Marta Rentel van Pole, wat die naam Marti Renti aanlyn gebruik, het onlangs haar “digitale liefde” in die vorm van ’n nie-verhandelbare item (NVI) vir R3,6 miljoen verkoop. 

’n NVI is ’n virtuele sertifikaat wat in die digitale wêreld erken word. “Ek wou nog altyd iets innoverends doen. Iets wat in die geskiedenisboeke beskryf sou word. Ek sien al my gesig daar,” het die Poolse beïnvloeder gesê.

Marta (26) het gesê sy verkoop die liefde van haar aanlyn persona, nie van haarself nie. “Niks op die internet is fisiek nie, dis ’n deel van my aanlyn persona,” het sy aan Insider.com gesê.

“In die regte wêreld is ek Marta Rentel en ’n doodgewone vrou van Pole.” 

Sy sê sy was geïnspireer deur Salvatore Garau, ’n Italiaanse kunstenaar wat ’n NVI van ’n onsigbare beeldhouwerk vir sowat R263 000 verkoop het.

“Om digitale liefde te verkoop, is bemagtigend vir vroue, want ons kan lief wees sonder om ons vryheid en individualiteit prys te gee,” sê sy. 

“Digitale liefde is transaksioneel, maar dieselfde geld vir trou met ’n man net omdat hy ryk en stabiel is, nie waar nie?”

Die koper se identiteit is onbekend en Marta sal op een afspraak gaan as deel van die transaksie.

Marta, wat meer as 600 000 Instagram-volgelinge het, beplan om meer NVI’s te verkoop vir haar emosies, ’n verhouding en ervarings. 

Sy beskou dit nie as verkeerd om ’n wins uit haar virtuele self te maak nie. 

“As ek sukses behaal het met my digitale liefde, hoekom nie met ander gevoelens en emosies ook nie?”

Bronne: NY Post, Business Insider, Marti Renti.com