Die paartjie Natalie Morris (29) en Andrew Samuel (27) van Cardiff, Wallis, het in September na die eiland Nusa Lembongan aan die kus van Bali vir hul droomvakansie gereis, berig Metro News

Met ’n onlangse doodsondersoek is bepaal die paartjie het die eerste aand flieks gekyk en ’n paar drankies geniet voor Andrew Natalie se lewelose liggaam met haar gesig na onder in die swembad aangetref het. 

Andrew het ook aan die hof vertel hoe hulle die dag voor Natalie se dood deurgebring het, berig BBC.

“Dit was een van die volmaakste aande wat jy jou kan voorstel,” het hy gesê.

“Dit was hierdie prentjiemooi eiland met strande met wit sand, en ons het om sesuur na die sonsondergang gekyk voor ons terug is oord toe vir aandete en ’n paar drankies by die villa.

“Ons het gin en tonic by die swembad ’n paar uur lank daarna gedrink. Ons het nie baie gedrink nie, maar was albei ietwat aangeklam.

“Ek is om middernag bed toe en Nat het buite gebly om haar drankie klaar te drink en ’n sigaret te rook. Dit was normaal vir my om eerste te gaan slaap.

“Natalie was nie ’n goeie swemmer nie. Maar die swembad was net 1,5 m diep, so sy sou oukei daarin kon swem.”

Nadat hy op haar liggaam afgekom het, het die jong man glo ingeduik om haar te red en probeer bybring. 

Die lykskouer het hom gevra wat het hy gedink het met Natalie gebeur, berig The Sun. 

“Ek dink Nat het ’n sigaret gerook en uit haar stoel opgestaan, en soos ek Nat ken, het sy waarskynlik op die maat van die musiek begin dans. Maar sy moes gegly, haar kop gestamp en in die swembad geval het.”

Volgens die lykskouer is sy dood weens verdrinking.

“Natalie Morris is dood weens verdrinking in onduidelike omstandighede. Die bewyse verklap nie hoe sy in die water beland het nie.”

Natalie se suster, Janine Lloyd (41), het haar as ’n “lewenslustige mens” beskryf.

“Natalie en haar kêrel was met vakansie in Bali. Hulle het dit al lank beplan,” het sy gesê.

“Hy sou haar vra om met hom te trou. Sy was ’n lieflike, lewenslustige mens en ’n ware partytjiegees.

“Sy het soveel vriende gehad. Elke persoon wat hiervan gehoor het, is verpletter. Ek kan nie glo dit het met iemand wat so vol lewe is gebeur nie.”

Bronne: Metro News, BBC.com, News.com