Die vetsugtige Sarah Kumar (36) het elke dag ’n McDonald’s-gesinsboks, twee groot pizzas, twee plakke sjokolade en 4 L koeldrank verorber en in vrees geleef dat haar maag sou oopbars.

Die projekbestuurder van Adelaide, Australië, wat nou in Melbourne woon, het tot ’n reusagtige 220 kg en ’n kleregrootte 48 vergroot. Toe kom sy op ’n brief af waarin ’n vriend haar smeek om gewig te verloor. 

Sy het daar en dan besluit om haar lewe reg te ruk en sedertdien het sy ’n verstommende 110 kg afgeskud en ses rokgroottes gekrimp. Sy het ses keer per week begin oefen, gemorskos vir maer proteïen en groente verruil en ’n maagverkleining ondergaan.

Die getroude Sarah, wat nou 110 kg weeg en ’n kleregrootte van 16 dra, sê: “Ek was as kind altyd ’n bietjie oorgewig, maar dit was eers op sowat 13 dat my kosverslawing regtig die oorhand gekry het.

Foto: Magazine Features.

“Ek het tamaai hoeveelhede geëet wat net nie menslik moontlik is nie en altyd gesoek na maniere om nog kos te kry. 

“Namate ek ouer geword het, was daar dae dat ek so baie geëet het dat ek gedink het ek gaan sterf. 

“Ek het eerlikwaar in die bed gelê en dink ‘dit is die einde, ek gaan nie môreoggend wakker word nie’. Maar dan staan ek die volgende oggend op en doen dit alles weer. Dit was ’n bose kringloop. 

“Ek was baie geheimsinnig oor my etery en het my net in privaatheid vergryp.

“Dit was ’n absolute verslawing. Ek kon dit nie verdra om te voel daar is nog plek in my maag oor nie.

“Sodra ek begin voel het daar is plek, moes ek eet om die leemte te vul.

“Ek het altyd die grootste maaltyd geëet wat ek vir middagete kon bestel wanneer ek saam met my kollegas was."

Foto: Magazine Features.

“En op pad huis toe van die werk af het ek altyd minstens twee groot burgermaaltye by McDonald’s bestel. Ek het dikwels ’n gesinsboks gekoop en dit alles opgeëet. 

“Later in die aand sou ek twee groot pizzas bestel met ’n knoffelbrood en ’n bottel koeldrank daarby.

“Ek het selfs voorgegee daar is iemand anders by die huis wanneer die afleweringsman na die deur kom, maar dit was altyd net ek.

“Dan sou ek twee gesinsgrootte plakke sjokolade of ’n hele bak roomys vir nagereg eet. 

“Dan sou ek dit alles elke dag met 4 L koeldrank afsluk. Ek het nooit water gedrink nie.

“Ek was buite beheer. Ek het dit nie toe besef nie, maar ek was uiters depressief en eensaam en net mistroostig oor my lewe.”

Nadat haar kosverslawing in haar vroeë tienerjare begin het, het Sarah aanhou gewig aansit tot sy op net 19 die skaal op 140 kg getrek het.

Maar sy sê dit was net die begin van haar vernietigende gewoontes en sy het vir nog 10 jaar aanhou gewig aansit en haar liggaam “mishandel” voor sy hulp gesoek het.

Haar swak eetgewoontes en algehele gebrek aan oefening het elke dag laat voel soos “ ’n stryd om te oorleef’ en selfs die eenvoudigste take, soos om by ’n openbare toilet in te pas, onmoontlik gemaak.

Maar alles het verander toe Sarah 31 jaar oud is en die maatskappy vir wie sy werk haar die werkgeleentheid in ’n leeftyd bied om Adelaide vir Melbourne te verruil.

En terwyl sy haar besittings ingepak het, het sy afgekom op ’n brief wat ’n vriend in 2004 vir haar geskryf het om haar te smeek om gewig te verloor. Dit het haar laat wakker skrik en laat besluit om haar lewe te verander.

Foto: Magazine Features.

Sarah meen sy het op haar swaarste 220 kg geweeg, maar sy het haar die eerste keer geweeg nadat sy vier maande verslank en geoefen het. Toe het sy 211 kg geweeg. 

Nadat sy 50 kg verloor het, het sy besluit om ’n maagverkleiningsoperasie te ondergaan.

Sarah kry ook nou afrigting vir ’n fiksheidsertifikaat sodat sy ander mense kan help en het meer as 1 000 Instagram-aanhangers wat haar verslankingsreis volg.

Sarah sê: “My lewe was so eensaam en mistroostig. Ek sou dit nie eens regtig lewe noem nie.

“Mense besef nie hoe moeilik dit regtig vir ’n vetsugtige mens is om net in die wêreld te bestaan nie. Ek het altyd geleenthede van die hand gewys weens my grootte.

“Ek kon nie na die karnaval gaan nie, want ek het geweet ek sou nie op enige van die ritte pas nie."

Foto: Magazine Features.

“Die strand is een van my gunstelingplekke ter wêreld, maar ek het dit altyd soos die pes vermy, want ek sou nooit swembroeke dra nie.

“As ek gaan uiteet het, moes ek altyd aanlyn na hul sitreëlings kyk, want as dit ’n hokkie was, sou ek nooit kon inpas nie.

“Selfs net openbare toilette. Mense besef nie hoe moeilik dit vir ’n vetsugtige mens is om by daardie goed in en uit te kom nie.

“Alles was net ’n nagmerrie en dit was altyd makliker om net by die huis te bly en alleen te eet."

Foto: Magazine Features.

“Maar toe ek die nuwe pos kry, het ek geweet dit is my kans om met ’n nuwe lewe te begin en die mens te wees wat ek altyd wou wees.

“Die brief was ’n teken van die heelal dat dit nou moes gebeur om my lewe te red.

“Ek het begin deur beter koskeuses te maak en meer te probeer beweeg."

Foto: Magazine Features.

“Toe sluit ek by ’n gim aan. Op my eerste dag kon ek net ses minute bitter stadig stap voor ek uitgeput was. Maar ek het gegaan en van toe af het ek net my krag opgebou.

“Ek het dit reggekry om sowat 50 kg self te verloor voor ek ’n plato bereik het.

“Toe besluit ek om ’n maagomleiding van sowat R136 000 te ondergaan deur op deernisgronde geld uit my pensioen te neem. Dit was die beste besluit wat ek tot nog toe geneem het.

Foto: Magazine Features.

“Nou oefen ek ses dae per week. Ek het al 111 kg verloor en my doelgewig is 89 kg.

“Ek het eindelik vrede met myself. Ek het ’n heel nuwe lewe en ek was nog nooit gelukkiger nie.”