Valerie tydens 'n onderhoud. Foto: YouTube-skermgr
Valerie tydens 'n onderhoud. Foto: YouTube-skermgreep

Want Daniel Polette het sy vrou, Valerie, seksueel misbruik sedert sy ’n kind was, hy het haar gereeld geslaan en haar later selfs vir seks aan ander mans uitverhuur.

Die verhaal van Valerie, wat deesdae weer haar nooiensvan Bacot gebruik, het Frankryk, haar tuisland, die afgelope tyd behoorlik aan die gons.

Sy is van moord aangekla nadat sy haar man, ’n wreedaard wat deur sy eie broer as “die duiwel” beskryf is, in 2016 vermoor en begrawe het.

Maar al het sy bloed aan haar hande, skaar baie van haar landgenote hulle by haar saak en het byna ’n miljoen mense reeds ’n petisie onderteken dat sy nie van moord aangekla moet word nie.

Verlede maand is sy egter tog in ’n Franse hof aan moord skuldig bevind.

Die aanklaers het volgehou die moord was duidelik beplan: Valerie het Daniel onder meer vroeër die dag van die moord onsuksesvol probeer vergiftig deur pille in sy koffie fyn te maak.

Toe dit nie gewerk het nie, het sy hom geskiet.

Haar oudste twee seuns en haar dogter se kêrel, wat haar gehelp het om Daniel se lyk te versteek, is op hul beurt aan mindere klagte skuldig bevind.

Ek is nie verlig nie. Ek is heeltemal verpletter, fisiek en emosioneel.

Maar genadiglik vir Valerie (40) is drie jaar van die vier jaar lange vonnis wat sy opgelê is, opgeskort. En weens die meer as 25 jaar wat sy mishandel is, het die hof besluit sy verdien genade en hoef nie die vierde jaar uit te dien nie.

Op 25 Junie is sy wel vrygelaat. “Ek is nie verlig nie. Ek is heeltemal verpletter, fisiek en emosioneel,” het sy aan die skare wat haar buite die hof ingewag het, gesê. Haar grootste wens was net om weer by haar vier kinders te wees.

Waar het dit begin?

So verstommend soos wat dit klink, het Valerie se eie ma haar aan Daniel voorgestel.

Daniel, ’n vragmotorbestuurder wat 16 jaar ouer as Valerie was, het met haar ma, ’n alkoholis genaamd Joelle Aubague, begin uitgaan toe Valerie nog ’n meisie van 12 was.

Joelle het haar blind gehou vir haar dogter se molestering, maar in 1996 is Daniel skuldig bevind toe een van sy eie susters daarvan uitgevind en hom by die polisie verkla het. Hy is tot vier jaar tronkstraf gevonnis.

Joelle het aangehou om hom in die tronk te besoek, selfs al was hy vir die verkragting van haar dogter opgesluit. Erger nog: Sy het Valerie soms op dié tronkbesoeke saamgesleep om vir haar verkragter te gaan kuier.

Daniel is eindelik vrygelaat nadat hy die helfte van sy vonnis uitgedien het en het dadelik weer by Joelle ingetrek. Daar het hy die mishandeling van haar dogter voortgesit asof niks intussen gebeur het nie.

“Niemand het dit skynbaar bisar gevind dat Daniel weer by ons kom bly het nie,” sê Valerie. ’n Boek wat sy later oor haar ervarings geskryf het, het die veelseggende titel Tout le monde savait (“Almal het geweet”).

Toe sy 17 was, het sy swanger geraak met Daniel se kind en Joelle het hom uitgeskop. Valerie was ’n verwarde, swanger kind sonder heenkome, en het toe maar by hom ingetrek omdat hy die pa van haar kind was.

Kort nadat hul baba gebore is, het hy haar begin slaan.

Hy het haar klere en haarstyle gekies, asook die name van die drie kinders wat daarna gevolg het.

“Die eerste keer was dit omdat hy gedink het ek het nie die baba se speelgoed behoorlik weggepak nie, maar dit het baie gou algemeen geword. As die koffie te lank gevat het, as dit te warm of te koud was, sou hy kwaad word.

“Jy leef met die idee dat jy dit verdien, want jy doen goed nie reg nie.”

Valerie was so deur hom oorheers dat sy ingestem het om met hom te trou en dinge het stadigaan vererger. Hy het al hoe meer baasspelerig geword. Hy het haar klere en haarstyle gekies, asook die name van die drie kinders wat daarna gevolg het.

Die aanrandings het alledaags geword. Hy het haar neus gebreek, haar met ’n hamer geslaan en ’n vuurwapen op haar gerig.

Uitverhuur vir seks

Daniel Polette was 'n geweldenaar wat sy gesin mis
Daniel Polette was 'n geweldenaar wat sy gesin mishandel en sy vrou vir seks uitverhuur het.

Dinge het selfs wreder geword toe Daniel uit sy werk bedank het. Hy het besluit om geld te maak deur Valerie vir seks aan ander vragmotorbestuurders uit te huur. Hiervoor het hy spesiaal die agterkant van die gesin se Peugeot-miniwa met ’n matras en gordyne ingerig.

