Die oproep uit die Harrismith-gevangenis was onverwags.

“Ek het nou eers jou brief gekry,” was Nantes Nortjé (48) se eerste woorde aan Huisgenoot se verslaggewer.

Huisgenoot het reeds maande gelede ’n versoek aan die man gerig. Hy sal na verwagting later vanjaar in die rondgaande Vrystaatse hooggeregshof op Harrismith weens die ontvoering van sy tweejarige blondekopseuntjie verhoor word. Dit is nog nie bevestig of Nantes ook van poging tot moord of selfs moord aangekla sal word nie.

Nantes het tot vandag nie ’n woord gerep oor waar Liam, wat op Donderdag 21 Maart vier jaar oud sou word, hom bevind nie.

Wynette Nortjé (20), Liam se oudste sussie, het verlede maand aan Huisgenoot gesê al wat sy op die dag kon wens is dat haar klein boetie geweet het hy verjaar.

Die polisie vermoed Liam is dalk reeds op die dag van sy verdwyning op 21 November 2017 vermoor. Daarom die stilswye.

En toe kom die oproep. Hy bel vanuit die Harrismith-gevangenis.

Tyd is min.

“Sê net asseblief: Leef Liam nog?”

Hy antwoord met oortuiging: “Ek weet Liam leef. Hy is veilig.”

Maar hoekom sal hy nie vir die polisie of sy eksvrou, Liam se ma, Cheinelle, sê waar hy is nie?

“Cheinelle was ’n slegte ma. Al wat ek wil doen is om my kinders te beskerm. Ek is jammer waardeur my familie – my broers en susters – tot dusver moes gaan.”

Liam was hul laatlammetjie. Foto: Verskaf.

Doen hy dit om Cheinelle te straf?

“Cheinelle was die beste vrou ter wêreld, wat ek gehad het, maar sy was nie 'n goeie ma nie. Ek doen dit om ons kinders te beskerm.”
Nantes het benewens Liam en Wynette nog ’n tienerdogter by Cheinelle. Sy het kort voor Liam se ontvoering aan hom aangedui dat sy nie hul huwelik ’n tweede kans wou gee nie.

Ons vra Nantes wat het Cheinelle gedoen om hom kwaad te maak?

Nantes het toe bewerings teen ’n vriendin van Cheinelle gemaak.

Huisgenoot het Cheinelle Dinsdag gekontak en al die bewerings aan haar gestel.
“Dis alles ou stories van hom. Al wat hy doen, is lieg.” Sy sê die kwaadwillige bewerings teen haar en veral haar vriendin wat deur alles by haar gestaan het, is “kinderagtig”.

Liam is al van November 2017 vermis.
Liam is al van November 2017 vermis.

Nantes het die gesprek beëindig en gesê die waarheid sal nog uitkom.

“Daar is altyd drie kante aan ’n storie: myne, joune en die waarheid. Ek weet wat die waarheid is.”

  • Sers. Mmako Mophiring, plaaslike polisiewoordvoerder, het aan Huisgenoot bevestig die verhoordatum en aanklagte is nog nie gefinaliseer nie. Huisgenoot het verneem die staat mik vir Junie.