Frikkie Venter, ’n slangvanger en kenner van die omgewing, sê die voorval het Saterdag in die vroeë oggendure in die vrou (60) se sitkamer, wat ook as haar slaapkamer dien, gebeur.

“Die vrou bly op ’n plaas en was bewus van die slang wat gewoonlik in die vrugteboorde is,” sê Frikkie.

“Sy het die slang Saterdagmiddag laat by die voordeur gewaar. Sy het haar hond die huis ingeroep en al die deure toegemaak en gesluit. Sy het egter nie die sitkamer se vensterhortjies toegemaak nie.

“Die vrou slaap in haar sitkamer. Die slang het waarskynlik deur die loop van die nag by daardie einste hortjies ingekom,” sê hy.

Frikkie sê hy vermoed die slang was op soek na 'n bietjie koeligheid en het daarom die huis ingeseil.

“Sy het in die vroeë oggendure wakker geskrik van haar hondjie se tjankgeluid toe die slang hom beetkry.”

Hy vertel dit het so vining gebeur, die vrou kon niks doen om die hond te red nie.

“Jy mag ook nie ’n luislang doodmaak nie omdat dit kroonwild is en op die rooilys vir beskermde spesies,” sê hy.

Frikkie sê hy het die slang, van 3,5 m lank en sowat 50 kg, na ’n ander plaas ver van mense vrygelaat.

Eina!

In Maart 2015 het Janet Prinsloo van Lephalale ’n noue ontkoming gehad toe sy deur ’n luislang aangeval is. Sy het toe aan News24 vertel sy het ’n vreemde gevoel om haar been ervaar. Toe sy afkyk, was die luislang besig om homself om haar been te wring.

Hoe harder sy probeer het om van hom ontslae te raak, hoe stywer het hy om haar been gekrul. Hy het ook haar hand gebyt.

Kitsfeite
  • Die suider-Afrikaanse luislang is eers in 1999 as ’n afsonderlike spesie in die Python natalensis-groep erken. Voorheen is luislange as ’n subspesie van die Python sebae beskou.
  • Dit is een van die langste slange ter wêreld en daar is bevestig dat van hulle in seldsame gevalle langer as 5 m kan word.
  • 'n Slang van 7,5 m lank is in Sierra Leone gevind, maar in Suid-Afrika wissel hul gemiddelde lengte gewoonlik van 2,8 tot 4 m.
  • Wanneer luislange skrik of gepla word, sal hulle gewoonlik vlug. Maar as hulle bedreig voel, kan jy ’n paar byte verwag. Hul kragtige tande kan diep, septiese wonde laat.

Bronne: krugerpark.co.zabiodiversityexplorer.org, snake-facts.weebly.com