Wanneer sy na hom kyk, sien sy die man in sy blou uniform op wie sy jare gelede verlief geraak het. Die man wat geen steen onaangeroer sou laat om ’n skurk voor die gereg te bring nie.

Sy sien nie die man wie se liggaam so afgetakel is weens siektes dat hy niks meer vir homself kan doen nie.

Ilze Landman (40) vryf liefderik oor haar man, Kobus (36), se arm, wat vol letsels is. Sy kyk vlugtig na hom waar hy langs haar in ’n rolstoel sit hier in hul sitkamer in Reddersburg in die Vrystaat. Op haar gesig is ’n glimlag. Sy gesig is vertrek van die pyn.

As hy nie hier in sy rolstoel is nie, lê hy in die bed.

Foto: Fani Mahuntsi
Foto: Fani Mahuntsi

Ja, sy het geweet hy is siek toe sy in 2005 in die NG kerk in Ladysmith haar liefde en trou vir altyd en in alle omstandighede aan hom beloof het. Maar hoe siek hy sou word het sy nie daardie dag geweet nie.

Dit is nou al sedert April 2019 wat Kobus aan ’n rolstoel vasgekluister is en niks meer vir homself kan doen nie.

Sistemiese lupus eritematose (SLE) is reeds in 2003 by hom gediagnoseer. Dié siekte tas die immuunsisteem aan wat die liggaam se gesonde weefsel, asook die organe, aanval en vernietig. Daarby ly hy ook van jongs af aan rumatoïede artritis.

Ná hy aan die begin van 2019 vir drie maande in ’n koma was, is Guillain-Barré-sindroom ook gediagnoseer. Hierdie steuring val weer die senustelsel aan.

Oor die jare het Kobus al meer as 200 operasies gehad.

Nou moet hy heeltyds versorg word en sy liggaam is in permanente pyn, ondanks die hande vol sterk pynpille wat hy elke dag drink.

Toe ek in 2005 met hom getroud is, het ek geweet ek trou met ‘n siek man. Maar as jy lief is vir iemand, dan maak dit nie saak nie.

Ilze is ’n sersant by die polisie in Reddersburg in die Vrystaat. Tussendeur is sy ook ma vir hul drie kinders, Ashleigh (18), Sam (13) en Aiden (7). Maar baie van haar tyd gaan in die versorging van haar “liefie” in.

Ondanks alles sal sy wéér met hom trou, sê Ilze.

“Toe ek in 2005 met hom getroud is, het ek geweet ek trou met 'n siek man. Maar as jy lief is vir iemand, dan maak dit nie saak nie. As jy lief is vir iemand, is hiérdie versorging nie ’n berg in jou pad nie.”

Foto: Fani Mahuntsi
Foto: Fani Mahuntsi

Vandat hulle mekaar in die vroeë 2000’s by die polisie se opleidingskollege in Chatsworth in KwaZulu-Natal ontmoet het, was Kobus eerlik met Ilze oor sy gesondheidsprobleme.

Reeds van sy skooldae af, was hy minstens een keer ’n jaar in die hospitaal opgeneem vir onverklaarbare gewrigpyn, chroniese moegheid en borspyn. Niemand kon egter vasstel wat fout is nie.

In 2003 het die liefde al hoogty gevier tussen dié twee. Hul oudste, uit ’n vorige verhouding wat Ilze gehad het en wat hy as sy eie groot gemaak het, was reeds ’n woelige peuter. Dit is ook toe wat Kobus se simptome weer kop uitgesteek het.

Wéér het niemand vir Kobus antwoorde gehad nie. Sy huisdokter in Ladysmith, waarheen hulle intussen verplaas is, het in Julie 2003 vir hom ’n afspraak by ’n spesialis in Bloemfontein gemaak. Hy was toe vir 21 dae in die hospitaal waarna lupus by hom gediagnoseer is.

Kobus se lupus het stelselmatig erger geword. Die ryery tussen Ladysmith en Bloemfontein om die spesialis te gaan sien, het ook al hoe meer gereeld gebeur.

Nee, sy kan nie nou so uit haar kop uit onthou hoeveel keer hulle heen en weer moes ry nie, sê sy.

“Dit was minstens een keer elke jaar, maar later het dit sommer baie keer per jaar geword,” sê Kobus.

“Ons sou oggend die 400 km Bloem toe ry. Dan boek ek hom in die hospitaal in en ry dieselfde dag weer terug. Ek moes, want ek moes werk. Daar was ook eers een, toe twee, en later drie kindertjies in die huis wat versorg moes word.”

Maar sy onthou ook hoe ’n mens “nooit die polisieman uit hom kon kry nie. Al was hy op siekverlof en op pad hospitaal toe”.

