Nisreen Helal

Die pragtige Nisreen Helal. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Dit was asof die seer net aangehou het om aan haar deur te klop.

Keer op keer het die een terugslag ná die ander haar getref. In so ’n mate dat sy depressief geraak het en sy geteister was deur gedagtes om haarself om die lewe te bring.

Vriende en geliefdes was bang dat sy iets aan haarself wil doen. Maar toe kom die slegte tyding. Nisreen Helal (20) is dood nadat sy in ’n ernstige motorongeluk betrokke was.

Nisreen Helal
Die plasing en haar lewensomstandighede het tot bespiegeling gelei dat sy haar eie lewe geneem het. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

In die sosiale media het vriende deur foto's hulde gebring aan die vrou wat ’n stryd teen die lewe se aanslae gevoer het.

Volgens die plaaslike media in Palestina is albei haar bene twee jaar gelede afgesit nadat beenkanker by haar gediagnoseer is. Sy het daarna kunsbene gekry waarmee sy oor die weg gekom het.

Nie lank daarna nie is haar ma, broer en nefie kort op mekaar oorlede.

Sy het in die sosiale media geskryf dat sy "baie alleen" is ná die dood van haar geliefdes. Daarby was sy wa"onbeskryflik moeg" weens die "tallose probleme in my lewe". Nisreen het ook met haar geestesgesondheid begin sukkel.

Nisreen
Nisreen het teen kanker en depressie gestry. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Kholoud Al-Sawy, ’n Egiptiese vriend van Nisreen, het aan die plaaslike media gesê sy is in ’n ongeluk dood. “Ons het haar familie in Palestina gekontak en gehoor sy was in ’n ongeluk betrokke op pad universiteit toe,” sê hy.

“Haar broer is dood, toe haar nefie, en ’n kort ruk later is haar ma ook oorlede. Dit het maar sleg gegaan met haar; sy het baie gerou.”

Geen verdere besonderhede oor die motorongeluk is bekendgemaak nie.