Die vryskutjoernalis Erin Rollins (33) het in Novembver 2014 in haar motor gery toe ’n dronk motoris trompop teen haar bots. Skerwe been het haar ruggraat verbrysel en paramedici het gemeen sy was gelukkig om te oorleef.

“Ek onthou glad nie die botsing nie,” sê Erin. “Maar ek onthou spesifieke oomblikke. Ek onthou ek is agteruit in ’n ambulans gestoot, maar ek het geen idee wat gebeur het nie.

“Die paramedikus het nadergekom en gesê ek was gelukkig dat ek leef, want die meeste mense oorleef nie sulke botsings nie. Ek het heeltyd vir hulle gesê ek ervaar die ergste pyn van my lewe.”

By die hospitaal het die personeel verskeie toetse gedoen. ’n Verpleegster het Erin gewaarsku sy sit ’n kateter in sodat sy nie skrik nie, maar Erin het gesê sy kon niks voel nie.

Sy het dit eers aan die pynmedikasie toegeskryf, maar later gehoor sy het ’n onvolledige ruggraatbesering en twee frakture opgedoen.

Dit het skerwe been in haar ruggraatkanaal laat beland en tot verlamming van die middel af ondertoe gelei. Erin, van Chicago in Amerika, het ook gate in haar dik- en dunderm en ingewande en interne bloeding opgedoen wat noodchirurgie geverg het. 

Sy het op 6 Desember met fisioterapie begin en kon twee weke later met behulp van ’n harnas in ’n looptoestel rondbeweeg. Erin meen haar optimisme het haar deur haar herstelproses gedra. In Oktober 2016 het sy selfs in die gangetjie afgestap om met haar man, Dennis (39), te trou.

Sy kan nou onafhanklik loop, maar het steeds stutte aan haar voete nodig, want sekere senuwees en spiere werk nie. Sy moet ook af en toe ’n kateter kry.

Erin Rollins
Erin Rollins (33) het in Novembver 2014 in haar motor gery toe ’n dronk motoris trompop teen haar bots. Foto: Magazine Features

Haar lewe het ingrypend verander. Weens maagbeserings kan sy niks swaarder as 7 kg dra nie en as gevolg van haar beskadigde ruggraat sal swangerskap hoërisiko wees.

Erin sal ook dalk onbepaald ’n stomasak nodig hê. Dit is vir haar moeilik om aan te beweeg en dit wat met haar gebeur net agter die rug te sit. Maar Erin sê sy het die bestuurder vergewe wat haar getref het.

“Ek sal nooit die tyd kan herstel wat verlore gegaan het nie,” sê sy.

“Ek kan vergewe en met my lewe aangaan, maar die verliese en die hartseer bly. Mense neem aan omdat ek die dronkbestuurder vergewe het en ’n goeie houding behou het, beteken dit alles is piekfyn, maar dit is nie. Die smart is werklik en sal ’n leeftyd voortduur.”

Tog behou sy ’n positiewe uitkyk na die lewe.

“Jy is dalk nie in beheer van wat met jou gebeur nie, maar jy is in beheer van hoe jy reageer. Slegte goed gebeur met goeie mense en jy kan kies om te gaan lê en dit te vat, of jy kan kies om te veg.”