Sy vertel hoe hulle op pad hospitaal toe sou wees, dan is Kobus siek en deurtrek van die pyn. Maar as hy iemand verdags langs die pad sou sien, dan moes hulle eers stop sodat hy ondersoek kan instel.

“As hy dink die persoon was by misdaad betrokke, is daar en dan ’n arrestasie gemaak en die verdagte is eers na die naaste polisiekantoor gevat.

“Ek moes gereeld met hom raas en sê ‘nee, lief. Los dit, ons moet nou eers hospitaal toe’.”

Kobus grinnik en druk met sy linkerhand teen sy voorkop. Twee van sy vingers is geamputeer. “Sien jy daai?” vra Ilse.

Foto: Fani Mahuntsi
Foto: Fani Mahuntsi

Dit was in 2015 toe die been in een vinger só erg verbrokkel het weens die lupus dat hy nie meer met die pyn kon saamleef nie. Hul huisdokter was oorsee. Kobus kon die pyn nie meer vat nie en besluit toe om sommer self van die vinger ontslae te raak.

“Hy het al begin om gereedskap in die garage bymekaar te maak om dit self te doen. Ek moes net keer,” vertel Ilse.

Sy is haastig na die instaan-dokter, by wie sy wou weet of hy met lupus-pasiënte werk. Hy antwoord toe nee, waarna sy vra “kan jy 'n vinger afsny”? Toe hy bevestigend antwoord, sê sy “dan moet jy dit doen”. Nog 'n vinger, asook twee van sy linkertone, is later ook geamputeer.

Kobus se gesondheid het net meer en meer agteruitgegaan. Blase het meer gereeld orals op sy lyf verskyn wat weer wonde geword het. Dié moes Ilze skoonmaak en versorg.

Hy kyk sag na haar terwyl sy vertel. “Sy doen 'n beter job as die verpleegsters.

“Sy is my beste verpleegster en my beste vriend. Sy is die een wat deur alles by my staan.”

Aan die begin van 2019 het sy immuunsisteem so agteruitgegaan dat die chirurge in Bloemfontein hom vir 21 dae in 'n kunsmatige koma geplaas het sodat sy liggaam kan rus. Ilze en hul kinders het ure lank langs sy bed gospelliedjies vir hom gesing.

Toe is Kobus met Guillain-Barré-sindroom gediagnoseer.

“Dis moeilik om jou cool te hou terwyl jy binne in jou eintlik uitfreak,” sê Ilze.

REDDERSBURG,FREE STATE - NOVEMBER,19: An Interview
Foto: Fani Mahuntsi

Die ryery het vir Ilze te veel geword en sy het gevra vir ’n oorplasing na ’n plek nader aan Bloemfontein. Reddersburg, sowat 70 km van Bloemfontein, was die antwoord op haar gebede.

Hy bly my man. Geen moeite is vir my te veel nie. Ek is lief vir hom.

Ilze moes dié trek in Junie 2019 alleen behartig, want Kobus was wéér in die hospitaal.

Toe hy daar uitkom, was daar niks meer wat hy vir homself kon doen nie.
Maar dít het Ilze nie gebreek nie.

“Hy bly my man. Geen moeite is vir my te veel nie. Ek is lief vir hom,” sê Ilze.
 
Ilze moet alles vir Kobus doen. En sy doen dit met die grootste geduld.
Soggens staan sy op, help Kobus om badkamer toe te gaan, bad hom en trek hom aan.

“Ek word deesdae gebad, gepoeier en geroom. Alles soos wat jy met ’n baba doen!” besing Kobus sy vrou.

“Daar is dae wat ek by die venster uitkyk en moedeloos raak. Maar sonder my vrou se ondersteuning, sou ek nie hierdeur kon gaan nie.”

Ilze sê Kobus raak egter soms baie gefrustreerd en geïrriteerd met sy situasie, dan raak hy kortaf met die familie.

“Dit maak dit moeilik.”  

Maar wat moeiliker is, is hoe sleg haar kinders dit vat.

Daar was die keer toe Aiden haar vra “maar wat as pappa nie gesond word nie”.

“Wat is die regte antwoord om ’n kind te gee? Hoe antwoord jy jou kind as hy jou vra wanneer hý gaan doodgaan?”

Vir Ashleigh is dit sleg dat haar pa nie kan loop nie.     

Ilze kan nie glo hy was maar twee jaar gelede nog 'n fors en geharde polisieman nie.

Toe het hy nie geskroom om misdadigers te jag of vir ure te sit om ’n korrupsie-nes te ontbloot.

Sy erken sy raak soms moeg en moedeloos.

“Maar dan dink ek, wie is ek wat gesond is, om te mag moan. Dit is sy sterkte in die situasie wat vir my die krag gee om aan te gaan. ”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.