Foto: Gallo Images/Getty Images/Reuters
‘My ma het altyd gesê: Kamala, jy kan miskien die eerste een wees om iets te doen, maar maak seker jy’s nie die laaste een nie’. Foto: Gallo Images/Getty Images/Reuters

Gewoonlik is dit ’n bietjie van ’n bysaak – die aanwys van die kandidate vir die visepresidentskap van Amerika. Maar toe Joe Biden (77), die Demokratiese Party se presidentskandidaat, onlangs sy verkiesingsmaat bekendmaak, het dit sy geldinsamelings en meningspeilings oor hom onmiddellik versterk.

Die Kaliforniese senator Kamala Harris (55) sal saam met hom in die Novemberverkiesing wees – en saam, hoop ondersteuners van die Demokratiese Party, kan hulle dalk net die Republikeinse Party se pres. Donald Trump (74) en sy verkiesingsmaat, Mike Pence (61), bloedneus gee.

Want terwyl Trump se keuse geen verrassing is nie – hy het al in 2018 aangedui hy gaan weer vir Pence, die huidige visepresident, kies – meen ontleders Biden s’n stuur ’n sterk boodskap, veral in die nasleep van die betogings teen rassisme en polisiegeweld wat in Mei deur die dood van George Floyd veroorsaak is.

Harris, ’n Kaliforniese senator, maak geskiedenis met haar kandidaatskap. Sy is die dogter van immigrante uit Jamaika en Indië en word die eerste swart vrou en die eerste Amerikaner van Oosterse herkoms wat vir die amp in aanmerking kom.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Kamala Harris. Foto: Gallo Images/Getty Images

Boonop lek haar ondersteuners hul lippe af vir enige verkiesingsdebatte tussen haar en Pence. Sy is bekend daarvoor dat sy nie doekies omdraai in die senaat nie – en baie meen Pence sal moet bontstaan om haar aanvalle op Trump af te weer.

So vergelyk die twee visepresidentskandidate.

Kamala Harris

Haar agtergrond

Die dogter van Shyamala Gopalan, ’n kankernavorser van Indië, en Donald Harris, ’n ekonoom van Jamaika, het al tydens haar grootwordjare in Kalifornië dinge begin bevraagteken en opgestaan vir waarin sy glo.

Toe sy 13 jaar oud was, het Harris en haar jonger suster, Maya, ’n betoging voor hul woonstelblok gelei uit protes teen ’n beleid waarvolgens kinders verbied is om op die gras te speel.

Sy en Maya het ná hul ouers se egskeiding by hul ma gewoon. Sy het regte aan die Universiteit van Kalifornië, Hastings, studeer en het in 1990 as ’n assistentstaatsaanklaer begin werk – eers in die Alameda-distrik en toe in San Francisco.

Harris is in 2014 met die prokureur Doug Emhoff (55) getroud. Al het hulle nie kinders van hul eie nie, het sy ’n hegte band met sy twee kinders uit ’n vorige huwelik.

Omstredenheid

  • In 1990, toe sy by die Alameda-distriksaanklaer in Oakland gewerk het, het sy ’n affair met die stad se toekomstige burgemeester, Willie Brown, gehad. Dit is ’n vlekkie op haar andersins byna onberispelike verlede wat waarskynlik oor die volgende paar maande opgehaal sal word.
  • Party mense het gevoel sy doen nie genoeg as staatsaanklaer om polisiewreedheid teen swart burgers aan te pak nie en dat sy te streng op verdagtes uit minderheidsgroepe was.
  • Haar eie veldtog om die presidentskap verlede jaar het belowend begin, maar later stoom verloor te midde van beskuldigings dat sy veldtogpersoneel sleg behandel het.
  • Haar standpunt oor gesondheidsorg in Amerika was tot dusver wisselvallig, wat kiesers skepties maak – en ontleders beweer kiesers het nie duidelikheid oor al haar standpunte nie.

    Haar verhouding met Biden

    Tydens die Demokrate se presidentsveldtog het Harris Biden aangevat oor sy vroeëre teenkanting teen “busing” – die praktyk waar swart kinders uit armer buurte met busse aangery word om rasseintegrasie by staatskole te probeer bevorder.

    Sy het gepraat oor ’n meisie wat elke dag in Kalifornië aangery is skool toe, en toe ná ’n oomblik se stilte bygevoeg: “Daardie meisietjie was ek.”

    Die gesprek – en hoe sy Biden op sy plek gesit het – het soos ’n veldbrand versprei. Met hul eerste amptelike verskyning as verkiesingsmaats het Biden haar as “slim”, “taai” en “ervare” beskryf.

    Hy het ook erken haar vriendskap met sy oudste seun, Beau (46), wat in 2015 aan breinkanker dood is, het in haar guns getel. Die twee het albei as staatsaanklaers gedien.

    Haar prestasies

    In haar eerste drie jaar as San Francisco se eerste vroulike distriksaanklaer (“district attorney“ – ’n amp waartoe jy in Amerika verkies moet word op streekvlak) het die vervolgingskoers van 52% tot 67% toegeneem.

    In 2010 is sy tot “prokureur-generaal” van Kalifornië verkies (“attorney general“ – ’n pos vergelykbaar met LUR vir justisie) – die eerste swart vrou wat dit reggekry het – en ses jaar later het sy ’n Kaliforniese senator geword.

    Sy is onbeskroomd ambisieus, en toe ’n verslaggewer haar ’n ruk gelede gevra het of sy pres. Barack Obama se nalatenskap sou wou voortsit, het sy hom gou op sy plek gesit met: “Ek het my eie nalatenskap.”

    MIKE PENCE

    Sy agtergrond

    Die voormalige goewerneur van die deelstaat Indiana is in Columbus in dié staat gebore en getoë. Hy was een van ses kinders. Sy pa, Edward Pence, was ’n weermagveteraan wat ’n aantal vulstasies bedryf het.

    Pence (69) het ’n regsgraad en het ’n kort ruk as prokureur gewerk, waarna hy die politiek betree en ’n Republikeinse wykskomiteelid geword het. In 1988 en 1990 het hy onsuksesvol probeer om tot die Amerikaanse Kongres verkies te word.

    Hy was sedert 1994 die aanbieder van ’n radiogeselsprogram wat later tot ’n televisieprogram uitgebrei is. Albei programme is in 1999 beëindig, waarna Pence hom in 2000 weer op die politiek toegespits het.

    Hy het hom in Indiana verkiesbaar gestel vir die Kongres en was dié keer suksesvol. Hy is sedert 2017 visepresident.

    Pence was voorheen Rooms-Katoliek, maar het meer as 30 jaar gelede ’n evangelistiese rigting ingeslaan om met sy vrou, Karen Batten (63), te trou. Hulle het drie kinders.

    Omstredenheid

    • Tydens sy 2000-veldtog het Pence op sy webtuiste gesê hulpbronne moet “gekanaliseer word na instellings wat mense help wat hul seksuele gedrag wil verander”. Sommige kiesers het aangeneem Pence is ’n voorstander van terapie om gay mense se seksualiteit te wysig.
    • As goewerneur het hy in 2015 ’n wet goedgekeur wat sakeondernemings in Indiana toelaat om voornemende kliënte op grond van hul geloofsoortuigings weg te wys. Hy moes dit ’n week later aanpas sodat dit nie teen gay mense diskrimineer nie.
    • In ’n 2002-onderhoud het Pence gesê hy eet nooit alleen saam met vroue wat nie sy eie vrou is nie en dat hy niks bywoon waar alkohol is wanneer sy vrou nie aan sy sy is nie. Dit was glo sy eie reëls om sy reputasie en huwelik te beskerm.
    • Pence lei Amerika se coronavirustaakspan, maar het in April ’n mediese sentrum sonder ’n masker besoek. Volgens die kliniek se beleid moes almal maskers dra, maar Pence het glo nie gedink dis nodig nie. Hy het later erken hy moes eerder ’n masker gedra het. Maar sy hantering van die pandemie ontlok steeds kritiek.

    Sy prestasies

    Pence het in 2015 goedkeuring van die staat gekry vir ’n bekostigbare mediese versekeringsplan vir inwoners van Indiana wat ’n laer inkomste verdien en nie andersins versekering het nie.

    Foto: Gallo Images/Getty Images
    Mike Pence. Foto: Gallo Images/Getty Images

    Hy word nie dikwels geloof as visepresident nie, en kritici sê hy was nie juis sigbaar die afgelope vier jaar nie en maak bloot voorspraak vir Trump se veldtogte. Hy het wel glo sowat R70 miljoen vir die 2020-verkiesingsveldtog ingesamel.

    Volgens politieke ontleders het Pence die “politieke ervaring, konneksies en dissipline” wat Trump nie het nie. Hy het glo goeie verhoudings met donateurs en is gewild onder die evangelistiese gemeenskap en konserwatiewe kiesers.

    Sy verhouding met Trump

    Ondersteuners beskou hom as ’n kalmerende invloed op die vurige en impulsiewe Trump omdat sy aanslag en waardes van Trump s’n verskil. Hy is steeds uiters lojaal en sal dikwels enige positiewe reaksie of komplimente aan die president se goeie besluite en leierskap toedig.

    Foto: Gallo Images/Getty Images/Reuters
    Vise­president Mike Pence en pres. Donald Trump. Foto: Gallo Images/Getty Images/Reuters

    Volgens ontleders rig hy mense se aandag op wat Trump doen eerder as wat hy kwytraak.

    FOTO'S: GETTY IMAGES/GALLO IMAGES, GALLO IMAGES/REUTERS; Bronne: biography.com, snopes.com, theatlantic.com, newyorker.com, edition.cnn.com, indianapolismonthly.com, indystar.com, abcnews.go.com, theguardian.com, politico.com
    Kom neem deel aan die gesprek

    Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe