Lauren Neilly, van Ballymena in Ierland, het ook ’n snytjie gehad wat nie gesond wou word nie, berig die Daily Record.

Ná ’n paar toetse het die 23-jarige vrou, wat ook aan uitputting gely het, gehoor sy het akute miëloïede leukemie, ’n soort bloedkanker, volgens WebMD.

Die bankwerker is onmiddellik na die Queen Elizabeth-universiteitshospitaal in Glasgow opgeneem waar sy chemoterapie-behandeling ontvang. 

Haar ma, Samantha, sê haar dogter is geskok oor die diagnose. 

“Sy het ’n aaklige paar dae beleef. Elke dag kom iets nuuts na vore; elke dag tref iets anders ons,” sê Samantha.

“Sy het haar beenmurgtoets ondergaan, dit was vir haar pynlik en met chemo begin.

“Die dokters is tevrede, maar sy is moeg. Haar hare het nou begin uitval; iets wat vir enige jong vrou besonder moeilik is.” 

Volgens The Sun werk Lauren, wat volgende jaar met haar verloofde, Ben, wil trou, nog net 10 maande by Barclays Bank. Dit beteken die maatskappy sal net twee maande se mediese verlof betaal. 

“Ons verkwalik Barclays nie daarvoor nie. Dit is nie Barclays se skuld nie; dis maatskappybeleid. Dis net teenspoed. Alles hieroor het haar net sleg getref. Ons is verstom oor wat mense vir ons doen,” sê Samantha.

Om Lauren en haar student-verloofde geldelik by te staan, klim haar kollegas die berge rondom hul tuisdorp uit. 

“Ons hoop om genoeg geld in te samel om Lauren se salaris te dek om haar te help om huur en rekeninge te betaal en genoeg geld voorsien sodat haar familie hulle nie hoef te bekommer nie,” skryf haar kollegas op haar GoFundMe-blad.

“Lauren en Ben trou volgende somer en dit behoort ’n opwindende tyd vir hulle te wees om hul huwelik te beplan. Ons wil hê hulle moet hulle daarop instel. 

“En enige geld wat oor is, sal die uitgawes van Lauren en Ben se troue volgende jaar help dek.”

Bronne: thesun.co.uk, dailyrecord.co.uk, belfasttelegraph.co.uk, birminghammail.co.uk