’n Mens kan steeds die verslaentheid in Nadia Lausberg (26) se stem hoor wanneer sy van haar vriende Michael Nelson (32) van Harrismith en David Crause (27) van Kestell se dood vertel.

Nadia, wat saam met haar man op ’n plaas buite Harrismith woon, vertel: “My ma het my Saterdagoggend gebel. Toe ek die foon optel het sy vir my gesê sy het vreeslike slegte nuus. Sy het gesê Michael was in ’n ongeluk en dat hy oorlede is. My hart het in my voete gesink. Sy het my kans gegee om asem te skep en toe vir my gesê dat David ook oorlede is.”

David Crause was baie gefokus op sy werk. Foto: Fa
David Crause was baie gefokus op sy werk. Foto: Facebook

Nadia vertel sy kon skaars glo wat sy hoor.

“Ek was geskok, kwaad en hartseer. Die trane het onmiddellik gevloei.”

Sy vertel sy het nadat sy tot verhaal kon kom, eers gevra wat gebeur het. Dit is toe dat haar ma, Marlene van Niekerk, haar vertel het dat elkeen in hul eie motor was. Hulle was dus nie saam in een motor nie.

“Ek was geskok, kwaad en hartseer. Die trane het net onmiddellik gevloei...”

Sover Nadia se kennis strek was die twee mans nie vriende nie, maar het hulle mekaar dalk geken.

Michael kom oorspronklik van Bethlehem en David van Ficksburg. Hulle is albei op die toneel dood nadat hulle reg van voor teen mekaar gebots het.

Michael, ’n elektrisiën van Harrismith en pa van twee jong seuntjies, was die aand op pad huis toe. Hy het die dag op Clarens werk gedoen. 

Dawid, ’n dieselwerktuigkundige, wat op Harrismith gewerk het, was op pad na sy huis in Kestell.

Die botsing tussen Michael en David, onderskeidelik in ’n Ford Figo en Hyundai i10, het Vrydagaand sowat 15 km buite Kestell op die Harrismith-Kestell-pad gebeur. 

Gevaarlike pad

“Dit is ’n baie gevaarlike pad met al sy draaie,” vertel Nadia oor dié pad wat al talle lewens geëis het. Nadia vertel ironies genoeg was Michael saam met haar ouers in 2012 op daardie selfde pad in ’n ernstige ongeluk met ’n vragmotor betrokke. Nadia en Michael het ook daarna saam ’n motorfietsongeluk oorleef. 

Sy en Michael was agt jaar bevriend.

Michael en sy jongste seun. Foto: Facebook
Michael en sy jongste seun. Foto: Facebook

“Ek onthou ek het destyds in die hotel op Kestell vir sakgeld gewerk toe Michael saam met ’n klomp bikers daar instap. Hy baie lief vir bike ry en ek ook. Ons het daardie aand dadelik gekliek. Hy het my ‘Sarie’ genoem. Ek sê toe: ‘Maar dis reg as ons nou vir mekaar byname gaan hê.' Van daar af was hy ‘Freek’.

Michael Nelson het vir homself as elektrisiën gewe
Michael Nelson het vir homself as elektrisiën gewerk. Foto: Facebook

”Sy vertel Michael het twee klein seuntjies. Michael is onlangs van die jongste se ma geskei.

Michael Nelson by sy seuns. Foto: Facebook
Michael Nelson by sy seuns. Foto: Facebook

“Michael was die beste pa vir sy kinders en die beste vriend waarvoor 'n mens kon vra. Hy het baie goed gedoen vir homself en die mense van Harrismith was mal oor hom. Hy was ’n pel, wat jou vriend sonder enige voorwaardes of vereistes was. Hy was lief vir almal. Selfs as iemand hom leed aangedoen het, sou hy die mens onmiddellik vergewe. As hy gesê het hy is lief vir jou, het hy dit bedoel. Hy sou uit sy pad gaan om ’n mens te help – dag of nag.”

Nadia vertel sy ken David al 10 jaar.

“Hy was ’n unieke karakter. Ons het mekaar ontmoet terwyl hy nog vir die padkonstruksiemaatskappy Raubex as appy gewerk het. Kan jy dink; hy het daardie pad help bou.”

David Crause en sy meisie, Charlize van Rensburg,
David Crause en sy meisie, Charlize van Rensburg, het vanjaar begin uitgaan. Foto: Facebook

Sy vertel David was nie getroud nie en het nie kinders gehad nie. Hy was een van ’n drieling en het onlangs met ’n meisie, oor wie hy baie erg was, begin uitgaan.

David Crause was een van 'n drieling. By hom is sy
David Crause was een van 'n drieling. By hom is sy susters, Elsje (links) en Anne-marie. Foto: Facebook

“Ek weet sy familie is stukkend. David was so ’n saggeaarde mens. Hy was nooit lelik met enigiemand nie. Hy was ordentlik en gefokus op sy werk.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe