Andries, wat met sy snaakse staaltjies en musiek mense lekker kan laat lag, moes verlede week ’n vertoning kortknip nadat ’n 60-jarige vrou inmekaargesak het.

Dit was ’n gewone aand, vertel Andries aan Huisgenoot. Die vertoning is deur ’n gemeente in Klerksdorp gereël en meer as 200 mense was in die kerksaal. Die vertoning het net ná seweuur begin en Andries het oudergewoonte met ’n liedjie en ’n paar grappies begin. 

“In die helfte van die tweede liedjie het ek agtergekom daar is ’n geritsel in die derde ry van voor. Ek het gesien ’n vrou buk vooroor – ek het gedink sy het seker net iets laat val. Maar toe sien ek mense begin haar ophelp en ek besef daar is fout.”

Hy het sy klankspan gevra om die musiek te stop en gevra of daar iemand met ’n mediese agtergrond is wat kan help.

“Gelukkig was ’n verpleegsuster in die gehoor en sy het haar hulp aangebied.”

Die vrou se twee seuns het haar opgetel en na buite gedra, waarna Andries uitgestap het om te kyk of alles in die haak is.

“Toe ek buite kom, het die vrou ophou asemhaal. Ons het mond-tot-mond-asemhaling op haar probeer toepas, maar gesien sy reageer nie. Haar seuns het gesê sy sukkel al ’n rukkie met haar hart en omdat ek self al drie hartaanvalle gehad het, kon ek sien wat aan die gebeur is. Haar hartklop was swak.”

’n Ambulans is ontbied en Andries is saam met die vrou se seuns hospitaal toe. Sy is ongeveer ’n halfuur later dood verklaar.

“Dis die eerste keer dat so iets gebeur terwyl ek op die verhoog is. Dit was emosioneel baie sleg. Dit het ’n groot invloed op my gehad.”

Andries vertel toe hy terugkom by die kerk, was almal steeds daar. Hy het hulle vertel wat gebeur het en almal was ontsteld.

“Ek het hulle vertel die vrou is oorlede en gereël dat die vertoning op ’n ander tyd voortgaan. Mense was emosioneel oor die hele gebeurtenis.”

Hy glo dié aand het ’n goeie uiteinde gehad.

“Ek het net weer besef ons weet nie hoeveel tyd ons op aarde het nie. Dit was vir my ’n geleentheid om te besef die dood gebeur onverwags. So onverwags dat wanneer ons lag, kuier en gesels, dinge onmiddellik kan verander. Ek het vir die mense in die gehoor gebid en meer as driekwart van hulle het opgestaan en hul saak met die Here reggemaak.”