Die egpaar, wat ’n skoonmaak- en waterdigtingsonderneming besit, het ’n vlambare produk gebruik wat vereis word om rusbanke waterdig te maak. Hul kliënt het vergeet dit is die geval en het die stoof in die kombuis aangeskakel, en die woonstel waarin hulle gewerk het, het ontplof.

Terwyl David merkwaardig genoeg net geringe brandwonde opgedoen het, het Adriana die volle krag van die ontploffing beleef. Danksy verhoogde adrenalien het sy eers gedink sy het taamlik lig van die ongeluk afgekom en het sy selfs die eienaar van die woonstel uit die rookgevulde puin help ontsnap.

View this post on Instagram

Passeio com eles???? #festadasflores #gratidão #amor #superação

A post shared by ?Adri? ?? ?Sobrevivente? (@adrisobrevivente) on

Maar minute later het Adriana intenste pyn oor haar hele lyf begin voel. Sy het kardiopulmonêre stilstand ervaar, wat beteken haar hart sowel as haar longe was besig om op te hou werk.

Nadat sy drie keer op die toneel bygebring is, het Adriana om haar lewe geveg. Terwyl paramedici haar hospitaal toe gehaas het, het Adriana nog ’n hart- en longstilstand ervaar en moes sy weer ’n keer bygebring word.

Adriana het derdegraadse brandwonde aan 63% van haar lyf opgedoen, onder meer haar hande, gesig, bene en arms, en die volgende 24 dae in ’n koma in die waakeenheid deurgebring.

In daardie tyd het haar hart opgeswel, haar longe met vloeistof gevul en haar niere amper ingegee. Die dokters het gesê haar kans op oorlewing is uiters skraal. Maar ná 24 dae van bewusteloosheid het Adriana wakker geword.

Sy was verward oor hoekom sy in die hospitaal was en oortuig net een dag het sedert haar ongeluk verloop. Sy kon nie behoorlik eet, loop of praat nie en het die volgende 15 dae in ’n saal deurgebring waar haar ernstige brandbeserings behandel is.

Adriana het later erken sy het in daardie stadium in ’n diepe depressie verval. Sy het haar bekommer of haar man hy haar sou bly en of haar kinders skaam sou wees om saam met haar gesien te word.

Sy het dit selfs oorweeg om haar eie lewe te neem. Maar nadat sy huis toe is en die oorweldigende liefde en steun van haar man en twee seuns, Eduardo (15) en João Miguel (5), ervaar het, het sy gou besef sy het haar verniet bekommer.

Sedert die ongeluk moes Adriana onaangename kommentaar van aanlyn trolle verduur. Hulle het vir haar gesê sy moenie foto’s van haar letsels deel nie en haar man sal haar nie wil hê nie oor sy so vermink is. Al het die negatiewe kommentaar Adriana ontstel, het heelwat vreemdelinge haar ook beterskap toegewens en vir haar gesê sy is pragtig ongeag haar beserings.

“Ek en my man het ’n rusbankskoonmaak en -waterdigtingsonderneming,” sê Adriana. “Destyds het ons ’n vlambare produk gebruik en toe ons amper met die prosedure klaar was, het die klant ongelukkig die gasstoof in die woonstel aangeskakel en daar was ’n ontploffing. Op daardie oomblik het ek gedink net my hande het gebrand, maar dit was in die werklikheid veel erger as wat ek my voorgestel het.

“Die brandbestryders wat eerste op die toneel aangekom het, het gesien my geval was ernstig. Maar in daardie stadium het ek net aan my kinders gedink, want hulle was in die parkeerplek van die woonstelgebou waarin ons gewerk het. Ek moes seker maak hulle was veilig.

“Die pyn het vinnig vererger en volgens die brandbestryders het ek minute later kardiopulmonêre stilstand beleef en vir my lewe geveg. Ek is vir langer as twee uur geresussiteer. Ek het baie rook ingeasem en 63% van my lyf was gebrand.

