Op onderskeidelik 77 en 56 word Joe Biden en Kamal
Op onderskeidelik 77 en 56 word Joe Biden en Kamala Harris ná hul verkiesing­sege eersdaags Amerika se oudste president en eerste swart vise-president. Foto: Amptelike Withuis-foto deur David Lienemann

Op stemdag was die skrif letterlik aan die muur vir Donald Trump.

Want op daardie dag het sy Demokratiese teenstander na sy beskeie ouerhuis in Scranton, Penn­silvanië, gegaan en self op die woonkamermuur van hul huis in die werkersklasbuurt geskryf: “Van hierdie huis na die Withuis, met die Here se genade. Joe Biden 03/11/2020.”

En kort voor lank is Trump in die sosiale media gespot met sy eie sêding as baas van The Apprentice, sy eertydse werklikheidsreeks: “You’re fired!

Heel gepas was dit Biden se naelbyt-oorwinning in Pennsilvanië wat hom genoeg kieskollege-stemme – 279 teenoor Trump se 214 – gegee het om die Amerikaanse presidentsverkiesing te wen.

Die oorwinnaars het hul sege saam met hul wederhel
Die oorwinnaars het hul sege saam met hul wederhelftes gevier – met maskers teen die corona­virus. Foto: Gallo Images/Reuters

Maar eers was daar ongekende politieke hoogdrama in ’n erg verdeelde Amerika. Daar was die ontwrigting wat die coronaviruspandemie in die land veroorsaak het en gewone verkiesingsaamtrekke haas onmoontlik gemaak het; die steierende ekonomie; die Black Lives Matter-protesoptogte; immigrante en hul kinders in aanhouding teen die grens . . .

En dan was daar Trump se tirades teen posstemme, sy bewerings oor verkiesingsbedrog, en sy regsdreigemente.

Die drama is steeds nie verby nie. Kort voor druktyd het Trump steeds geweier om te erken hy het verloor – al is Biden reeds as wenner aangewys en al sal hy in Januarie as nuwe president van Amerika ingehuldig word.

Hy en sy visepresident, Kamala Harris, het beklemtoon hulle wil die land verenig en álle Amerikaners – Demokrate en ook Republikeine – dien.

Kamala Harris. Foto: Harris Senate Gov
Kamala Harris. Foto: Harris Senate Gov

Sy is die eerste vrou en eerste swart Amerikaner in die pos.

Saam wil die 77-jarige Biden en 56-jarige Harris nou die verdeeldheid van die land se verlede oorbrug – maar ’n opdraande stryd wag wanneer hulle die Withuis betree.

Die boonste vlak van die Amerikaanse Kongres, die senaat, word steeds deur die Republikeine beheer. En die afgelope vier jaar het Trump die land se hoogste hof gelaai met konserwatiewe regters, wat progressiewe beleid kan fnuik.

Kenners meen Trump se beplande regsaksies teen die verkiesingsuitslae sal misluk, want Biden het beduidend gewen. Nogtans saai Trump agterdog onder sy ondersteuners.

“Die verkiesing is gesteel,” het hy in sy jongste tirade getwiet.

Die skrif aan die muur was profeties, maar kan Biden die kloof tussen blou en rooi Amerika oorbrug?

DIE NUWE PRESIDENT: SY HARTSEER PAD NA DIE WITHUIS

Biden word op 20 November 78 en is Amerika se oudste president ooit. Hy ken harde werk, terugslae en persoonlike verlies maar alte goed. Sy ondersteuners meen sy tragiese familieverhaal het hom gebrei om Amerika se wonde te kan heel.

“Hy’s opreg,” “hy gee om,” hoor jy dikwels.

Biden (heel regs) en van sy familielede by ’n saam
Biden (heel regs) en van sy familielede by ’n saamtrek. Foto: Instagram@drbiden
 Biden en sy kleinseun, Robert Hunter Biden, by ’n
Biden en sy kleinseun, Robert Hunter Biden, by ’n geleentheid waar die wenner aangekondig is. Foto: Gallo Images/Getty Images

Biden is die oudste van vier kinders. Sy pa, Joseph, was ’n motor­verkoopsman. As kind het sy ma, Catherine, hom gehelp om ’n hakkelprobleem te oorkom.

Hy is ’n prokureur, maar het die politiek gekies. In 1972 is hy as ’n senator vir Delaware verkies, maar net weke daarna gebeur die ondenkbare.

