“As ek een mens kan inspireer om nooit op te gee nie of om vroegtydig by ’n dokter uit te kom, sal dit vir my die moeite werd wees,” vertel die blondine van Virginia in die Vrystaat.

Sy sou vandag (Woensdag) haar vierde ronde chemoterapie-behandeling ontvang, maar haar onkoloog het haar tegemoetgekom en die sessie met ’n week uitgestel sodat sy eers Sondag dié ultramarathon tussen Pietermaritzburg en Durban kan hardloop.

Dit is die sesde keer dat sy aan die uitmergelende wedloop deelneem.

Charmaine het middel verlede jaar diarree begin ervaar. “Ek het gedink dis dalk iets wat ek geëet het of miskien spanning oor ’n wedloop wat voorlê. Ek het nie ernstig siek gevoel nie en normaal aangegaan.”

Foto: Facebook.

Haar dogter, Bridgette (16), het bly maan dat haar ma ’n dokter daaroor gaan spreek. “Elke keer as ek vir iets by die dokter was, het ek teen die einde van die afspraak heeltemal vergeet om daaroor uit te vra,” vertel Charmaine.

Bridgette het in die Desember-vakansie in ’n stuk glas getrap. Die wond het begin sweer en Charmaine het haar dogter in Januarie na ’n dokter geneem om dit te laat ondersoek. Dis toe dat Bridgette vir haar ma sê dit is nou haar kans om te vra oor die konstante diarree wat sy ervaar.

Die dokter het voorgestel sy laat 'n kolonoskopie by 'n onkoloog in Welkom doen. Toe die uitslag op 15 Maart terugkom, is kolorektale kanker by Charmaine gediagnoseer.

“Dis soos ’n mat wat onder jou uitgetrek word,” onthou sy. “Ek kon my dokter se mond sien beweeg, maar ek kon nie hoor wat hy sê nie. Ek was so geskok. Ek leef gesond, ek rook nie, ek drink nie, ek oefen en eet oor die algemeen gesond."

'Ek voel fantasties. Ek het nog nie een dag sedert ek gediagnoseer is siek gevoel nie.'

Maar eerder as om op ’n hopie te sit en krepeer, het sy die nuus aanvaar en besluit sy gaan daarop fokus om gesond te word.

Sy het reeds kanker gehad toe sy in Februarie vanjaar die Mieliemarathon in Welkom hardloop om vir die Twee Oseane- en Comrades-wedlope te kwalifiseer.

Haar onkoloog het haar aangespoor om aan te hou hardloop. “Ek is nie ’n dokter nie, maar die hardloop help dat ek nie die newe-effekte van chemoterapie so erg ervaar nie. Dis ’n wonderwerk van die Here dat ek nie siek voel nie.”

Sy het kort voor sy op 4 April met chemoterapie-behandeling begin het die Twee Oseane-marathon suksesvol voltooi. Sedertdien het sy ook ’n marathon in Benoni aangedurf en nou lê die Comrades voor.

“Ek voel fantasties. Ek het nog nie een dag sedert ek gediagnoseer is siek gevoel nie.”

Sy is ook dankbaar vir haar steunnetwerk. Wanneer sy soggens om vyfuur uit die vere is om te oefen, ry haar man, Chris, met die motor langs haar. Hy en Bridgette het ook vanjaar die Twee Oseane saam met haar gehardloop en die halfmarathon voltooi.

Charmaine saam met haar man, Chris, en dogter, Bridgette. Foto: Facebook.

Haar hardloopklub, die Harmony Striders, help ook om haar by te staan as dinge moeilik raak. “Die hele gemeenskap van Virginia bid vir my. Ek glo in my hart die gebede dra my.”

Sy ontvang op 13 Junie haar laaste ronde chemoterapie-behandeling. Daarna sal sy bestraling kry en geopereer word. Sy vertrou ten volle dat sy haar kankerstryd gaan klop. 

Haar hoop is om op vanjaar se Comrades ’n bronsmedalje te verower.

“Ek is nie goue- of silwermedalje-hardloper nie. Ek hardloop vir die lekker. As ek kan, sal ek graag binne die 11 uur-tydperk wil klaarmaak om vir ’n bronsmedalje te kwalifiseer. Maar my hooffokus is om die wedloop te voltooi.”