Die afgelope twee jaar lewe sy byna soos ’n gevangene in haar geboortestad. Die min kere dat sy wél by een van die enkele mense in haar binnekring gaan kuier, ry sy in ’n gepantserde voertuig en dra een van haar twee koeëlvaste baadjies onder die swart klere wat sy altyd aanhet.

In haar handsak is pal ’n pruik, vals neus en kunstande. Dit is vir wanneer sy voel iemand agtervolg haar deur die strate van Amsterdam en sy gou agter ’n toe deur inglip om haar voorkoms te ver­ander.

Soms vermom die 52-jarige vrou haar selfs as ’n man en foto’s van haar is vernietig. Sy is al jare lank enkellopend, want sy is te bang om nuwe mense te ontmoet. Net haar klein vriendekring en nabye familielede weet hoe Astrid Holleeder deesdae lyk.

Astrid leef in angs vir ’n sluipmoordaanval deur een van Nederland se berugste misdadigers, want die mense wat teen dié man gedraai het of vir hom moeilikheid besorg het, is deur die jare op ’n streep vermoor.

Astrid vrees sy is volgende – al is hy haar bloedbroer . . .

Suster teen broer

Dié twee sibbes verskyn nou in een van die opspraakwekkendste hofsake ooit in Nederland – hy in die beskuldigdebank, en sy as staatsgetuie wat teen haar broer getuig noudat hy van ’n rits moorde aangekla is.

Haar broer, Willem Holleeder (60), word die afgelope vier jaar in die maksimumsekuriteitsgevangenis Nieuw Vosseveld in Nederland aangehou. Hy is alombekend in dié land, waar hy as Die Neus bekendstaan vanweë sy prominentste gelaatstrek.

Hoewel Astrid onlangs aan die tydskrif The New Yorker vertel het sy is steeds lief vir haar broer, is sy so bang vir hom, sy sit selfs tydens sy moordverhoor in Amsterdam se maksimumsekuriteitshof agter ’n skerm. Hoewel hy haar nie kan sien nie, kan hy haar getuienis hoor. En wat hy hoor, maak hom glo “woedend”.

Sy suster was immers jare lank die een wat hom van regsadvies moes voorsien wanneer hy met die gereg gebots het – en nou getuig sy téén hom.

“Dis die grootste verraad,” het sy in Maart vanjaar aan die hof gesê. In hul profielonderhoud met Astrid daarna het The New Yorker geskryf “die stryd tussen die Holleeders is ’n sibbestryd wat as ’n hofstryd uitspeel”.

Die baasbrein

Willem, of Wim soos hy ook bekend is, staan tereg op vyf aanklagte van moord, twee van poging tot moord en verskeie ander kriminele klagte, onder meer vir afpersing.

Astrid getuig voor drie regters hoe haar broer haar en hul familie se lewe verwoes het en hou vol hy is die baasbrein agter die moorde op vyf van sy makkers wat glo teen hom wou draai.

As die oudste van vier kinders was Wim al op 13 ’n probleemkind, maar hy het landwyd berug geraak ná sy betrokkenheid by die ontvoering van een van Nederland se rykste mans, Freddy Heineken, op 9 November 1983.

'n Foto van Alfred 'Freddy' Heineken soos uitgestal in die Heineken Experience-brouerysentrum. Foto: Alexander Ryumin\TASS via Getty Images

Wim en ’n groep mans, onder andere sy vriend Cornelis (Cor) van Hout (46), het Freddy, destyds die eienaar van die Heinekenbierbrouery, ontvoer en vir ’n losprys van R435 miljoen as gyselaar aangehou.

Die Heinekenfamilie het dié geld drie weke later aan die ontvoerders betaal en die polisie het Freddy en sy motorbestuurder, Ab Doderer, in ’n pakhuis in Amsterdam gevind.

Wim en Cor, wat Frankryk toe gevlug het, is ses weke later in Parys in hegtenis geneem nadat Cor oproepe na sy meisie, Wim se suster Sonja, gemaak het.

Die twee het drie jaar in Frankryk agter tralies gesit tot hulle in 1986 aan Nederland uitgelewer is, waar ’n hof hulle in 1987 tot nog 11 jaar tronkstraf gevonnis het.

Maar hulle is ná net vyf jaar vry­gelaat en die polisie kon R116 miljoen van die losprys nooit opspoor nie.

“Hulle het dié geld aan hul misdadige makkers gegee, wat dit vir hulle in dwelmhandel belê het. So, terwyl hulle in die tronk was, het hul miljoene vir hulle gewerk,” het Astrid in haar onderhoud met The New Yorker vertel.

Ná Cor en Wim se vrylating in 1992 het die twee ’n rykmanslewe gelei, met duur rygoed en stralerjakkervakansies. Volgens Astrid was dit danksy die Heinekenlosprysgeld, maar Wim ontken dit.

Cor van Hout en Wim destyds in die hof weens die ontvoering van die Heinekenbrouery se baas, Freddy Heineken.

Eers het die Holleeders saamgestaan, maar toe het die familiebande begin verbrokkel . . .

Drie aanslae op Cor se lewe

Cor en Sonja se verhouding het die tronkjare oorleef en hulle het later ’n seuntjie gehad. In 1996, toe hul seuntjie drie jaar oud was, is op die ­gesin geskiet.

Cor was glo die teiken; net hy is raak geskiet en swaar gewond. Die vermeende aanvaller het later glo ’n losprys geëis om Cor uit te los, maar hy het geweier om die afpersgeld te betaal, al het Wim sy vriend en swaer aangemoedig om dit te doen.

En toe word Cor in 2003 voor ’n Amsterdamse restaurant doodgeskiet.

Toe Wim se ander rampokkervennote ook in die jare daarna doodgeskiet word, het Astrid en haar suster, Sonja, Cor se weduwee, onraad begin vermoed.

Teen 2012 kon Astrid en Sonja hul wrewel oor Cor se dood nie meer verduur nie; ook nie die manier waarop Wim ­hulle glo voortdurend gevloek, gedreig en ­geïntimideer het nie.

Genoeg is genoeg

Astrid het versteekte mikrofone vir haar en Sonja aangeskaf en die susters het in Januarie 2013 gesprekke met hul misdadigerbroer in die geheim op band begin opneem.

“Iets moes gedoen word om hom te stop. Hy is soos ’n wilde dier. Hy moet agter tralies wees; dit beperk sy moontlikhede,” het Astrid, ma van die Nederlandse model en televisieaanbieder Miljuschka Witzenhausen (33), oor dié besluit aan die BBC gesê.

Met ure se gesprekke op band op­geneem, het die susters hul broer eindelik by die owerheid aangegee, en Astrid het ingestem om teen hom te getuig.

Waarskuwing: Kru taal en diskriminasie

Wim is in Desember 2014 in hegtenis geneem en van die moord op sy rampokkervennote aangekla, en Astrid se boek oor haar broer, Judas, het in 2016 ver­skyn.

Verlede jaar is haar tweede boek, Diary of a Witness, oor haar wegkruip­lewe uitgegee, en Steven Spielberg het die regte gekoop om haar verhaal in ’n televisiereeks te omskep.

Noudat Die Neus se verhoor in die hof afspeel, sorg sy suster se onthullings en die Holleeders se familie­drama opnuut vir hoof­opskrifte in die Nederlandse media. Die sibbes se pa, ’n alkoholis wat sy vrou mishandel het, is reeds oorlede, maar hul ma, Stien (82), het steeds ’n hegte band met Astrid en Sonja.

'Dis verraad'

Wim hou voet by stuk sy kleinsus lieg en het in die hof gesê haar “verraad” tref hom soos “donderweer in helder lug”.

Astrid het voorheen in ’n BBC-onderhoud vertel sy het haar aantreklike broer destyds as ’n held gesien.

“Hy was die groot, sterk figuur en ek het baie respek vir hom gehad.”

Maar nadat hy na bewering in April 2016 twee bendelede die opdrag gegee het om sy susters en biograaf, die skrywer Peter de Vries, dood te maak, vrees sy dat hy haar sal bykom selfs al is hy agter tralies.

“Willem sê sy is nie in gevaar nie; dat hy haar nie gaan seermaak nie, maar hy is baie kwaad vir Astrid,” het Wim se regsverteenwoordiger, Sander Janssen, aan The New Yorker gesê.

Indien Wim skuldig bevind word op die aanklagte teen hom, kan hy lewenslank in die tronk sit. Maar selfs dit sal ­Astrid en Sonja nie laat veilig voel nie – hulle glo vas hy sal wraak neem.

Stien vrees ook vir haar dogters se lewe en het by die owerheid gepleit dat Wim nie vrygelaat word om sy ma se begrafnis by te woon wanneer sy die dag doodgaan nie.

“My kinders, kleinkinders en agterkleinkinders sal in gevaar wees as hy die tronk verlaat,” het sy in haar brief aan die owerheid geskryf.

En wat sal van Astrid, die stergetuie in sy saak, word as die hof Die Neus on­skuldig bevind?

Vasbeslote sê sy: “Dan sal ek hom moet doodmaak. Ek moes dit lankal gedoen het.”

Eindelik lig Astrid die sluier van dekades lank oor manipulasie, vrees en haar eie opwindende ervaring om inligting uit haar broer te trek wat tot sy skuldigbevinding kan lei.
Beskikbaar by Takealot teen R323. Die prys was korrek toe die artikel gelaai is.
Bronne: The New Yorker, BBC, The Guardian, Dutchnews; Foto's: GALLO IMAGES/AFP; INPRA/REX FEATURES; MAGAZINE FEATURES; GALLO IMAGES/GETTY IMAGES