“Shaninlea doen onder die omstandighede goed,” voeg David by.

Shaninlea (Shan) Visser het byna die helfte van haar lyf verloor weens sepsisskok en verspreide intravaskulêre koagulasie veroorsaak deur 'n infeksie: albei haar voorarms en onderbene; neus; binnekantse voorste gedeelte van die mond, bo en onder; lippe en ’n gedeelte van haar tong.

Shaninlea en haar pa, David Rogers. Foto: Verskaf

Haar groot droom is om in die nuwe jaar bioniese arms te kry.

“Geen vordering is nog daarmee gemaak nie, maar daar sal nog baie moet gebeur voor so ’n operasie vir die eerste keer in Suid-Afrika gaan moontlik wees,” meen David.

“Dit was ’n helse jaar,” sê hy. Sedert Maart vanjaar het Shan veertig operasies gehad en dit het sy tol begin eis.

In een van die mees onlangse operasies is daar ’n ballon in haar dy ingeplant en oor weke met vloeistof gevul sodat dit die vel kon uitrek. Die vel moes op haar gesig oorgeplant word waar die bloedvergiftiging dit weggevreet het. Operasies om haar lippe op te bou kan tussen nege en sestien uur neem.

 “Ek probeer haar postief hou,” vertel hy. Haar man, Anthony, is ook baie ondersteuned. Shan kan nie werk nie en hy is nou die enigste broodwinner in die huis.

By ’n rehabilitasiesentrum in Port Elizabeth moes Shan van vooraf leer skryf, om op haar eie te sit en te eet, en om haarself aan te trek. En teen alle verwagtinge in het sy in Julie vanjaar op prosteses begin loop.

“Ek en Shaninlea wil ’n boek skryf oor ons 2017-reis. Sy het gesê ‘wanneer dit verby is’, maar dis ’n lang, lang reis. Met die regte houding en deur in die hede te lewe kry ons dit stappie vir stappie reg,” vertel David.

Wat met haar gebeur het, het almal onkant gevang. Maar nou is die manier hoe sy herstel ná daardie traumatiese tyd vir baie mense ’n inspirasie.

Shan het op 5 Januarie vanjaar van Durban af in Port Elizabeth aangekom. Sy het gewerk vir ’n vervoer-onderhandelaarsbesigheid en moes help om ’n kantoor in die Baai oop te maak.

Op 17 Januarie het sy skielik naar geword, opgegooi en in die badkamer haar bewussyn verloor. Sy het in daardie stadium by haar baas gebly en kon die volgende oggend agtuur nie uit die bed uit kom nie.

Ongeveer halfdrie die middag wou sy gaan water drink en het toe tussen die kombuis en eetkamer flou geword. ’n Kollega wat kom kyk het hoe dit gaan, het op haar afgekom en met haar na die Life St. George-hospitaal gejaag.

“My hande en voete het gevoel asof dit aan die brand is, maar toe die verpleegster daaraan vat, sê sy dis yskoud."

Bloed het reeds weggevloei van die verste punte van haar lyf.

Twee weke later het dit vir haar gevoel asof sy uit “’n koma” wakker geword. Toe die dokter vir haar sê “Welkom terug,” het sy besef sy was baie ernstig siek.

Sy kon niks van daardie twee weke in die waakeenheid onthou nie, vertel Shan. David het ’n dagboek gehou om haar te help om die verlore legkaarstukke weer bymekaar uit te bring.

Die dokters het in die begin gedink sy sal moontlik net haar vingerpunte en tone verloor, maar die afsterfproses in die weefsel het bly versprei. Die dokters het ook die amputasies so lank moontlik uitgestel om te sien of die proses sou omkeer en begin herstel. Hulle wou so min as moontlik amputeer, vertel David.

“Dit was hartverskeurend om te sien wat met my dogter gebeur. Mens voel so hulpeloos,” voeg David by.

Vir ’n hele ruk lank het die verpleegsters haar lyf toegehou met beddegoed.

“Sy kon nie verstaan hoekom sy nie kon doen wat sy voorheen gedoen het nie; dat sy nie kon opstaan nie,” sê David.

’n Paar dae later het hulle besluit om haar te wys hoe haar voete en hande lyk.

“Dit was swart,” onthou sy.

“Niemand het my vertel van my gesig nie,” voeg sy by. Totdat iemand laat glip het dat sy plastiese chirurgie aan haar neus en lippe sal kry waar die dooie weefsel weggesny moet word.

“Jy sal albei voete en hande moet verloor of jy gaan dit nie maak nie,” het die dokters dit sonder doekies omdraai gestel.

Ter wille van haar elfjarige dogter, wat sy gemeen het ’n ma in haar lewe nodig het, het sy gesê: “Doen wat julle moet doen.”

“Ek is dalk nou ’n halwe vrou, maar nie in my kop nie,” het die dapper, jong vrou dadelik besluit.