“’n Noodambulans het my na ’n hospitaal in die stad geneem. Ek is reguit na die waakeenheid waar ek vir die volgende 24 dae in ’n koma geplaas is.

“Die dokters het blykbaar gesê ek sou waarskynlik enige oomblik sterf, want my niere was aan die ingee, my hart het opgeswel en daar was water in my longe.

“Op die een of ander manier het ek oorleef. Toe ek wakker word, het ek gedink dit was die dag ná die ongeluk en ek was geskok om te hoor ek was vir so lank bewusteloos.

“Tot my verbasing het ek my broer in die hospitaal gesien, maar ek het nie verstaan hoekom hy daar was nie, want ek het gedink die ongeluk het die vorige aand gebeur.

“Ek kon nie loop, eet of drink nie, en ek het baie sag gepraat weens die pyp in my keel, maar my wilskrag om huis toe te gaan en my seuns te sien, was so groot dat hulle my ná net 15 dae in die hospitaal ontslaan het.

“Ek het die brandwonde oor my hele lyf gesien en myself nie meer as ’n vrou aanvaar nie. Ek was skaam vir myself. Ek was bang my man sou my nie wou hê nie en dat my kinders hulle vir my sou skaam.

“Ek moes ’n lang emosionele proses van aanvaarding deurmaak. Weens die ongeluk het ek in ’n diepe depressie verval en wou ek net in ’n donker vertrek toegesluit wees. In ’n stadium het ek selfs aan selfdood gedink, maar, dank Vader, ek het vinnig opgestaan en uit die depressie gekom.

Foto: Mediadrumworld.com /@adrisobrev/Magazinefeat
Foto: Mediadrumworld.com /@adrisobrev/Magazinefeatures.co.za
Foto: Mediadrumworld.com /@adrisobrev/Magazinefeat
Foto: Mediadrumworld.com /@adrisobrev/Magazinefeatures.co.za

“Trolle het my gevra: ‘Sal jou man jou wil hê met so baie letsels?’ en ‘Sjoe, is jy nie skaam om jou letsels te wys nie?’

“Ek het die lewe anders begin beskou. Ek het geleer om myself lief te hê en te aanvaar en vandag is ek waarlik gelukkig. My kenmerk is om altyd gelukkig te wees en te glimlag en vandag het ek rede om weer te glimlag.”

Adriana ondergaan nou veloorplantings aan haar hande om haar beweging te verbeter en die chroniese pyn te verminder waaraan sy nou ly. Maar met ’n gesin wat haar liefhet ongeag haar voorkoms, beplan sy nie plastiese chirurgie in die toekoms nie.

Foto: Mediadrumworld.com /@adrisobrev/Magazinefeat
Foto: Mediadrumworld.com /@adrisobrev/Magazinefeatures.co.za

Sedert haar ongeluk het sy ’n Instagram-blad begin waarop sy haar genesingsreis uiteensit. Sy wil vir ander mense wys dit is moontlik om ’n vervulde en gelukkige lewe te lei ongeag haar veranderde voorkoms.

“Ek het my Instagram-blad gestig om vir vroue te wys dit is moontlik om gelukkig te wees met die merke en vlekke wat jy dalk het,” sê Adriana.

“Vandag is 63% van my lyf geskend, maar ek is gelukkig. My man en kinders het my lief en dit is al wat ek nodig het.

“Ek wil wys jy hoef nie jou onvolmaakthede met grimering te bedek nie. Jy is mooi nes jy is. Ek is ook nie van plan om enige plastiese chirurgie te ondergaan nie.

As ek gelukkig genoeg is, sal ek eendag kleinkinders hê. Ek sal vir hulle sê: ‘Ouma het ’n ontploffing oorleef.’ Dit sal ’n goeie storie wees.

“Of dit vet of maer of met liggaamlike of geestelike letsels is, ons is almal oorlewendes. Die belangrike ding is om met ’n glimlag op jou gesig te leef.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe