Lena Cornelissen (nou 20) se lewe was 'n lied.

Dit was die lente van 2019 in Duitsland. Sy was besig om haar hoërskoolloopbaan in Bonn, waar sy woon, te voltooi. Sy het vrywilligerswerk by 'n liefdadigheidsorganisasie in Bolivië gedoen. Sy het aan gemeenskapsprojekte gewerk, vir kinders klas gegee en dit geniet om ’n betekenisvolle verskil in die lewe van mense rondom haar te maak.

Maar op 22 April van daardie jaar het iets gebeur. 

Lena Cornelissen
Lena Cornelissen. Foto: Mediadrumworld.com/Lena Cornel/Magazinefeatures.co.za

Dit was ’n sonnige dag en Lena het besluit dis die perfekte weer om haar wasgoed op te hang.

’n Weerligstraal van ’n storm aan die anderkant van die bergreeks het Lena asof uit die niet getref. Met haar nat hare en hande wat aan die draad geraak het, het sy letterlik aan die brand geslaan.

Ander vrywilligers wat haar hoor skree het, het tot haar redding gekom en dadelik ’n ambulans ontbied nadat hulle die vlamme geblus het. Lena se hart het gaan staan en paramedici moes jaag om haar lewe te red.

Lena Cornelissen
Sy het ’n regtertoon en albei haar ore in die voorval verloor. Foto: Mediadrumworld.com/Lena Cornel/Magazinefeatures.co.za

Met haar aankoms by die hospitaal het dokters haar vir agt dae in ’n mediese koma geplaas. Haar ouers het van Duitsland gevlieg om by haar te wees en het gehoor sy sal waarskynlik nooit weer wakker word nie. 

Lena het oorleef en het 10 dae ná die voorval teruggevlieg Duitsland toe waar sy haar herstelpad in Keulen moes voortsit. Haar toestand het tydens die 14 uur lange vlug versleg en sy is vir nog vyf weke in ’n koma geplaas omdat sy veelvuldige orgaanversaking en sepsis gehad het. 

Lena het ’n regtertoon en albei haar ore in die voorval verloor en het neurologiese skade aan die serebellum in die brein opgedoen wat motoriese vaardighede, balans en koördinasie beheer. Dit het beteken sy moes met ’n loopraam stap. Sy het derdegraadse brandwonde opgedoen wat ernstige letsels oor 60% van haar lyf, insluitend haar gesig, nek, rug en bolyf gelaat het. Boonop het sy al ses veloorplantings ondergaan. 

Lena Cornelissen
Lena vertel die ongeluk het haar fisiek en geestelik geraak. Foto: Mediadrumworld.com/Lena Cornel/Magazinefeatures.co.za

Lena sal nog minstens 15 operasies moet ondergaan om haar beskadigde vel te help herstel. Sy hoop ook om kosmetiese chirurgie te ondergaan om haar linkerwenkbrou te herstel.

“Ek het as ’n deeltydse vrywilliger by ’n nieregeringsorganiasie in Bolivië gewerk en het plaaslike skole en met plaaslike gemeenskapsprojekte gehelp.

“Dit was ’n sonnige, wolklose dag en ek het gedink dis die perfekte dag om my wasgoed op te hang. Ek het pas my hare gewas en het met my oorfone na ’n podcast geluister toe ek skielik deur ’n weerligstraal getref is van ’n storm aan die anderkant van die berg.

“Ek kan nie onthou wat volgende gebeur het of hoe ek gevoel het nie, maar van my kollegas het vertel ek het dadelik vlam gevat. Nadat hulle dit geblus het, is ek hospitaal toe geneem waar ek vir agt dae in ’n mediese koma was. My hart het gaan staan en hulle moes dit weer aan die klop kry.

“Ek was gelukkig dat die ander vrywilligers my so vinnig gekry het, anders sou ek nie vandag hier gewees het nie. My ouers het dadelik na Bolivië gevlieg en het gehoor hulle moet my groet, want ek sou nie die nag oorleef nie, maar ek het geveg om te oorleef.

“Dokters het my uit die koma laat ontwaak omdat hulle geglo het ek kan nie huis toe vervoer word as ek nie by my bewussyn is nie, maar dit was die ergste ding wat hulle kon doen en my toestand het vinnig verswak.

“Die Rooi Kruis het my 10 dae ná my ongeluk na Keulen gevlieg om my behandeling voort te sit, maar omdat ek te vroeg ontwaak het, kon my liggaam nie op sy eie regkom nie en ek is vir nog vyf weke in ’n koma geplaas. Ek het nierversaking en sepsis opgedoen, wat amper my dood veroorsaak het, maar ek lewe en is dankbaar daarvoor. 

Lena Cornelissen
Lena meen die voorval het haar lewe vir altyd verander. Foto: Mediadrumworld.com/Lena Cornel/Magazinefeatures.co.za

“Ek het sedert my ongeluk verskeie operasies ondergaan, waaronder veloorplantings aan my gesig, nek en lyf. Die weerlig het my liggaam by my regtervoet verlaat en die skade aan my kleintoontjie het beteken dit moes geamputeer word.

"Ek het beperkte beweging met my kop en nek oor die sametrekking van my vel ná die brandwonde. Ek moet nou ook ’n loopraam gebruik om meer as ’n paar treë te gee weens die skade wat die weerlig aan my serebellum aangerig het wat koördinasie en balans beheer.

“Wanneer ek nuwe mense ontmoet, is ek altyd ‘die meisie wat deur weerlig getref is’. Ek verstaan dat mense belangstel omdat die kans daarvoor so skraal is, maar dit kan frustrerend raak wanneer dit die enigste fokuspunt van ’n gesprek is. Wanneer ek buite is, staar mense na my en probeer my vermy asof ek een of ander melaatse is, wat baie onstellend en irriterend kan wees.”

Lena, 'n sielkundestudent, se ongeluk het haar fisiek en geestelik geraak. Hoewel haar lewe nooit weer dieselfde sal wees nie, hoop sy dat sy mettertyd met haar nuwe werklikheid sal vrede maak.

“My lewe het baie verander sedert die ongeluk en dit voel amper asof ek twee lewens het – een voor April 2019 en een daarna. Iets ongelooflik waardevols is op 18 jaar van my gesteel – lighartigheid en ’n gevoel van sekuriteit.

“Toe ek uit die koma ontwaak in die intensiewe sorgeenheid het ek vas geglo alles sal oor ’n paar maande verby wees. Dit het my lewe in daardie oomblik gered, want sonder hoop sou ek nooit vandag hier gewees het nie. Maar om daardie illusie te groet en deur die werklikheid in die gesig gestaar te word, is uitputtend en stresvol.

“Ek kan voel hoe die herinnerings van voor die ongeluk begin vervaag. Ek kan my nie eens indink dat ek ooit fietsgery het nie. Dis hartseer, want ek kan nooit weer enige van daardie dinge doen nie, maar dis deel van die rouproses en vrede maak met wat gebeur het.

“Niemand verwag dat so iets met hulle sal gebeur nie en dit het my lewe vir altyd verander. Maar belangriker nog is dat my lewe beter sal wees. 

“Daar lê ’n lang pad vir my voor en die pad na ’n beter en regverdiger wêreld is nog langer – maar ek sal nie tou opgooi nie.”