Wendy en David by 'n kostuumpartytjie. Foto: Faceb
Wendy en David by 'n kostuumpartytjie. Foto: Facebook

Wendy (44), van Cullercoats in Engeland, meen haar eetprobleme het in haar laat tienerjare ontstaan toe skoolboelies haar lewe ondraaglik begin maak het. Sy het vertroosting in allerhande soetgoed begin soek, van lekkers en sjokolade tot hompe koek.

Soos sy ouer geword het, het sy met verdrag meer geëet, en ook nie gesond nie. As dertigplusser sou dít wat sy as 'n gerieflike dieet beskou het, tipies met 'n olierige ontbyt by 'n kantien naby haar werk begin. 'n Styselbelaaide middagete sou dan gevolg word deur wegneem-gunstelinge soos 'n supergroot kebab in pitabrood vir aandete, of eetgereed bevrore maaltye. En dan het sy nog tussendeur heeltyd gepeusel.

Toe sy in 2009 met David (48) – self lief vir eet – afhaak, het sy nog verder gewig aangesit, en uiteindelik die skaalnaald op meer as 160 kg laat sidder.


Net meer as twee jaar gelede is haar man egter met 'n ernstige oorerflike hartkwaal gediagnoseer. Dis toe dat Wendy 'n wilsbesluit moes neem.

"Ek moes hoor my man is terminaal siek – en dat hy nie gesond genoeg was om die hartoorplanting wat hy eintlik nodig het te oorleef nie," vertel Wendy in haar profiel op 'n steunnetwerk. "Daardie tyd het ek 166 kg geweeg en kon ek skaars na myself omsien. Ek kon nie vir langer as vyf minute stap nie en was voortdurende uitasem en vol pyne en skete."

David moes uiteraard ophou werk, daar was nie geld vir privaat versorging nie, "en ek het besef ek moes eenvoudig iets doen om my in staat te stel om my man behoorlik te versorg."

So sluit sy toe voorverlede jaar by 'n verslankingsteungroep aan. En sedertdien kon sy met hope wilskrag en deursettingsvermoë 'n ongelooflike 93 kg afskud.

"My lewe het heeltemal verander. Ek het gevorder van waar ek skaars kon loop tot waar ek nou 5 km draf." Sy's ook vier of vyf keer per week in die gimnasium. Haar hond, Lexie, is in haar noppies dat hul rare staptogte van skaars vyf minute tot sommer twee keer per dag, vir 'n halfuur lank, toegeneem het.

"Ja, my reis van die afgelope sowat twee jaar het vir ons wonderlike gesondheidsvoordele gebring." Sy hoef byvoorbeeld ook nie meer self bloeddrukmedisyne te gebruik nie. 

Die belangrikste is egter dat "ek nou meer daartoe in staat is om my man die sorg te gee wat hy nodig het".

Al wat haar nog pla, is die gerekte vel-kwessie wat dikwels by drastiese verslanking soos in haar geval, voorkom. Deur spesifieke oefeninge en spierkragwerk kon sy wel in dié opsig reeds heelwat veld wen, en sy hoop om deur verdere plastiese chirurgie heeltemal van 'n nou relatiewe klein probleem ontslae te wees. 

Intussen het Wendy ook 'n verslankingsafrigter geword. "Ek het nooit daarvan gedroom dat ek voor 'n groep mense sou kon praat nie, maar nou doen ek dit elke week."


Bronne: justgiving.com, newsguardian.co.ukInstagram, Facebook