Met die stowwerige rooi grond wat ná die impak van die ongeluk nog in die lug gehang het, het Suné Roux (23), ’n beroepsperderuiter, net een bekommernis gehad: Die veiligheid van haar angsbevange hond wat uit die wrak gespring en van die ongelukstoneel gevlug het.

Sune en Benedict
Die wrak van die motor ná die ongeluk. Foto: Verskaf

Maar daar op die ongelukstoneel, waar die 23-jarige pas ’n potensieel noodlottige ongeluk vrygespring het deur net haar skouer uit pootjie te haak, was die moontlike verlies van haar eenjarige labrador-hondekind, Benedict, vir haar ’n seer gedagte.

Tog kon sy niks doen nie. Want nadat ’n verbyganger nooddienste na die toneel ontbied het, is sy in ’n ambulans gelaai en na ’n Bloemfonteinse hospitaal geneem, met die lot van haar geliefde hond in weldoeners se hande . . .

Toe rig haar familie Maandag (8 April) ’n pleidooi op Facebook – en gemeenskapslede van die Bultfonteindistrik in die Wes-Vrystaat het dadelik hande gevat om Suné se hondekind te help opspoor.

Sune en Benedict
Wian kort nadat hy en ander boere vir Benedict opgespoor het. Foto: Verskaf

“My sussie was in ’n ongeluk sowat 10 km buite Bultfontein,” het die pleidooi nog gelui. “Sy het haar labrador saam met haar in die bakkie gehad – hy is steeds vermis.”

Maar minder as 24 uur later het gemeenskapslede daarin geslaag om Benedict in dieselfde omgewing as die ongelukstoneel op te spoor – en hy is ongedeerd, vertel Carla Roux, Suné se suster.

“Ons het gister heeldag gehuil. Deels daarvan was vir die groot dankbaarheid dat die Here Suné gespaar het; dit kon soveel erger gewees het. Maar ons harte was ook baie seer oor Benedict. Hy was vir my sussie soos ’n kind, en ons het so gehoop dat ons hom weer ongedeerd sal opspoor.”

Sune en Benedict
Wian neem Benedict na sy huis. Foto: Verskaf

Die eerste goeie nuus het Maandagaand al gekom: Suné is uit die hospitaal ontslaan en sy kan huis toe gaan. 

“Dit was ’n wonderwerk en dat dinge vandag soveel anders kon gewees het. Die impak van die ongeluk was so erg dat die bakkie afgeskryf is. Maar ons is dankbaar dat die Here haar beskerm het. En met dié goeie nuus het ons gehoop dat ons ook goeie nuus oor Benedict sou kry,” vertel sy.

En hulle het. Want teen Maandagmiddag het tientalle gemeenskapslede en boere van die omgewing na Benedict begin soek, en die soektog het tot Dinsdagoggend 02:00 voortgeduur.

Sune en Benedict
Suné se bakkie is afgeskryf. Foto: Verskaf

Vanoggend het die familie toe die oproep van Wian Venter, ’n plaaslike boer, gekry: Hulle het Benedict by die ongelukstoneel aangetref en hy is veilig. Volgens Carla was hy ooglopend skrikkerig en bang vir die vreemdeling, maar hulle het sy vertroue gewen en hom na ’n omliggende plaas geneem. 

Suné en Benedict is laatoggend reeds met mekaar herenig, en die gesin beoog om hom vandag nog na ’n veearts te neem om hom te laat ondersoek.

“Ons harte is vol. Ons weet nie eens hoe om vir almal dankie te sê nie. Dis wonderlik om te sien hoe die gemeenskap saamstaan en hoe wildvreemdelinge aangebied het om ons met die soektog te help. ’n Mens besef nie hoe maklik so iets gebeur nie, maar vandag is Suné en Benedict albei vir ons gespaar; en daaroor is ons oneindig dankbaar.”

Sune en Benedict
Benedict. Foto: Verskaf