Die slagoffer, Jasmina Dominic, is in 2005 as vermis aangemeld, maar was glo laas in 2000 lewend gesien toe sy nog 23 jaar oud was.

Sy het destyds in die Kroatiese hoofstad, Zagreb, studeer.

Haar ouer suster, Smiljana Srnec (45), is tans in aanhouding omdat daar vermoed word sy is betrokke by haar suster se dood.

Die nuus van haar inhegtenisneming het Woensdag bekend geword terwyl honderde mense op Jasmina se begrafnis in haar tuisdorp, Palovec, noordoos van Zagreb, hul eer betoon het.

Smiljana sal volgens ’n hofbeslissing ’n maand lank in tuisarres bly omdat sy moontlik ’n vlugrisiko is. Dis ook om te keer dat sy moontlik enige getuienisse kan beïnvloed.

’n Kragonderbreking het glo veroorsaak dat Jasmina se lyk ’n onaangename reuk afgegee het.

Volgens berigte het ’n familielid Saterdag op die lyk afgekom in ’n vrieskas in ’n gang op die grondverdieping van Smiljana se tweeverdiepinghuis in Palovec, ’n klein, maar welaf dorpie.

Die lyk was in sellofaan toegedraai. Smiljana het in die huis gewoon saam met haar man en drie kinders.

huis,moord,vrieskas
Die huis in Palovec waar 'n lyk onlangs in 'n vrieskas gevind is. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die polisie ondersoek haar dood. Volgens die polisiewoordvoerder Nenad Risak het die Dominic-familie destyds aan die polisie vertel Jasmina het oorsee gebly, berig Daily Mail.

"Die familie het ons in ander rigtings gestuur," het Nenad oor die destydse ondersoek na Jasmina se verdwyning gesê.

"Ons het die huis deursoek, maar ons het geen inligting gehad dat iets by die huis kon gebeur het nie."

Jasmina se pa, wat ’n paar jaar gelede oorlede is, het in 2011 gesê sy dogter het in 2000 vir hom gesê sy gaan op ’n toerskip werk en dat sy beplan om in die Franse hoofstad, Parys, te gaan woon.

’n Lykskouing het bevind Jasmina is minstens twee keer met ’n stomp voorwerp teen die kop getref. 

Die saak het die mense van Kroasië geskok wat steeds wonder hoe dit kan wees dat ’n gesin so lank onbewus was van die lyk wat in hul huis was.

Ekstra bronne: Daily Mail, IOL, 24sata, nst.com