valskem,ongeluk,Nicole Smith,VIA,Keerpunt
Nicole Smith voor die ligte vliegtuigie waaruit sy gespring het toe haar valskerm op 1 200 m nie wou oopgaan nie. Foto: VIA

“Die program het my en my gesin laat terugdink aan daardie fratsongeluk. Hulle is deur soveel toe dit gebeur het,” vertel Nicole aan Huisgenoot. Sy gesels oor die episode van die nuwe reeks, Keerpunt, waarin haar storie gisteraand op VIA vertel is.

“Dit was vir ons soos terapie en ek kan nou daardie hoofstuk van my lewe toemaak. Ek het nooit daardie sprong in my psige voltooi nie . . . tot nou toe.”

“Ek was senuweeagtig om na die program te kyk, want ek het nie geweet wat my vriende en familie oor daardie dag gaan sê nie,” vertel sy. Veral haar pa, Greg, was baie emosioneel voor die kamera. Hy was die een wat haar versorg het en seker gemaak het sy kom letterlik weer op die been.

valskerm,ongeluk,VIA,Keerpunt,Nicole Smith
Nicole Smith meen dit alles was "amazing grace". Foto: VIA

Nicole sal nooit die dag van die ongeluk vergeet nie. Dit was 28 Februarie 2015, ’n dag voor haar verjaardag op 1 Maart. “Dit was ’n Saterdag. Ek was nie veronderstel om daardie dag drie keer te spring nie. Maar omdat dit my verjaardag sou wees, het hulle my van 4 000 (sowat 1 219 m) voet af laat spring.”

Gewoonlik is dit net 3 500 voet.

“Ek was glad nie bang nie, want ek het dit al so baie keer gedoen,” vertel sy. Daar was niks fout met die valskerm nie, maar toe sy uit die vliegtuig spring, het sy ’n “klein foutjie” gemaak en haar lyf effe verkeerd gedraai, wat veroorsaak het dat sy in die toue en die valskerm verstrengel geraak het.

valskerm,ongeluk,Nicole Smith,VIA,Keerpunt
Nicole Smith van Carletonville gesels oor haar valskermongeluk op die VIA-program, Keerpunt.

“My hoofdoel was om my foutiewe valskerm los te kry sodat die noodvalskerm ontplooi, maar my regterhand het reeds skade opgedoen en ek kon nie die apparaat los kry nie,” vertel sy verder.  “Ek het ook nie besef hoe naby aan die dood ek was toe ek aarde toe tol nie.”

Wonder bo wonder het sy op ’n moerasagtige deel  aan die agterkant van die valskermklub in Carletonville aan die Wesrand geland. Dit was asof sy op 'n trampolien bons. Daar was ’n 5 duim- (sowat 12,7 cm) duik in die grond waar sy te lande gekom het.

“As dit nie die vorige nag gereën het nie, sou ek dood gewees het,” meen Nicole.

Haar valskermmaats het gemeen sy “was toast”, want mense is al op 1 000 m dood in valskermongelukke. Haar linkerbeen het eenkant toe gebuig gestaan.

valskerm,ongeluk,VIA,Keerpunt,Nicole Smith
Nicole en haar vriende en familie in haar sorgvrye skooldae. Foto: VIA

“Daar was geen interne beserings nie. Ek het wel ’n haarlynfraktuur aan my femur opgedoen."

Haar pelvis het ook efffens geskuif en sy het senuweeskade aan haar regterhand opgedoen.

“Onlangs kon ek vir die eerste keer sedert die ongeluk weer my eie poniestert maak. Ek kan nog nie skryf nie . . . Die staatshospitaal op Potchefstroom se personeel het wondere verrig.”

Sy het ’n goeie korporatiewe werk by ’n selfoonmaatskappy gehad, maar besluit om terug te trek huis toe in Johannesburg. Sy wou meer tyd saam met haar pa en suster, Abigail (22), 'n student en ontvangsdame by die Universiteit van Johannesburg, deur te bring.

valskerm,ongeluk,Nicole Smith,VIA,Keerpunt
Nicole en haar pa Greg wat haar versorg het. Foto: VIA

Wat met haar gebeur het, het haar laat afskaal en soek na ‘n werk met minder spanning sodat sy en haar gesin elke oomblik bymekaar kan geniet.

Nicole het ook sedert haar ongeluk weer twee tandemspronge saam met iemand anders uit ’n vliegtuig gemaak. “Dis soos om weer op ’n perd te klim as een jou afgegooi het. Daar is van my vriende wat dood is in valskermongelukke en ek het al baie gevra hoekom ek nog hier is.

“Dan herinner ek myself dat dit nie regverdig is om depressief te wees nie.” Soos die vroue wat sewentien dae lank saam met haar in die hospitaalsaal in Potchefstroom was, gesing het: Dit is alles net Amazing Grace.

Keerpunt is ’n dokumentêre reeks oor die dramatiese  oomblikke in gewone mense se lewe, en word Maandagaande om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.