Dis stampvol mense wat aan die buffet-ete kom weglê. Dan skielik klink ’n harde knalgeluid op, gevolg deur die geknetter van glas wat aan skerwe spat.

Toe restaurantgangers opkyk, sien hulle die eienares se bolyf is in vlamme gehul.

“Dit het soos ’n toneel uit ’n fliek gelyk,” beskryf dr. Louis Barnard, ’n plaaslike tandarts wat in die restaurant was, die oomblik toe hy Annemarie Pitout sien. 

Annemarie (49) was besig om die vlamhouers waarmee die opskepbakke verhit word met vuuraansteekjel te hervul toe een van die houertjies vermoedelik vlam vat en ontplof.

Stukke van die brandende jel het op Annemarie se lyf gespat en haar klere aan die brand laat slaan, vertel Kezandra Trytsan, ’n broerskind van haar en ’n lid van die bestuurspan van haar restaurant, Annie’s Country Kitchen.

Vermoedelik was die oorblywende jel in die houertjie nog warm toe Annemarie dit probeer vul. 

Skielik het ek ’n harde slag gehoor, glas wat breek en mense wat skree
Dr. Louis Barnard

Sy is met 60% brandwonde aan haar bolyf, van haar nek tot lae rug, in die Mediclinic Bloemfontein opgeneem, waar sy teen druktyd steeds in die hoësorgeenheid was.

Vuuraansteekjel was ook vir die ongeluk verantwoordelik toe die tweejarige Pippie Kruger op Oujaarsaand 2011 derdegraadse brandwonde opgedoen het toe ’n houer jel by ’n vleisbraai in Lephalale in haar pa, Erwin, se hande ontplof het (sien die kassie). 

Pippie het ’n lang pad sedert die ongeluk gestap, maar vir Annemarie begin die pad na herstel nou eers.
 
Annemarie het die restaurant waar sy so erg verbrand het in Januarie vanjaar geopen. Dit is haar eerste eie eetplek nadat sy jare lange ondervinding in die spysenieringsbedryf opgedoen het, vertel Kezandra. Annemarie is ongetroud en het nie kinders nie en sy het lank van haar eie restaurant gedroom.

Op Sondag 8 April het Louis, sy ma, Winnie, en ’n vriend, Wyndham Ferreira, vir die eerste keer by Annie’s Country Kitchen op Prellerplein gaan eet. “Nadat ons gehoor het die mense praat net met lof van die plek, wou ons hul kos gaan beproef,” vertel die tandarts van die Rosestad. 

Toe hulle net ná twaalf daar aankom, was die restaurant taamlik vol en hulle het by ’n tafel buite op die stoep gaan sit. “Skielik het ek ’n harde slag gehoor, glas wat breek en mense wat skree,” sê hy.

Alles was net te onwerklik en het te vinnig gebeur
Dr. Louis Barnard

Sy eerste gedagte was iemand het deur ’n ruit geval en hy het na binne gehardloop. 

“Toe sien ek Annemarie van agter die kosbakke uitgehardloop kom. Haar hele bolyf was in vlamme gehul.”

Pandemonium het in die restaurant losgebars en van die ander klante het ook nader gestorm om die vlamme te help blus. 

“Daar was nie tyd om te dink nie,” vertel Louis. “Ek het net instinktief na haar toe gehardloop en haar op die grond platgedruk.’’

As kind het hy noodhulpklasse bygewoon wat sy verpleegster-ma aangebied het. Daar het hy geleer wanneer jou klere aan die brand slaan, moet jy nie hardloop nie, maar platval en in die sand rol. Dis dié dat hy die brandende vrou met sy kaal hande op die grond platgedruk het.

Terwyl hy haar daar vasgehou het, het hy haar “gehekelde toppie van haar lyf afgeskeur”.

Louis het twee bekers melk op ’n koffietafel naby hom gegryp en oor haar gegooi om die vlamme te blus. 

Hy het geskree dat ander helpers vir hom water, ys en nat handdoeke bring.

Almal het ingespring en die vlamme help blus, vertel hy. Hulle het haar hande in die ysbakke gedruk en die handdoeke om haar lyf nat gehou tot die ambulans opgedaag het.

Hy weet nie hoe lank hulle vir die ambulans gewag het nie, want hy het nie op sy horlosie gekyk nie. Hy raai dit was sowat 30 minute. Dit het gelyk asof Annemarie in dié tyd soms by haar bewussyn was en soms nie, maar hy kan nie met sekerheid sê nie.

