Die skokkende lot van Kamylla Wanessa Cordeiro de Melo is onlangs op 'n Brasiliaanse TV-kanaal uitgesaai, toe sy in 'n openhartige onderhoud oor haar lewe gepraat het.

Kamylla was 78 dae lank in ’n ernstige toestand in die hospitaal opgeneem. Toe sy ontslaan is, het sy uitgevind haar man het haar vir haar ma gelos nadat dié by haar huis ingetrek het om na haar kleinseun te kyk.  

“Toe ek ’n tiener van ongeveer 13, 14 jaar oud was, het my ma met my begin meeding. Sy is net 20 jaar ouer as ek en het gesê my klere pas haar beter, haar kos is lekkerder . . . Niks wat ek gedoen het, was goed genoeg nie,” sê Kamylla. 

Kamylla Wanessa Cordeiro de Melo
Dié pragtige vrou het vertel haar ma het ’n affair met haar man aangeknoop. Foto: @kamylla.melo/Newsflash/Magazinefeatures.co.za

“Toe ek 25 was, het ek verlief geraak op ’n man wat 10 jaar ouer as ek is. Ons het in Augustus 2013 getrou en die volgende jaar is ons seun, nou ses jaar oud, ná ’n ingewikkelde swangerskap gebore. 

“Teen die einde van 2017 het ek bariatriese chirurgie nodig gehad. Die idee was nie om gewig te verloor nie, maar om my hormoonvlakke reg te stel. Ná die operasie het ek ’n beroerte gehad en moes ek weer in die hospitaal opgeneem word.  

“In daardie tyd het my ma (ek kan haar nie meer my ma noem nie) na my huis gegaan om my man te help om my seun te versorg. Hy was toe vier jaar oud. My pa het in die binneland van Pernambuco by my jonger broer gebly. 

“Eers later het ek uitgevind in die vier maande dat ek in die hospitaal was - toe my lewe aan 'n draadjie gehang het - het my eks my net twee keer besoek en my ma my nie een keer nie.”

Kamylla Wanessa Cordeiro de Melo
Sy vertel haar pa het haar op 22 Maart 2018 by die hospitaal kom haal en vir haar die nuus vertel. Foto: @kamylla.melo/Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Sy vertel verder haar pa het haar op 22 Maart 2018 by die hospitaal kom haal en haar die skokkende nuus gegee. 

“Dit was die pynlikste ervaring van my lewe. En dit was nie fisiek nie. Sonder om doekies om te draai het my pa, wat toe reeds my seun gaan haal het, gesê sy vrou en my man het ’n affair.

"Hy het gelyk soos iemand wat met 'n mes in die bors gesteek is, ’n mengsel van teleurstelling en ongeloof. 

“Ek het my ma gebel en senuagtig aan haar vertel ek is uit die hospitaal ontslaan en leef. Ek het gevra of dit waar is dat hulle saam is.

"Die antwoord? Ja, hulle is saam en baie gelukkig. Ek kon nie glo wat ek hoor nie.” 

Uit die onderhoud blyk dit die ma en haar gewese skoonseun is nou getroud en kragtens ’n hofbevel sien Kamylla se seun weekliks haar eksman en ma. 

“Volgens die hofbevel bly my seun twee of drie keer per week by sy pa. Dit is nie maklik nie, maar ek is verplig om my jong kind met die toksiese en skadelike verhouding te laat saamleef,” sê Kamylla. 

Kamylla Wanessa Cordeiro de Melo
Kamylla het openhartig oor haar beproewing gepraat. Foto: @kamylla.melo/Newsflash/Magazinefeatures.co.za

“Ek het onlangs gehoor my ma wil graag die herdenking van hul verhouding op 2 Maart vier, sonder om eens te verbloem sy het met my destydse man begin uitgaan terwyl ek nog in die hospitaal was.

“Amper twee jaar nadat ek geskei is, het ek ’n gawe ou ontmoet en met hom begin uitgaan. Ons is al 10 maande saam in ’n verhouding gevul met respek. Ek het ’n pragtige en hegte gesin, my pa is liefdevol en my seun is perfek.”