Die wêreld het gedink Bernadette Small het oor haa
Die wêreld het gedink Bernadette Small het oor haar eie seuntjie gery, maar drie jaar later is sy onskuldig bevind.

Sy het meer as ’n maand lank met die pynlikste wrok denkbaar in haar hart rond geloop: verterende selfhaat dat dit dalk sý was wat haar klein blondekoppie se dood veroorsaak het. 

Al het ander mense haar as ’n slegte ma uitgekryt oor haar seuntjie se dood, was die gedagte dat sy sélf vir die driejarige AJ se dood verantwoordelik was nog erger as die kwetsende woorde van ander.

Die moontlikheid dat sy met haar motor oor haar eie seuntjie gery het, het genadeloos aan Bernadette Small (31) geknaag. 

“Dit het tot in my siel gesny as ek die koerant optel en sien hulle sê ék was die een wat my kind doodgemaak het,” vertel Bernadette oor die mediaberigte van daardie tyd.

“Ma het nie geweet sy ry oor seuntjie” het die berigte dit in Maart 2017 uitbasuin.

Terwyl dit binne haar wou breek oor wat met haar jongste gebeur het, moes sy probeer kophou ter wille van haar oudste kind, Jessica (nou 9).

“Ek het probeer sterk wees vir Jessica – AJ se dood was geweldig traumaties vir haar; sy was baie hartseer daaroor. Ek kon nie voor haar huil nie,” sê Bernadette oor die swaar jare sedert die ongeluk.

Maar nou, ná maande van selfvertwyfeling en ’n lang stryd om die waarheid te laat geld, is daar eindelik die geringste troos: Die hof het bevind Bernadette was nié vir sy dood verantwoordelik nie.

Dit was nie haar skuld nie; die seer selfkastyding kan nou end kry.

Klein AJ is in 2017 op die Smalls se plaas buite Koppies in die Vrystaat doodgery.

Die gebroke ma wys die plek uit waar haar kleuter
Die gebroke ma wys die plek uit waar haar kleuter gesterf het. Sy sukkel steeds om AJ se dood te verwerk. Foto: Onkgopotse Koloti

Bernadette en almal wat sy ken, was eers oortuig dit was sý wat die seuntjie onwetend raakgery het toe sy die erf daardie dag met haar motor verlaat het.

Die gedagte daaraan was vir haar ondraaglik swaar.

Maar ’n maand ná sy dood het Bernadette en haar familie begin dink alles is nie pluis nie – die moontlikheid dat dit Bernadette se skuld was, het net nie vir hulle sin gemaak nie.

“Hoe sou ek oor my kind kon ry en dit nie eens agterkom nie?” herhaal sy nou weer die vraag wat by haar bly spook het.

Dit was toe dat die Smalls ’n privaat speurder aangestel het om ondersoek in te stel. En wat hy bevind het, sou haar eindelik van die selfverwyt en skuldgevoelens verlos.

Hier op die plaas wys die jong ma nou klein AJ se kamer.

Ná meer as drie jaar het sy nog nie sy speelgoed weggepak nie. Dit staan op houtrakke uitgestal. 

“Dit laat my voel hy is hier naby. Asof hy enige oomblik hier gaan inkom en weer met sy speelgoed gaan speel . . .” 

In hul leefkamer is die verlange ook merkbaar.

Foto's van AJ in die Small-gesin se huis. Bernadet
Foto's van AJ in die Small-gesin se huis. Bernadette is nog nie gereed om sy kamer op te ruim nie. Foto: Onkgopotse Koloti

Een van die mure is vol foto’s van die glimlaggende seuntjie. Daar is verskeie foto’s van ’n doodgewone gesin – foto’s wat spreek van die geluk wat binne ’n oogwink versplinter is. 

“Ek dink nog elke dag aan hom; ons mis hom verskriklik,” vertel Bernadette aangedaan.

Maar dan kyk sy jou reguit in die oë: “Daar is darem vertroosting: ek is onskuldig bevind. Ek weet nou ek het nie my eie kind doodgemaak nie.” 

Dit is ’n week nadat sy in die landdroshof in Kroonstad amptelik onskuldig bevind is aan strafbare manslag.

“Ons het eindelik afsluiting gekry. Vir die eerste keer kan ek oor my seuntjie se dood rou. Nadat dit gebeur het, kon ek nie, want ek het in my eie onskuld getwyfel.

“Ek kon nie slaap nie. Ek het heeltyd gedink dit was alles my skuld dat ons seuntjie nie meer hier is nie. Ek het soos ’n moordenaar gevoel.”

Bernadette studeer voltyds om ’n pastorale berader te word, en haar geloof het haar staande help hou ná daardie verskriklike dag in 2017: 20 Maart.

Binne die huis was Jessica en haar nefies besig om te speel. AJ was buite doenig. Die laaste keer wat Bernadette hom gesien het, het hy op ’n hoop sand naby die skaapkraal, ’n paar meter van die huis af, gespeel.

Bernadette Small het in 2017 geglo sy het haar seu
Bernadette Small het in 2017 geglo sy het haar seun, AJ, per ongeluk doodgery. Sy is pas onskuldig bevind. Foto: Onkgopotse Koloti

Sy was besig om in die huis te studeer en wou ’n blaaskans van die leerwerk neem.

“My suster se kinders was ook hier en dit was besig by die huis. Ek het besluit om na die laagwaterbrug te ry – water kalmeer my altyd.” 

Sy het die motor agter die huis uitgetrek en met die oprit uitgery na die plaashek, waarna sy met ’n grondpad na die laagwaterbrug gery het.

Sy was sowat ’n kilometer van die huis af toe haar selfoon lui. Dit was haar man, Pieter. “Hy was histeries. Hy het vir my gesê ek het oor AJ gery . . .”

Haar oë rek.

“Ek was in skok. Ek het nie geweet wat om vir hom te sê nie. Ek wou dit nie glo nie. Ek het dan nie eers gevoel dat ek oor iets gery het nie.” 

Pieter het die beseerde, bewustelose seuntjie in sy motor gelaai en na ’n hospitaal op Kroonstad begin jaag.

Hy het Bernadette op pad na die hospitaal langs die pad opgelaai. 

“Ek het net heeltyd gesê ek is jammer; ek is jammer. Ek het onophoudelik gehuil terwyl ons met sy lewelose liggaampie na die hospitaal toe gejaag het.” 

By die Kroon-hospitaal het dokters gespook om die bewustelose AJ by te bring, maar hy is oorlede sonder dat hy sy ogies ooit weer oopgemaak het.

Bernadette onthou sy was “mal” van skok en verdriet.

“Hulle het my daardie aand vir skok in die hospitaal opgeneem. Ek het dit oorweeg om my eie lewe te neem. Ek kon nie met die gedagte saamleef dat ek my eie kind doodgemaak het nie.” 

Ook toe sy terugkeer huis toe, was die seer en vrae pal daar.

“Ek het heeltyd met die skuldgevoel rondgeloop. Ek het myself kwalik geneem. Mense het my begin bel en vir my gesê ek is ’n slegte ma. Dit was ’n bitter moeilike tyd in my lewe. Ek het die hele tyd gewonder hoe kon ek hom nie gesien het nie? Hoe kon ek nie gevoel het ek ry oor hom nie?” 

Pieter het byna twee weke lank nie met haar gepraat nie, erken sy.

“So iets kan nie anders as om ’n invloed op jou huwelik te hê nie.”

Bernadette saam met haar dogter, Jessica, en man,
Bernadette saam met haar dogter, Jessica, en man, Pieter. Jessica vra steeds waar haar broer is. Foto: Verskaf

Tog beklemtoon sy: “Hy het my nooit verwyt of beskuldig dat ek ons kind doodgemaak het nie; hy het my deur alles ondersteun. Selfs toe ek ’n paar keer in die hospitaal opgeneem is met posttraumatiese stres, was hy daar vir my en het hy die fort gehou."

Eindelik het Bernadette se pa, Francois Sequeira,besluit om ’n privaat speurder aan te stel om die gebeure te ondersoek.  

“Hulle het chemikalieë op my kar gespuit om te sien of daar bloed of weefsel was. Hulle kon niks kry nie,” vertel sy nou. 

Die speurder het wel bloed op ’n plaasimplement gevind, en dít het vrae laat ontstaan of dit dalk sy bloed was en of die seuntjie dalk kort ná Bernadette se vertrek daardeur getref en beseer is.

Die bloed is vir DNS-toetse gestuur, maar daar kon nog nie ’n bevinding daaroor gemaak word nie.

Nogtans het dit die hoop by Bernadette laat opvlam dat sy dalk nié vir haar kind se dood verantwoordelik was nie.

“Skielik het ek begin dink iets anders het gebeur en dat ek onskuldig was.”

Terwyl sy van haar lang pad en slapelose nagte sedert die ongeluk vertel, hou sy een van AJ se dinosourusspeelgoed vas. 

“AJ was mal oor dinosourusse en robotte. Hierdie was sy gunsteling speelding . . .” beduie sy verslae.

“Hy was ’n sprankelende klein seuntjie. Vreeslik nuuskierig. Baie besig, maar nie so besig dat hy stout was nie. Hy het altyd die mooiste maniere gehad en was mal daaroor om buite te speel. Hy was ’n regte plaaskind.” 

Koester sy enige kwade gevoelens teenoor die persoon wat dalk wél vir sy dood verantwoordelik was? 

“Nee, ek beskou dit as ’n fratsongeluk. As ek hom eendag moet sien, sal ek vir hom sê ek het hom vergewe. As die Here hom kan vergewe, kan ek hom ook vergewe.” 

Vir haar kan die rouproses ook nou eindelik werklik begin.

“Ek het geweet ek is onskuldig toe die privaat speurder aangestel is, maar die wêreld het steeds gedink ek was skuldig. Nou kan ek met sekerheid sê ek het nie my kind doodgemaak nie. Ek kan behoorlik oor hom treur en afsluiting kry.”

  • ’n Bron na aan die ondersoek het bevestig daar is tans ’n geregtelike ondersoek onderweg om te bepaal wie vir AJ se dood verantwoordelik was.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe