’n Ma van Harrismith in die Oos-Vrystaat klou nog aan hoop dat haar vervreemde man hul driejarige blondekopseuntjie in die veilige bewaring van iemand anders se sorg gelaat het – al weier hy om vir haar of die polisie te sê waar hul kind is.

Cheinelle Nortjé (42) glo haar vervreemde man, Nantes (47), wat nou van hul seuntjie se ontvoering aangekla word, het dit gedoen om haar te straf omdat sy ná ’n huwelik van 23 jaar besluit het om van hom te skei. Maar al word Liam al agt maande vermis, glo sy sy sal hom weer sien.

“Ek wens hierdie uiterste hel nie op my grootste vyand toe nie. Ek wil net vir Nantes sê: ‘Sê vir my waar Liam is. Ek wil hom net weer in my arms vashou. Ek sal nie ons kind van jou af weghou nie.’ ”

Liam en sy ma, Cheinelle.

Nantes is sowat ’n maand gelede op 18 Julie by ’n huis in Ladysmith in KwaZulu-Natal aangekeer nadat hy einde November verlede jaar saam met Liam op die vlug geslaan het. Daar was egter geen spoor nog van Liam nie.

Nantes het sedertdien al drie keer in die hof verskyn.

Liam word al agt maande vermis.

Sers. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder het aan Huisgenoot bevestig sy laaste verskyning was op 6 Augustus in die landdroshof op Harrismith op aanklag van ontvoering, maar hy het sedert sy inhegtenisneming nog nie ’n woord gerep oor waar Liam is nie.

“Die ondersoek is steeds aan die gang en kom nou al ’n baie lang pad,” sê Mophiring. Hy bevestig Nantes sal weer op 21 Augustus in die hof wees vir ’n formele borgtogaansoek.

Liam

Die laaste keer dat Cheinelle haar jongste se stem gehoor het was op 21 November toe Nantes haar gebel en erg met haar baklei het. Die laaste wat hy vir haar gesê het terwyl sy ’n ontstelde Liam in die agtergrond hoor skree het, was: “Jy sal nooit weer vir Liam sien nie.”

Hy het vir haar gesê hy het vir haar ’n verrassing in haar kamerasak op Kestell gelos.

Cheinelle vertel haar huwelik het om verskeie redes nie uitgewerk nie, en Nantes het uitgetrek en by ’n familielid op die buurdorp, Kestell, gaan bly. Hy het steeds baie met Liam se versorging gehelp aangesien sy voltyds werk.

Cheinelle het so gou moontlik met ’n geleentheid Kestell toe gegaan.

“Liam het die mooiste blonde hare en ons het nooit die stertjie agter in sy nek gesny nie.”

Dít vertel sy was die skokfonds.

“Die afgesnyde stertjie was aan ’n rekkie vasgebind en die puntjies was verbrand. Ek was histeries. Ek was mal. Dit is die naaste wat ek sedertdien aan Liam gekom het.”

Sy vertel sy het nog twee dogters, Wynette (18) en Rochelle (15), wat gebroke gelaat is ná hul kleinboet se verdwyning.

  • Tania Opperman van die South African Support Initiative (SASI), wat daarin spesialiseer om vermiste persoon te help opspoor, staan Cheinelle en haar gesin die laaste agt maande by.

    Sy vra dat enigiemand met inliging haar by 084-830-1031 of Wendy Pascoe, ook van SASI, by 064-648-1577 bel. Mense kan ook die polisie in Harrismith se eenheid vir gesinsbeskerming, kindermishandeling en seksuele misdrywe (GKS) by 058-624-1000 bel.