Dit was die laaste week van ’n droombesoek aan Zanzibar en die twee tieners het in die warm skemerlug na ’n restaurant gestap. Hulle het die stilte van die leë strate geniet terwyl mense die laaste aand van Ramadan gevier het.

Skielik het ’n silwer bromponie met twee mans daarop uit die niet verskyn. In die verbyry het een ’n petrolkan vloeistof oor die meisies uitgegooi voor hulle weggejaag het.

“Eers het ek gedink dis kokende warm koffie,” vertel Katie Gee, “maar toe word die pyn net ál erger.” “Ons het amper tegelyk geskree: ‘Wat de hel?’” vertel haar beste vriendin, Kirsti Trup.

Katie Gee is vyf jaar gelede geskend in ’n lukrake suuraanval op die eiland Zanzibar.

“Ons het ons vleis voel skroei. Ons gille was so hard, die mense in die hotel ’n hele paar minute se stap daarvandaan kon dit hoor. My hele bolyf het gebrand, veral my regterskouer en bors.”

Die meisies is met batterysuur gegooi – en dit het hul lewe vir altyd verander. Katie en Kirsti (toe albei 18) het as vrywilligers vir ’n liefdadigheidskunsprogram op die gewilde toeriste-eiland aan die ooskus van Afrika gewerk.

Die volgende week was hulle veronderstel om huis toe te vlieg en in Brittanje met universiteit te begin. Pleks daarvan het ’n lang, pynlike pad na herstel voorgelê.

Kirsti moes ’n veloorplanting aan haar arm, rug en skouer ondergaan en mag ’n jaar lank nie in die son gesit het nie. Maar Katie het die ergste van die aanval afgekom, met brandwonde aan die hele regterkant van haar lyf en gesig.

Sy moes 70 operasies en tallose veloorplantings ondergaan. Haar regteroor was so erg beskadig dat dit soos “’n klont houtskool” gelyk het, vertel sy.

Die oor moes uit weefsel van haar rib herbou word. Tog het sy die afgelope vyf jaar wonderbaarlik herstel. Katie (nou 23) sê sy het “klein vreugdes soos buite in die sonskyn wees, grimering dra en klubs toe gaan” gemis, maar sien nou uit na die toekoms.

“Vir my is ‘normaal’ taamlik opwindend,” skryf sy in haar dagboek.

“Ek voel ongelooflik positief. Ek moet steeds elke dag in my letsels vaskyk, maar hulle is nou deel van my en ek sal nooit daaroor skaam wees nie.”

Katie woon in Hampstead, Noord-Londen, saam met haar ouers en twee broers en het verlede jaar ’n graad in sosiologie aan die Universiteit van Nottingham behaal.

Die aanval het in Zanzibar plaasgevind. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy sal binnekort met ’n nagraadse leerlingskap in korporatiewe eiendom begin en “het baie om na uit te sien”. Maar dit was ’n lang en eensame pad om dié punt te bereik.

Vyf jaar lank het Katie dagboek van haar herstel gehou. In ’n uittreksel wat die Britse Mail on Sunday onlangs gepubliseer het, onthou sy die lewe in die hospitaal ná die aanval in Augustus 2013.

“Daar is geen spieëls in die brandeenheid van die Chelsea and Westminster-hospitaal (in Londen) nie, want pasiënte kan ontsteld raak,” skryf sy. “Ek kan niks uit my regteroog sien nie.

Terug in Engelandword sy die Chelsea andWestminster-hospitaal binnegebring met ma Nicky (heel links) agterna. Foto: Great Stock/Eyevine

Maar met my linkeroog kyk ek na my gesig in die selfiemodus op my foon en na my weerkaatsing in die metaalrand van die stort. “Die plastiese chirurg Andy Williams is brutaal eerlik: Ek het 35% brandwonde en dit sal jare se behandeling verg.

Maar hy sê hy sal nie tou opgooi oor my nie. Hy sal my so na moontlik probeer kry aan die mens wat ek voorheen was.” Dokters sê sy sou blind gewees het as sy nie instinktief haar oë geknip het toe die suur gegooi is nie.

Omstanders het probeer help deur water op die meisies te gooi. Hulle is na ’n nabygeleë hospitaal gebring voor hulle na Londen teruggevlieg is. In ’n dagboekinskrywing van September 2013 praat Katie oor die eerste keer toe sy die hospitaal verlaat.

“Ma kry ’n lys goed om te doen as ’n wond oopgaan. Ek is verbaas om te sien my slaapkamer lyk soos ’n blommewinkel vol ruikers en daar is ’n kaartjie van die premier, David Cameron, wat lui: ‘Ons sal alles doen wat ons kan.’”

’n Maand later word haar mates geneem vir ’n plastiekgesigmasker wat sy twee en ’n half jaar lank moes dra “om my letsels plat te help maak”.

‘Ek moet elke dag in my letsels vaskyk, maar hulle is nou deel van my’

“Om dit te dra is so aaklig soos wat dit klink: Dis onnatuurlik, baie beperkend, en die druk van die bande gee my migraine,” skryf sy. Sy het dit gehaat om die masker in die openbaar te dra, want dit het haar “lelik en anders” laat voel.

“Ek wil dit net stukkend gooi, maar ek doen dit nie, want dit het ’n maand geduur om dit te maak . . . Wanneer ek daarmee op my gesig moet uitgaan, dra ek ’n dik, wollerige hoed en ’n serp.”

Benewens die drie fisioterapiesessies per dag moes sy 23 uur per dag ’n drukpak dra wat van ’n kunsrubbermateriaal gemaak is. “Dit bestaan uit ’n stywe swart top, spanbroek en handskoen, byna soos ’n katpak-oorpak; dus nie ’n totale moderamp nie. Maar dit is baie warm, veral snags,” skryf sy.

In Desember 2014 praat sy oor haar langverwagte neusoperasie waartydens haar neus met kraakbeen van haar ribbes opgebou is, asook ’n wenkbrou-oorplanting.

“(Die dokter) vat ’n stuk vel van die agterkant van my kop en plant dan noukeurig elke haar in tydens ’n 10 uur lange operasie. Die hare groei steeds, maar pluk is ’n slegte idee . . .”

’n Maand later beskryf sy haar ooroperasie nadat sy ’n prostetiese oor geweier het. “Ek hou nie van die idee om dit elke dag af te haal en skoon te maak nie. En dit sal nie my gehoor help nie, wat ernstig beskadig is.”

Pleks daarvan het die plastiese chirurg David Gault in die loop van drie operasies van 12 uur elk ’n oor van kraakbeen uit een van haar ribbe geskep. Hy was verplig om die rib te breek.

“’n Gebreekte rib is verskriklik pynlik en dit beïnvloed regtig my asemhaling. Jy kan nie sonder pyn beweeg nie, maar ek kan dit hanteer. “Dit is nie so pynlik soos die aanval self nie; niks sal ooit wees nie.”

Katie is steeds verbyster oor die motief vir die aanval, veral omdat sy niks waardevols aangehad of gedra het nie. Daar word bespiegel die aanvallers, wat nooit gevang is nie, is lede van Uamsho, ’n Islamitiese separatistegroep wat wil hê Zanzibar moet onafhanklik van Tanzanië op die vasteland word en strenger Islamitiese wette instel.

Terwyl haar vriende hulle van die begin af om haar geskaar het, sê sy sy het eers regtig “weer normaal gevoel” toe sy in Julie verlede jaar ’n vriend se 21ste verjaardagpartytjie bywoon.

Saam met haar beste vriendin, Kirsti Trup (links), voor die voorval wat hulle albei se lewe onherroeplik verander het. Foto: Great Stock/Shutterstock

“Daardie aand het ek eindelik vry gevoel om oor my lewe buite die konteks van die suuraanval te praat. “Ek het van die goeie ou tye herleef wat ek in ons tienerjare saam met my vriende ervaar het,” sê sy.

“Dit was ver verwyderd van die gevoelens van angs en eensaamheid waaraan ek sedert die aanval gewoond geraak het.” Sy het nou ’n YouTube-kanaal waar sy oor haar reis praat en kykers aanmoedig om haar vrae te vra.

’n Groot deel van haar genesing, sê sy, was om te weier dat haar aanvallers liggaamlik of sielkundig die oorhand kry. “Hulle kon my lewe vernietig het. Ek sal hulle eenvoudig nie toelaat nie.” 

Bronne: Dailymail.co.uk, Telegraph.co.uk, Times.co.uk, Independent.co.uk