Eers toe hy bloed op die vloer sien, het hy opgemerk haar voet is gesny, maar waar die glasstukke vandaan gekom het, weet hy nie. Dit was vermoedelik die glase op die tafel wat gebreek het. 

“Alles was net te onwerklik en het te vinnig gebeur. In daardie stadium neem jy nie alles presies om jou in nie.”

Louis het self ligte brandwonde aan sy hande en bobene opgedoen terwyl hy Annemarie uit haar vlammehel gered het, maar sy ma het dit sommer daarna vir hom verbind.

’n Woordvoerder van die Mediclinic, Barbara Steenkamp, het bevestig Annemarie het 60% brandwonde opgedoen. Hulle het reeds suksesvol met die proses van veloorplanting begin, vertel Barbara.

“In die omstandighede is haar toestand stabiel en sy vaar goed. Dit is egter onmoontlik om te sê hoe lank sy nog in isolasie in die waakeenheid gaan wees.”
 
Sy verstaan wat Annemarie Pitout nou deurmaak, sê Anicé Kruger, ma van die brandslagoffertjie Pippie Kruger (nou 8). Sy het ses jaar gelede brandwonde oor 80% van haar lyfie opgedoen toe haar pa, Erwin, ’n sukkelende vleisbraaivuur met vuuraansteekjel wou aanhelp en die bottel in sy hande ontplof het. Van die brandende jel het 2 m ver tot by klein Pippie gespat.  

“Ek weet dit is baie eina,” sê Anicé oor sulke ernstige brandwonde. Haar raad aan Annemarie is om dit dag vir dag te neem en nooit moedeloos te raak nie.

“Dit is ’n lang pad na herstel en ’n mens moenie dink dit sal oornag gebeur nie. Veral in dié tyd terwyl sy in die waakeenheid lê en niemand by haar mag kom nie, kan sy geïsoleer en eensaam voel. Maar tog moet sy rustigheid in haar hartjie hê dat dit elke week beter sal gaan.”

Anicé waarsku die jeuk kan erg wees wanneer die wonde begin genees.

“Wanneer Annemarie uit die waakeenheid is, is sy welkom om my enige tyd te kontak vir raad en emosionele bystand,” nooi Anicé.

Met Pippie gaan dit deesdae goed, vertel sy. Sy ontvang elke tweede week behandeling in ’n rehabilitasiesentrum in Johannesburg en kan al amper kruip.

Wees versigtig met vuurmaak jel

Jy sal nie sommer petrol of paraffien op ’n oop vuur of vlam gooi nie. Waarom sal jy dit dan met vuuraansteekjel doen? So vra Adrienne Barrett van Greenheat, ’n vervaardiger van dié soort jel.

“Dit moet die uitgangspunt wees wanneer jy vuuraansteekjel veilig wil gebruik,” maan sy.

Al is die handelsmerk van die jel nie bekend wat Annemarie Pitout tydens die brandongeluk gebruik het nie, sê Adrienne dis ’n basiese veiligheidsmaatreël om geen vuuraansteekjel op ’n oop vlam te gooi nie.

Op hul produkte is duidelike veiligheidsaanwysings om gebruikers daarteen te waarsku.

Die gasse of dampe van die etanol in die jel sal naby ’n oop vlam aan die brand slaan, verduidelik sy. Dit is nie die temperatuur van die oppervlak waarop jy dit gooi wat dit laat brand nie, maar die vlam self. Al is die jel vlambaar, is dit nie plofbaar nie.

“As jy die hele houer aan ’n vlam blootstel, kan die jel daarin aan die brand slaan. Weens die brandende dampe sal druk in die houer opbou, die brandende jel sal daaruit bars en enigiets aan die brand steek waarop dit land.” 

Vuuraansteekjel is veiliger as paraffien of petrol, beweer Adrienne, en dit is nie giftig nie. Voor jy jel in jou braaiplek of kaggel aan die brand steek, moet jy sorg dat die houer op ’n veilige afstand van die vlamme is, beklemtoon sy.

As jy ’n vleisbraaivuur wil aansteek, beveel sy aan dat jy ’n opgehoopte eetlepel jel op die hout of houtskool sit en dit aan die brand steek.

Jy kan daarna nog hout of houtskool daarop pak in die vorm van ’n piramide sodat daar genoeg lug deurtrek om die vlam aan die brand te hou.

Maar wanneer jy nog jel byvoeg wanneer daar reeds ’n vlammetjie flikker, speel jy met vuur. . .  – Jana van der Merwe