Vreemde teksboodskappe het ’n vriendin van die vrou snuf in die neus laat kry, en David Anthony (48) is intussen in Las Cruces, Nieu-Mexiko, in hegtenis geneem op aanklagte van moord en ontvoering.

Gretchen Anthony (51) van Jupiter, Florida, se teksboodskap in Maart aan ’n vriendin het gelui dat COVID-19 by haar gediagnoseer is en dat sy deur die CDC (Centers for Disease Control and Prevention) in die stad Belle Glade aangehou word.

Maar dit blyk toe die CDC het nie eens ’n tak in Belle Glade nie. 

Nog ’n vriend het na vore gekom en beweer als is nie pluis met Gretchen se oënskynlike COVID-19-diagnose nie.

Volgens hom het sy op 21 Maart opgehou om bekend te maak waar sy haar bevind, iets wat heeltemal buite haar aard was. En dan was daar die woorde wat in haar teksboodskappe verskyn het; woorde wat sy nie normaalweg sou gebruik nie.

Dis toe die soeklig na antwoorde op haar man begin skyn.

Die twee was weliswaar nog getroud, maar Gretchen het op 28 Februarie ’n aansoek om ’n egskeiding ingedien. En op 25 Maart het David sy hond in sy bakkie gelaai en vir die bure gesê hy trek Costa Rica toe – wat later geblyk het ’n leuen te wees.

’n Ping van Gretchen se selfoon het dit in die omgewing van Pensacola geplaas, ’n plek waar David homself bevind het. Dit was ook daar waar David glo ’n sak met juweliersware aan ’n juweliersklerk probeer verkwansel het.

Dié transaksie is op geslote kringtelevisie vasgelê en daarin kan ’n man wat soos David lyk asook David se bakkie gesien word.

Foto: The Jupiter Police Department
David se bakkie. Foto: The Jupiter Police Department

Volgens die klerk het die persoon wat soos David lyk, gesê sy “ma of stiefma” het weens COVID-19 gesterf en dat die juweliersware aan haar behoort het.

Maar dit was die bure wat gehelp het om die spreekwoordelike spyker in die doodskis te slaan. Toe die polisie op 26 Maart by die egpaar se huis vir verdere ondersoek aankom, wou die bure weet of hulle die “aanval" wat die Saterdagoggend plaasgevind het kom ondersoek.

Daar was glo kort voor halfsewe die oggend ’n bloedstollende gil en ’n vrou wat geskree het. Volgens die bure het die geluide van die stoep of in die omgewing van die motorhuis gekom.

Tydens ’n geregtelike ondersoek het die polisie bloed op die motorhuisvloer aangetref. Daar was ook handdoeke in die wasmasjien met iets rooierig daarop, ’n gebreekte glaspaneel op die trap en iets wat soos klein druppels bloed lyk in die hoofslaapkamer.

David is op 31 Maart in Las Cruces in hegtenis geneem waar hy wag om aan Palm Beach County uitgelewer te word.

Gretchen se liggaam is nog nie gekry nie. Haar motor, ’n donkerblou Mini Cooper, is in die parkeerterrein van die Jupiter mediese sentrum gevind.

Bronne: cbs12.com, independent.co.uk, Facebook, thepalmbeach.post