Dokters het Madeleine Janes behandel vir hardlywig
Dokters het Madeleine Janes behandel vir hardlywigheid, terwyl sy eintlik met ’n tweede baarmoeder vol bloed geworstel het. Foto: Foto:mediadrumworld.com / @madeleinea/MAGAZINEFEATURES.CO.ZA

En in die tweede baarmoeder was vier jaar se menstruasiebloed opgegaar wat op die punt was om te bars. 

Toe Madeleine Janes (21), ’n student van die Britse dorp Rugby, in Augustus 2015 folterende maagpyn begin ervaar het wat haar heelnag wakker gehou het, is sy na haar huisdokter toe en Madeleine moes hoor sy is bloot hardlywig.

Die dokter het Buscopan, ’n middel wat maagkrampe verlig, voorgeskryf en haar huis toe gestuur. 

Maar Madeleine se simptome het volstaan en die pyn het haar lewe omgekrap.

Pynpille het nie gehelp nie en sy het in die woonkamer begin slaap sodat die televisie haar deur die rustelose nagte kon geselskap hou. 

Die pyn was so intens dat Madelein terug is na haar huisdokter toe en selfs verskeie kere na die hospitaal se noodeenheid toe is.

Sy is telkens huis toe gestuur met dieselfde boodskap: Haar simptome is die gevolg van hardlywigheid. Een verpleegster het haar selfs “histeries” genoem en vir Madeleine se ouers gesê “julle weet hoe opgewerk jong meisies raak”.

Die voortdurende afmaak van haar simptome het Madeleine laat voel sy raak mal, maar sy het geweet iets is fout.

Aangesien mediese kenners haar nie kon help nie, het sy self antwoorde begin soek en gluten uit haar dieet gesny ingeval sy seliaksiekte het, maar dit het nie gehelp nie. 

Devon

Ná weke van pyn is Madeleine saam met haar gesin Devon toe om haar ma, Jane, se 50ste verjaardag aan die einde van Augustus te vier.

Ná die eerste dag was die pyn ondraaglik en Madeleine het by die plaaslike hospitaal gaan aanklop, en tot haar verbasing is sy daar eindelik ernstig opgeneem. Die verpleegsters en dokters het almal opgemerk sy lyk soos ’n vrou wat besig is om te kraam.

Foto:mediadrumworld.com / @madeleinea/MAGAZINEFEAT
Foto:mediadrumworld.com / @madeleinea/MAGAZINEFEATURES.CO.ZA

Madeleine het dadelik ’n binneaarse drup vir pynverligting gekry. Bloedtoetse is gedoen en sy is na die waakeenheid geskuif sodat sy noukeurig gemonitor kon word.

X-strale en ultraklankskanderings het getoon sy het twee baarmoeders, twee baarmoedernekke, een eierstok en net een nier.

’n MRB het die bron van haar pyn uitgewys – haar kleiner, tweede baarmoeder was verstop en gevul met bloed wat versamel het met vier jaar se menstruele siklusse. 

Madeleine moes 'n noodoperasie ondergaan en meer as 100 ml bloed is gedreineer. Sy het vir sewe dae in die hospitaal herstel en is toe na ’n spesialis in Londen verwys. 

Madeleine moes ’n noodoperasie ondergaan om die ve
Madeleine moes ’n noodoperasie ondergaan om die verstopte bloed te dreineer. Foto:mediadrumworld.com / @madeleinea/MAGAZINEFEATURES.CO.ZA

Maar toe sy in September 2015 'n spesialis besoek het, is daar tydens ’n gevorderde MRB-skandering bevind dat sy twee baarmoeders, twee baarmoedernekke en wel twee eierstokke het; nie net een soos met die vorige X-strale en ultraklankskanderings bevind is nie.

Daar was ook ’n stuk vel oor die bokant van haar tweede baarmoedernek wat die verstopping van die menstruasiebloed veroorsaak het.  

“Vir ’n ruk het dit my laat gek voel, asof ek dit alles opmaak soos hulle gesê het. Ek het nooit eintlik voorheen met dokters in aanraking gekom nie en net aangeneem wat hulle sê was waar, want hulle is die mense met die kwalifikasies agter hul naam.

“Ek beskou dit nie meer so nie," vertel Madeleine nou.

“Toe ek eindelik in Devon vir die eerste keer ernstig opgeneem word, was dit die grootste verligting. Dit klink vreemd om te sê, maar die hele situasie het my laat voel ek kon myself op die skouer klop."

Swangerskap

Op 15 Desember 2015 het Madeleine ’n operasie ondergaan om die vel te verwyder en dokters het laat blyk die volgende keer wat sy mediese aandag sal moet kry, is as sy sou besluit om kinders te hê, omdat vroue met haar toestand glo ’n 80% kans op ’n miskraam of ’n vroeggeboorte het.

Mans se reaksie op Madeleine se rare toestand, wissel oor die jare. “Dikwels word hulle stil en baie ongemaklik, asof ek pas vir hulle die een of ander vuil geheim vertel het."

En swangerskap is iets wat Madeleine al vanaf 16-jarige ouderdom moes oorweeg. ’n Ekskêrel van haar het selfs die feit dat sy komplikasies tydens swangerskap kan ervaar as rede genoem toe hulle uitgemaak het en dit het haar bitterlik seergemaak.

“Toe ons uitmaak, het hy gesê: ‘Jy weet hoe graag ek ’n pa wil wees en jy kan nie kinders hê nie.' 

“Om iets wat volkome buite my beheer is byna teen my te gebruik as ’n rede waarom ek nie goed genoeg was nie, is onvergeeflik. Wat hy gesê het, het my ’n hele ruk geraak en ek bekommer my oor toekomstige lewensmaats.” 

Vyf jaar ná haar diagnose is Madeleine nou ’n kamp
Vyf jaar ná haar diagnose is Madeleine nou ’n kampvegter vir bewusmaking rondom vrouegesondheid. Foto: mediadrumworld.com / @madeleinea/MAGAZINEFEATURES.CO.ZA

Madeleine is passievol daaroor om bewustheid van haar toestand te bevorder en wil ander mense help. Dit is vyf jaar sedert haar diagnose en haar ervaring het haar ’n kampvegter vir die bewusmaking van kwessies rakende vrouegesondheid laat word en sy deel haar storie op Instagram.

“Jy ken jou liggaam beter as enigiemand anders – enige verpleegster, dokter of spesialis. Luister na wat jou liggaam vir jou sê en hou aan volhard, selfs al word jy weggewys. 

“Op die ou end sal die regte mens jou hoor en sal jy die hulp kry wat jy nodig het. Dit vat dalk net ’n ruk, maar moenie toelaat dat iemand vir jou sê dit is als in jou kop nie.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe