Luidens berigte het ’n leerlingrekenmeester van Chang’an in China se noordwestelike Shaanxi-provinsie gedeeltelik blind geraak nadat sy ’n hele dag lank speletjies op haar slimfoon gespeel het.

Die 21-jarige Wu Xiaojing het gesê sy kon nie meer uit haar regteroog sien ná ’n dag se speletjies op haar toestel nie.

Sy het die gewilde speletjie King of Glory gespeel, berig Asia One.

“Ek het vir aandete ophou speel, en toe was my sig in my regteroog wasig,” sê sy.

Sy is na ’n hospitaal gehaas waar dokters retinale arterie-afsluiting, ’n toestand wat af en toe deur moeë oë veroorsaak word, by haar gediagnoseer is.

Wu sê om speletjies op haar foon te speel, is haar enigste stokperdjie en dit neem al haar vryetyd ná werk en naweke in beslag.

“Ek gaan nêrens oor naweke nie. Ek bly gewoonlik by die huis en speel speletjies op my foon.”

Sy sê sy staan gewoonlik halfsewe op en begin speletjies speel ná ontbyt.

“Ek hou nie op tot omstreeks vieruur wanneer ek ’n laat middagete eet nie.”

Sy knip daarna ’n uiltjie voor sy weer tot soggens tweeuur speel. Wu is in die hospitaal opgeneem.

Dis nog onbekend of sy haar sig gaan herwin.

Ekstra bron: Asia One