Pradnya Survase, ’n 23-jarige vrou wat in die Raigad-distrik in Indië woon, het na bewering slanggif by ’n houer dhal ingemeng wat sy op ’n huiswydingspartytjie aan gaste voorgesit het. 

Sy wou glo haar man, skoonma, twee skoonsusters en skoonma se suster doodmaak. Volgens The Metro het Pradnya aan die plaaslike polisie gesê sy wou hulle doodmaak, want hulle het haar donker en haar kookvernuf gedurig bespot.

“Pradnya beweer sedert haar troue twee jaar gelede is sy gereeld oor haar donker gelaat beledig en daarvan beskuldig dat sy nie goed kan kook nie,” het Vishwajeet  Kaingade, senior polisie-inspekteur van die Khalapur-polisiekantoor aan die Hindustan Times gesê.

Die 23-jarige het 120 gaste genooi na haar daknatmaakpartytjie op 18 Junie op die dorpie Mahad, sowat 75 km van Moembai af. ’n Kok van die dorp is aangestel om van halfdrie die middag tot halftwaalf die aand kos voor te sit.

'Ons het uitgevind diegene wat tussen halfvyf en sesuur die aand geëet het, het aan naarheid en ander probleme gely.'

Later tydens die feestelikhede het van die gaste naarheid en maagkrampe begin ervaar en party het opgebring.

Die Hindustan Times berig 88 mense is na die hospitaal gehaas, terwyl vier kinders – van sewe tot 13 jaar oud – en Gopinath Nakure (53) dood is. Twee van die sterfgevalle was familielede van Pradnya.

Vilash Thikrey, ’n 13-jarige oorlewende van die voorval, het aan die plaaslike media gesê die dhal het “bitter” geproe, berig The Metro.

“Ons het uitgevind diegene wat tussen halfvyf en sesuur die aand geëet het, het aan naarheid en ander probleme gely. Ons het toe uitgevind wie die kos in daardie tyd voorgesit het,” het Kaingade gesê.

Die polisie het toe die mense ondervra wat die kos voorgesit het, maar Pradnya het kort daarna ’n bekentenis gedoen, skryf Mail Online.

’n Forensiese ontleder het onthul plaagdoder was teenwoordig en spore van gif is naby die huis gevind.

Pradnya word weens moord, poging tot moord en sameswering tot moord aangekla. Word sy skuldig bevind, kan sy die doodstraf kry.

Bronne: Dailymail.co.uk, Metro.co.uk, Hindustantimes.com