Dit is byna onmoontlik om te begryp dat Esthea Moll (31) van Bethlehem deur sulke diep waters kon gaan en steeds positief kan bly. 

Haar tweejarige seun, Wian, moet op 28 November ’n opehartoperasie ondergaan, slegs ’n jaar nadat haar man, Harald (32), onverwags aan hartprobleme dood is op ’n Mighty Men-konferensie op Fouriesburg. 

“Dit is nie altyd maklik nie. Jy moet ma en pa wees, maar ek staan sterk.

"Ek glo dat die Here elke dag vir my krag gee om op te staan en die beste ma vir my seuntjie te wees,” sê die onderwyseres. 

Wian het ’n gat in een van sy hartkamers wat omtrent 8 mm groot is. “’n Pediater het dit omtrent so 'n jaar gelede agtergekom ná my man se dood.

"Ons het gedink dit sal met tyd toegroei, maar dit het nie.” 

Dit is die derde groot terugslag wat dié vrou beleef. 

Op 7 November 2017 was Esthea en vier van haar kollegas van Bethlehem op pad na die Retief Gekombineerde Skool op Kestell toe hulle in ’n gru-ongeluk betrokke is. 

’n Vragmotor met ’n vrag stene het hul motor aan die kant getref. Coreen Monk (30) is in die ongeluk dood. Esthea het ernstige beserings opgedoen en twee van haar nekwerwels  gebreek. 

“Ek het ’n nekoperasie ondergaan en die herstelproses was lank en uitdagend, maar my wonderlike man en gesin het my gesteun. 

“Ek kon vier maande lank nooit my seuntjie self optel nie en my man het letterlik alles vir my gedoen.” 

Toe kom die tweede skok toe haar man skielik op 13 April 2018 sterf. “Ek het hom gegroet en nooit gedink dat dit ons laaste keer sal wees nie.

"Op 14 April het ek die oproep ontvang dat Harald oorlede is. 

“Ek was histeries. Ek wou skree. Hoe kon so iets moontlik wees? Ons was skaars twee jaar getroud en ons seuntjie was toe 11 maande oud.” 

Sy sê dit was haar geloof wat haar deur al die pyn gedra het. “Ek was kwaad, maar het later geleer dat God nooit iets op jou pad sal plaas wat Hy weet jy nie kan hanteer nie.

"Wian het 'n week later een jaar oud geword, sonder sy pappa.” Sy sê die feit dat haar seuntjie nou ook hartprobleme het, is vir haar moeilik en sy is senuagtig oor wat vir hulle voorlê. 

“Gelukkig het ek wonderlike familie en vriende wat daar is vir ons en al is ek deur diep waters, weet ek verseker ek sou dit nie kon oorleef sonder God in my lewe nie.”