Hy was op kantoor toe sy gesin ’n Kersboom gaan uitsoek het. Hul motor is by ’n kruising deur ’n vragmotor getref. Sy vrou, Neilia, en hul dogtertjie, Naomi (13 maande), is dood. Sy seuns, klein Beau (toe 3) en Hunter (2), het beenbreuke en kopbeserings opgedoen.
Hy was vyf jaar lank ’n enkel­ouer voor hy in 1977 getrou het met Jill Tracy Jacobs, toe ’n onderwyseres.

In 1988 en in 2008 het hy sonder sukses om die Demokratiese presidentsbenoeming meegeding. Maar Obama het hom toe gevra om sy verkie­singsmaat te wees en hulle sou ’n hegte Withuis-span word, met Biden as Obama se vise-­president.

En toe slaan die tragedie weer toe . . .

Biden se oogappel, Beau, was minister van justisie van Delaware en sy politieke toekoms was blink. Maar in 2013 word breinkanker by hom gediagnoseer. En in Mei 2015 sit Biden langs sy seun (toe 46) se sterfbed.

May 30. 7:51 PM . . . It happened. My God, my boy. My beautiful boy,” lees sy dagboekinskrywing. Begin 2015 is Biden beskou as ’n geskikter Demo­kratiese presidentskandidaat as Hillary Clinton, maar sy seun se dood was vir hom te traumaties om te wed­ywer om ’n pos “waarvoor jy 110% moet gee”, en hy het hom onttrek.

DIE NUWE PRESIDENTSVROU: VERENIGER VAN GEKWESTES

Jill Biden het ’n doktorsgraad en het haar man se
Jill Biden het ’n doktorsgraad en het haar man se hart help heel word. Foto: Instagram/@drbiden

Oor sy vrou, Jill, het Biden al geskryf: “Sy het my lewe vir my teruggegee en my laat besef my familie kan weer heel word.”

Jill (69) het ’n doktorsgraad in opvoedkunde en doseer Engels aan ’n kollege in Virginië. Maar soos haar man kom sy uit ’n werkersklasgesin. Sy is gebore in New Jersey, die oudste van vyf Jacobs-susters. Haar pa, Donald, was ’n bankwerknemer. Haar ma, Bonny, was ’n huisvrou.

Aan die Universiteit van Delaware het sy met haar studenteliefde, Bill Stevenson, getrou. Hulle het die studentekroeg Stone Balloon oopgemaak. In 1975 is hulle geskei.

Sy het Joe Biden ontmoet tydens ’n fliekafspraak gereël deur vriende. Eers was sy lugtig vir ’n vaste verhouding.

“Omdat die twee seuns reeds ’n ma verloor het, wou ek seker maak. Ek wou nie hê hulle moes nog ’n ma verloor nie.”

Biden moes vyf keer die jawoord vra voor hulle in 1977 in New York getroud is. Hul dogter, Ashley (39), ’n maat­skaplike werker, woon saam met haar chirurg-man, Howard Krein, in Philadelphia.

In ’n video in die sosiale media het Jill verwys na die stryd om die Biden-familie heel te maak.

“Op dieselfde manier maak ’n mens ’n nasie heel. Met liefde en begrip, en met klein gebare van welwillendheid. Met dapperheid. Met onkreukbare geloof.”

WAT KAN ONS VAN DIE BIDEN-WITHUIS VERWAG?

 Joe en sy vrou, Jill. Foto: Instagram/@drbiden
Joe en sy vrou, Jill. Foto: Instagram/@drbiden

1. Die pandemie

Trump het die erns van covid-19 ontken, maar Biden verklaar sy eerste prioriteit is om dit te stuit. Met Biden se verkiesing was Amerika se daaglikse infeksiekoers sowat 120 000, die hoogste nog, en sterftes 238 000. Hy beloof om “na die weten­skap te luister”. Sy sewepuntplan sluit gratis toetse en die verpligte dra van maskers in.

2. Die ekonomie

Biden beloof geldhulp aan ondernemings wat weens die pandemie bloei. Hy wil “die middelklas herbou” deur miljoene werke te skep en wil die rykstes swaarder belas.

3. Rassisme

In die nasleep van die onlangse rasseprotes wil Biden sistemiese rassisme uitroei, behuisingsprobleme takel en beter opvoeding vir almal voorsien. Hy wil polisiedienste hervorm en geweld teen verdagtes beperk.

4. Gesondheidsorg

Trump wou “Obamacare”, oftewel die wet wat Obama ingestel het om bekostigbare mediese sorg vir alle Amerikaners moontlik te maak, ongedaan maak. Tans kwalifiseer 30 miljoen mense uit ’n bevolking van 328 miljoen vir openbare gesondheidsorg. Biden wil dit uitbrei na 97% van Amerikaners.

5. Die omgewing

Trump se omgewingsbeleid het Groenes laat kreun – veral sy besluit in 2017 om Amerika te onttrek aan die internasionale klimaatooreenkoms in Parys. Biden wil die besluit omkeer. Sy doelwit is dat Amerika teen 2035 slegs “skoon” krag sal opwek. Dit sal ’n belegging van $2 biljoen verg.

6. Buitelandse beleid

“Amerika eerste,” was Trump se mantra. Maar Biden wil bande met ander lande versterk. Hy sal waarskynlik ’n einde maak aan Amerika se handelsoorlog met China en wil ’n nuwe internasionale kernooreenkoms met Iran sluit.

7. Vuurwapenbeleid

Dekades lank is Amerikaanse politici al doodbang om beter vuurwapenbeheer in te stel. Biden wil egter die verkope van aanvalsgewere – insluitend die aanlyn verkope daarvan – verban en strenger agtergrond­ondersoeke vir voornemende eienaars instel.

DIE VISE-PRESIDENT: DIE BRILJANTE BAANBREKER

Kamala en Doug Emhoff (55). Foto: Instagram/@kamal
Kamala en Doug Emhoff (55). Foto: Instagram/@kamalaharris

Nie net maak Kamala Harris (56) geskiedenis as Amerika se eerste vroulike visepresident nie, ook as hul eerste swart visepresident. Daarby het sy ’n uitmuntende kans om Amerika se eerste vroulike president te word.

Met sy inhuldiging sal Biden reeds 78 wees en hy sal waarskynlik nie vir ’n tweede termyn wil dien nie. Daar word reeds bespiegel dat Harris die Demokrate se presidentskandidaat in die volgende verkiesing sal wees.

Sy het van jongs af opgekom vir dit waarin sy glo. Sy was 13 toe sy en haar jonger suster, Maya, ’n betoging voor hul woonstelblok in Berkeley, Kalifornië, gelei het uit protes daarteen dat kinders verbied is om op die gras te speel.

Nadat Harris ’n regsgraad aan die Universiteit van Kalifornië verwerf het, het sy in 1990 as ’n assistentstaatsaanklaer begin werk. In 2010 was sy die eerste swart vrou wat tot minister van justisie van Kalifornië verkies is en ses jaar later het sy ’n Kaliforniese senator geword.

Sy het Doug Emhoff (55), ’n Joodse prokureur, in 2014 op ’n toe-oë-afspraak ontmoet en hulle is ’n jaar later getroud. Harris het nooit ma geword nie.

Al werk hulle sy aan sy, skroom sy nie om Biden aan te vat nie.

Nadat hy hom voorheen uitgespreek het teen “busing” – die aanry van swart kinders uit armer buurte na staatskole om rasse-­integrasie te bevorder – het sy vertel van ’n meisie wat elke dag in Kalifornië aangery is skool toe, en toe by­gevoeg: “Daar-
die meisietjie was ek.”

WAT NOU VIR TRUMP?

Donald Trump. Foto: Gallo Images/Getty Images
Donald Trump. Foto: Gallo Images/Getty Images

Wag daar ná die Withuis eindelose potjies gholf of nuwe sakeprojekte op Donald Trump – of sal hy dalk hof toe gesleep word, soos sommige kommentators bespiegel?

Volgens die Amerikaanse regstelsel word ’n sittende president gevrywaar van vervolging, maar ná sy ampstermyn kan ernstige aanklagte Trump moontlik in die gesig staar:  

  • Dwarsboming van die gereg: Die aanklaer Robert Mueller kon in sy ondersoek na beweerde Russiese inmenging by die Amerikaanse presidentsverkiesing van 2016 nie bewyse kry dat Trump met die Russe saamgesweer het nie, maar voorvalle word wel uitgewys toe Trump die ondersoek probeer ondergrawe het. Volgens honderde federale aanklaers wat ’n verklaring onderteken het, sou sy optrede “veelvuldige klagte regverdig”.
  • Belastingoortredings: Trump weier al jare lank om sy belastingopgawes bekend te maak. Volgens The New York Times ondersoek die Amerikaanse Inkomstediens onder meer ’n belastingterugbetaling van sowat $73 miljoen wat Trump moontlik wederregtelik in 2010 geëis het.
  • Oortredings met sy verkie­singsveldtog: Michael Cohen, Trump se voormalige prokureur, is tot drie jaar tronkstraf gevonnis omdat hy kort voor die verkiesing van 2016 ’n porno-ster, Stormy Daniels, omgekoop het om oor haar affair met Trump te swyg. Trump is self tydens Cohen se verhoor met dié oortreding van veldtogregulasies verbind.
  • Beweerde seksoortredings: Trump het verlede jaar die joernalis E. Jean Carroll se bewerings dat hy haar in die 1990’s in die aantrekhokkie van ’n kettingwinkel verkrag het as leuens afgemaak. Sy het hom daarna vir naam­skending gedagvaar.

En Summer Zervos beskuldig Trump daarvan dat hy haar in 2007 “aggressief gesoen” en aan haar bors gevat het ná haar    deelname aan sy TV-werklikheidsreeks, The Apprentice. Ook sy het hom vir naamskending gedagvaar nadat hy dit ontken het.

Een manier waarop Trump dalk vervolging kan ontduik, is om as president te bedank voor Biden se termyn aanstaande jaar begin. Dan kan visepresident Mike Pence intussen as president waarneem en presidensiële kwytskelding van federale vervolging aan hom toestaan.

Verskeie regsgeleerdes meen Trump kan in sy laaste dae in die Withuis ook moontlik van sy vertrouelinge van vervolging vrywaar, soos sy tweede oudste seun, Eric (36). Hy is verlede maand tydens ’n voorlopige ondersoek na bedrog by die Trump-familie se eiendomsmaatskappy ondervra.

Maar talle ontleders wys daarop dat geen Amerikaanse oudpresident al vir ’n strafregtelike oortreding aan die pen gery het nie – ook nie Richard Nixon ná die Watergate-­skandaal nie. Sy vise-president, Gerald Ford, het ná sy bedanking die leisels oorgeneem en hom van vervolging gevrywaar.

WAT BETEKEN DIT VIR SUID-AFRIKA?

Biden sal waarskynlik ’n meer globale benadering volg en dit sal meer geleenthede vir handel tussen Suid-Afrika en Amerika beteken, meen die politieke ontleder dr. Trust Matsilele. Verbeterde verhoudings tussen Amerika en lande soos China en Iran kan ook vir Suid-Afrika voordelig wees.

As die Iran-­kernooreenkoms byvoorbeeld heringestel en sanksies teen dié land opgehef word, sal meer olie op die wêreldmark beskikbaar wees, voorspel Trust.

“En dit is goed vir lande wat nie olie vervaardig nie, soos Suid-Afrika.”

Hy wys daarop dat die rand reeds begin versterk het in afwagting op Biden se sege in die verkiesing.

“Biden bring ’n mate van beleidsvoorspelbaarheid mee wat goed is vir enige mark, en ek dink dit is waarop die rand reageer.”

Ook die politieke en ekonomiese ontleder Daniel Silke reken Amerika onder Biden kan meer handelsgeleenthede vir Suid-Afrika bied. Maar hy maan dat weens die samestelling van die senaat die nuwe president se hande afgekap kan wees wat onderhandelings betref soos oor invoertariewe vir produkte uit Suid-­Afrika. Daarmee kan “meer konserwatiewe of Republikeins gegronde belange” steeds die toon aangee, sê hy.

Ook die voertuigsektor in Suid-Afrika, wat motors vir die Amerikaanse motorbedryf monteer, sal waarskynlik by Biden se bewind in Amerika baat vind, meen die ekonoom en leierskapskonsultant Guy Lundy.

“Die breër voertuigsektor – nie net die motors self nie, ook die onderdele wat vervaardig word – sal voordeel trek uit groter bereidwilligheid uit Amerika om met lande soos ons sake te doen.”

Guy beskou die herstel van markte sedert Biden die oorhand in die verkiesing begin kry het as “ ’n duidelike teken dat mense oral ter wêreld beter en meer positief oor die toekoms onder Biden voel as wat hulle onder Trump sou voel.” 

BRONNE: CNN, THEGUARDIAN.COM, REUTERS, NYTIMES.COM, NEWYORKER.COM, THECONVERSATION.COM; POLITICO.COM; NATIONAL GEOGRAPHIC.COM; THECUT.COM; BBC.COM; TOWNANDCOUNTRYMAG.COM,VOGUE.COM; ABC NEWS, PHILADELPHIA INQUIRER, BLOOMBERG.COM; APNEWS.COM
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe