plastiekskerm kan werk terwyl jy inligting en foto’s en mates verwerk. Dan, vroegaand, kyk jy in die sagter lig op en sien Thaung Sein Win hoog en majestueus staan. Op daardie oomblik kan jy glo daar is regtig reuse in die wêreld.

’n Uittreksel uit Elephants: birth, death & family in the lives of the giants deur Hannah Mumby, Jonathan Ball, aanbevole kleinhandelprys: R320