Mariska Monk (30) en nog vier leerkragte, Esthea Moll (30’s), Joani Odendaal (30’s), Thabo Mosea (40’s) en Felix Schneuder (50’s), het as ’n saamrygroep tussen Bethlehem en Kestell gery.

’n Swaarbelaaide vragmotor wat stene vervoer het, het agter in hul voertuig vasgery toe hulle by die dorp indraai, is vroeër berig.

Die botsing het Dinsdagoggend om kwart oor sewe gebeur.

“Daar kom mense oor jou pad wat so ’n groot indruk maak dat hulle jou die res van jou lewe sal bybly,” het Maronelle Blomerus op haar Facebook-profiel geskryf. 

“Liefste Coreen Vermaak (Monk) was een van hulle. Jy was ’n laerskoolmaatjie, ’n hoërskoolkennis en -geselsie; op varsity was jou hart en pragtige glimlag ’n trekpleister vir so baie. 

“Vandag is my hart seer saam met al jou geliefdes. Ek dra jou man en dogtertjie in my gebede. Net Jesus kan aan hulle vrede bring. Jy was waarlik ’n engel op aarde, net vir ons geleen. My hart pyn vanaand.” 

Esthea, ’n gr. 2-onderwyseres, het haar derde nekwerwel gebreek en is per helikopter van die toneel na die Life Rosepark-hospital in Bloemfontein geneem. 

Joani, wat bedryfsekonomie gee, is in die Mediclinic Hoogland. Thabo gee Engels en Sotho, en is nie ernstig beseer nie. Felix het agt ribbebene gebreek en is in die waakeenheid van die Mediclinic Hoogland.

Die Bethlehem Voortrekker Hoërskool (BVHS) op het hul meegevoel met die Gekombineerde Skool Retief se onderwysers op hul Facebook-blad betuig.

“Innige simpatie aan Retief Hoërskool Kestell met die dood van Coreen Monk (Vermaak) nadat sy vandag in ’n motorongeluk betrokke was. Ons bid dat die ander personeellede wat opgeneem is in die onderskeie hospitale ná die motorongeluk, volkome sal herstel. 

“Esthea Moll (du Preez) is in Bloemfontein opgeneem. Sy het in 2007 aan BVHS gematrikuleer.”