Hy was so skaamteloos dat hy selfs visitekaartjies versprei het waarop hy haar geadverteer het as ’n gesellin met die naam “Adeline”.

Hy het dikwels haar ontmoetings met kliënte deur ’n loergat dopgehou, en haar soms ’n gehoorstuk laat dra sodat hy vir haar aanwysings kon gee terwyl sy met kliënte seks het.

“Daniel was nie deur geld gemotiveer nie, maar eerder deur ’n begeerte om te kyk hoe ek verneder word,” sê sy.

Op die aand van 13 Maart 2016 het daar ’n keerpunt gekom toe ’n gewelddadige kliënt Valerie aangerand het. “Daar was oral bloed,” het sy in die hof getuig.

“Alles wat ek beleef het, het skielik teruggekom.”

Tienerdogter

Teen daardie tyd het Daniel oor hul 14-jarige dogter, Karline, begin uitvra. Hy wou weet of sy seksueel aktief is. Valerie het gevrees die kind kan dalk haar man se volgende slagoffer wees.

“Ek was baie bang. Bang hy sou haar ook vir seks verkoop,” sê Valerie. “Ek het geweet hoe groter sy word, hoe meer sou hy haar seermaak. En ek het nie geweet wat om te doen nie.”

Sy het besluit die enigste uitweg was om Daniel te vermoor. Sy het hom geskiet en toe met die hulp van haar seuns, Vincent (destyds 17) en Romaine (destyds 16), ’n gat in die woud gegrawe en sy lyk daarheen gesleep.

Haar dogter se kêrel, Lucas Granet (destyds 16), het ook gehelp. Valerie is in 2017 in hegtenis geneem nadat Lucas teenoor sy ma gebieg het dat hy die misdaad verberg het.

Valerie se seuns en Lucas het elk ses maande tronkstraf uitgedien vir die versteking van ’n lyk terwyl sy van moord aangekla is.

'Niemand het ons gehelp nie'

Valerie, omring deur vriende en familie, by die Ch
Valerie, omring deur vriende en familie, by die Chalon-sur-Saone-hof op 21 Junie. Foto: Jeff Pachoud/AFP/Getty Images/Gallo Images

Dr. Denis Prieur, 'n psigiater, het gesê Valerie het tydens haar mishandeling geen vrye wil meer gehad nie. “Sy kon nie na die polisie gaan vir hulp nie, want haar man was deurentyd teenwoordig.”

Haar seun Kévin (20) het getuig dat hulle wel die polisie genader het, maar dat dié bloot hul skouers opgetrek en gesê het hulle kan niks aan die saak doen nie.

“My ma is nie skuldig (aan moord) nie. Niemand het ons gehelp nie. Ons was vasgekeer en het nie geweet hoe om daaruit te kom nie.” Kévin het ook getuig dat hy en sy sibbes feitlik daagliks onder hul pa se vuiste en beledigings deurgeloop het.

Die persoon aan wie ek die meeste dank ter wêreld verskuldig is, is Valerie, want sy't hom doodgemaak. Sy het gedoen wat ek lank gelede moes gedoen het.

Tydens haar onlangse week lange verhoor het Daniel se familie almal tot Valerie se verdediging gekom. Sy suster, Monique (59), het vertel hy het haar ook verkrag vandat sy 12 jaar oud was en gedreig om haar en haar ma te vermoor as sy iemand vertel.

“Die persoon aan wie ek die meeste dank ter wêreld verskuldig is, is Valerie, want sy't hom doodgemaak. Sy het gedoen wat ek lank gelede moes gedoen het,” het Monique gesê.

Sy broer, Alan, het gesê hy was ’n “afstootlike” man wat hul gesin geterroriseer het.

“Hy was die duiwel, hy was walglik. Die term monster is te sag vir hom.”

Net Valerie se gewetenlose ma het steeds die verkragter se kant bo dié van haar dogter gekies. Valerie kon hom bloot gelos het en hoef hom nie te vermoor het nie, het Joelle getuig.

Valerie se regspan, Janine Bonaggiunta en Nathalie
Valerie se regspan, Janine Bonaggiunta en Nathalie Tomasini. Foto: Jean-Christophe Verhaegen/AFP/Getty Images/Gallo Images

In haar boek skryf Valerie om Daniel te vermoor was die enigste manier om haarself en haar kinders te beskerm.

“Ek is nie net ’n slagoffer nie. Ek het hom vermoor. Dit is net normaal dat ek gestraf word. Maar as my vonnis swaar is, sal dit vir my beteken hy het die reg gehad om op te tree soos hy teenoor my opgetree het,” sê sy.

Toe Valerie hoor sy sal nie ’n dag in die tronk deurbring nie, al is sy skuldig bevind, het sy van verligting flou geraak. Haar prokureurs doen nou regstappe teen die owerhede oor hul versuim om Valerie teen Daniel te beskerm.

“Ek wil jammer sê vir my kinders,” sê sy. “En dankie aan almal dat hulle na my geluister het.”

Bronne: bbc.com, aljazeera.com, dailymail.com, euronews.com, thesun.co.uk

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe