Of eerder haar begeerte om soveel moontlik daarvan te drink . . .

Demi, wat van Australië – waar sy drie maande lank by familie gekuier het – na Engeland gereis het, het so amok gemaak op die vliegtuig dat sy tot ses maande tronkstraf gevonnis is.

Sy het verskeie mans op die vliegtuig van Etihad-lugdiens gevra of hulle met haar tydens die vlug sal seks hê en toe sy nog alkohol geweier word, het sy so veglustig geword dat sy personeel op die vliegtuig met haar kop gestamp en van die passasiers gebyt het. Sy is eindelik deur bemanningslede en personeel vasgebind en is in hegtenis geneem toe die vliegtuig neerstryk.

Foto ter illustrasie
Foto ter illustrasie. Foto: Getty Images

Die hofverrigting is onlangs afgehandel. “Dit kom voor asof sy dronk was voor sy op die vliegtuig geklim het en sy het onvanpaste opmerkings aan ’n aantal manlike passasiers gemaak,” beskryf die aanklaer Claire Brocklebank die gebeure op 9 Mei, berig die Independent.

’n Dokter wat saam met sy kinders op die vlug was, het personeel gevra om dit te oorweeg om nie meer vir haar alkohol te gee nie. Toe Demi nog wyn vra, is sy geweier, maar ’n personeellid wat toe nog nie van die besluit gehoor het nie, het haar glas gevul. Tien minute later het sy nog wyn gevra en beweer dat sy nog niks gedrink het nie en gesê sy gaan paniekaanvalle kry omdat sy bang is om te vlieg. 

Toe sy ingelig is oor hul besluit om nie meer alkohol aan haar te gee nie, het Demi daarop aangedring dat hulle dan die vliegtuig moet land.

“Hulle het probeer om haar te kalmeer, maar sy het uit haar stoel opgestaan en op ’n dreigende manier met haar vuiste in die lug in die rigting van die personeel beweeg. Hulle het besluit om haar vas te bind, maar van die passasiers moes die personeel help om haar neer te pen.”

vliegtuig
'n Vliegtuig van Etihad-lugdiens ter illustrasie. Foto: Facebook

Demi het vir die grootste deel van die vier uur lange vlug nog geskree en geskop en selfs die televisie getref tot sy haarself heeltemal uitgeput het.

Die lugwaardin Fouzia Naim sê dit was 'n stresvolle situasie, berig die The Sun. "Dit is nie aanvaarbaar dat personeellede so behandel word nie. As gevolg hiervan kon ek niks eet of drink tydens die vlug nie."

Demi het aanvanklik ontken dat sy enigiets verkeerd gedoen het, maar het later luidens haar prokureur gesê dat sy baie skaam is oor haar optrede.

Sy is tronkstraf opgelê nadat sy erken het dat sy dronk op die vliegtuig was en is op vyf aanklagte van aanranding skuldig bevind.

Bykomende bron: Daily Mail