Catherine Conteh was net 18 jaar oud, al baie swak weens geboortepyne wat dae lank voortgesleep het, en in lewensgevaar, toe dr. Keith Thomson, so asof hy gestuur was, by die kraamhospitaal waar sy gelê het kom draai. Hy was destyds lid van die mediese liefdadigheidsorganisasie Mercy Ships.  

Sonder 'n keisersnee sou die jong vrou van Freetown, Sierra Leone, nie die kraamproses oorleef nie, en haar babadogtertjie waarskynlik ook nie. Haar gesin kon egter nie die destyds aansienlike bedrag vir die prosedure bekostig nie – dit was toe gelykstaande aan 'n jaar se lone in hul streek. 


Keith, wat as vrywilliger net daardie dag toevallig vir ander sake by die hospitaal ingeloer het, was diep ontsteld toe hy van Catherine se lot hoor. Hy't dadelik ingegryp en vir die operasie betaal wat sy al eerder moes gehad het.

Hy het nie alleen Catherine en waarskynlik ook haar baba, Regina, se lewe gered nie, maar kontak met haar behou en later haar en haar gesin se ontsnapping help finansier toe die burgeroorlog in Sierra Leone in 'n menseramp ontaard het. Boonop het hy tot haar latere opleiding as verpleegster bygedra.

Twaalf uur lange operasie ná kanker

En toe Keith (77) nou amper 26 jaar later 'n gesondheidskrisis beleef, het die knap suster Catherine (44) nie geskroom om die sowat 16 000 km uit Perth, Australië, waar sy deesdae werk en woon, na Engeland te vlieg om haar Samaritaan van destyds te kom help nie.

Sy help hom nou tuis in Berkshire versorg nadat hy 'n 12 uur lange-operasie aan sy kaak moes ondergaan wat erg deur tongkanker beskadig is.

Oor wat destyds in daardie Sierra Leone-hospitaal ontvou het, het Catherine onlangs vertel: "Ek het gewonder wat aan die gang was . . . of ek sou doodgaan.

En toe kom sê 'n verpleegster my hulle kry my vir die teater gereed – 'n vreemdeling gaan betaal. Die idee dat iemand jou kom help sonder dat hy jou van 'n kant af ken, boonop iemand met 'n heeltemal ander agtergrond as jy, maar wat aan jou die geskenk van die lewe wil gee, was vir my ongelooflik."

Keith het later ook vir haar geld saam met 'n vriend van hom gestuur wat Sierra Leone besoek het, en hy sou haar weer self ontmoet toe hy in 1998 vrywilligheidswerk gaan doen het in Guinee, waarheen Catherine met haar gesin gevlug het om aan die burgeroorlog te ontkom. 

"Ek onthou ons het 'n vyfjarige dogtertjie 'n plakkaat sien vashou, met die woorde, 'Oom Keith, dankie dat jy my en my ma se lewe gered het,'" het Keith vertel. "Om daardie vyfjarige dogtertjie te ontmoet, was een van die roerendste oomblikke van my lewe."

Soms kry jy net "'n stem in jou kop dat jy 'n bepaalde mens moet help", reken hy. "En ek het baie bevoorreg gevoel dat ek Catherine kon help."

Sonder Keith sou sy en haar Regina, ook nou 'n verpleegster, nie vandag gelewe het nie, meen Catherine. "Hy het 'n ongelooflike groot hart. Dis ook grootliks danksy hom dat ek kon werk en na my gesin omsien."

En Keith klink optimisties oor sy herstelvooruitsigte. "Sy's 'n fantastiese verpleegster . . . 'n merkwaardige vrou wat 'n hengse lot moes deurmaak. Daar's niemand beter om my nou by te staan nie."

Bronne: bbc.co.uk, basingstokegazette.co.uk, windsorobserver.co.uk, dailymail.co.uk