Joe Biden kan Trump se groot teenstander wees – maar kan sy seun se streke vir hom nóg teëspoed bring?  

Die volgende Amerikaanse presidentsverkiesing is nog meer as 'n jaar weg, maar moddergooiery, knoeiery en politieke drama is daar reeds oorgenoeg van.

Kyk nou maar na die geval wat tans die nuus oorheers van Donald Trump, Hunter Biden en dié se pa, die gesoute demokraat Joe Biden. 

Op die oog af is dit net nog 'n politieke straatgeveg: Amerika se president ­probeer oënskynlik vir Joe (76), dalk sy grootste bedreiging in 2020 se verkiesing, benadeel deur sy seun te teiken.

Maar dit belig ook die binnewerke van 'n politieke familie wat tragedie én skandale alte goed ken, want dit wil begin lyk of daar iets soos die sogenaamde “Vloek van die Kennedys” oor die Biden-familie hang. 

Toe Trump onlangs vir Hunter (49) van verdagte sakebedrywighede met die regering van Oekraïne beskuldig, het hy geïmpliseer dat Joe se gewete ook nie heeltemal skoon is nie. 

Joe was Barack Obama se adjunk­president toe Hunter in 2014 as direksielid van die Oekraïense aardgasmaat­skappy Burisma aangestel is.

Daarvoor was Hunter se salaris glo sowat R739 000 per maand. 

Hunter Biden. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Hunter Biden. Foto: Gallo Images/ Getty Images

En in 2013 het Hunter saam met sy pa in Air Force Two na China gevlieg – waarna hy 'n direksielid van die Sjang­hai-­gebaseerde BHR-beleggingsfonds geword het.

Maar Trump se aanval op Hunter en Joe is die rede dat hy self dalk nou deur die Amerikaanse kongres in 'n staat van beskuldiging geplaas kan word. 

Vir Joe moet dit egter voel asof sy lang politieke reis met die wrakke van familietragedies en probleme besaai is.

Eers was daar die ver­skriklike motorongeluk in 1972 waarin sy vrou en hul babadogtertjie dood is en hul seuns, Beau en Hunter, ernstig beseer is.

En in 2015 is Joe verpletter deur die dood van Beau (toe 46), sy oogappel, weens breinkanker.  

Voor Beau se dood is Joe beskou as die logiese Demokratiese presidents­kandidaat vir die 2016-verkiesing eerder as die omstrede Hillary Clinton.

Maar hy het hom aan die wedloop onttrek om oor sy seun se dood te rou.

Joe en Beau by ’n Demokrate-saamtrek in 2008. Foto
Joe en Beau by ’n Demokrate-saamtrek in 2008. Foto: Reuters

In April vanjaar het Joe egter amptelik sy hand opgesteek om Trump in 2020 te pak.

Maar eers het hy in sy boek Promise Me, Dad: A Year of Hope, Hardship, and Purpose (2017) sy hart oor sy verlies uitgestort. Die dag van Beau se dood het Joe in sy dagboek aangeteken: “May 30. 7:51 PM . . . It happened. My God, my boy. My Beautiful boy.”

Joe se boodskap aan Amerikaanse ­kiesers is dat persoonlike terugslae hom getemper het om as president enige uitdaging te oorkom. 

Maar nou is daar sprake dat sy presidensiële ambisies weer gepootjie kan word. Want anders as sy oogappel, Beau, word Hunter in die media as 'n swart­skaap uitgebeeld.

En weens Trump se aantygings word al Hunter se skandes weer opgerakel: sy drank- en dwelm­probleme, sy morsige egskeiding, sy verhouding met Beau se weduwee.

Dis 'n politieke sepie in ware Washington-tradisie.

Joe Biden vertel op sy verkie­singswebtuiste dat hy as student meegevoer is deur die woorde van Martin Luther King, John F. ­Kennedy en dié se broer Robert Kennedy.

Joe se eie politieke loopbaan het begin toe hy laat in 1972 as senator vir Dela­­ware verkies is – en tragedie het feitlik onmiddellik gevolg. 

Op 18 Desember 1972 het sy gesin 'n Kersboom gaan uitsoek terwyl Joe op kantoor was.

By 'n kruispad is hul motor deur 'n vragmotor getref. Sy vrou, Neilia, en hul dogtertjie, Naomi (13 maande), is op slag dood. Klein Beau (3) en Hunter (2) het onderskeidelik ernstige beenbreuke en kopbeserings opgedoen.

In 'n vorige boek, Promises to Keep: On Life and Politics, skryf Joe dat hy in sy donkerste dae ná die ongeluk dit oorweeg het om sy eie lewe te neem.

“Maar dan het ek na Beau en Hunter in hul hospitaalbeddens gekyk en gewonder watter nagmerries húlle mee worstel, wie aan hulle sou verduidelik ek is ook weg. En geweet ek moet veg en bly leef.”

Hy is langs die boeties se hospitaal­beddens as senator ingehuldig. Ná hul ontslag het hul grootouers en uitgebreide familie hulle versorg wanneer hy in Washington was.

Vyf jaar ná die ongeluk het hy weer getrou met Jill, 'n professor in Engels.

Albei Joe se seuns is as charismaties en talentvol beskryf, en hulle was baie geheg aan mekaar. Beau het glo met sy kop gedink; Hunter met sy hart.

Beau was sy pa se gunsteling, terwyl Hunter nader aan sy stiefma, Jill, gegroei het. In sy boek beskryf Joe vir Beau as “Joe Biden 2.0 . . . hy het die beste van my gehad, maar sonder al my gebreke”.

Beau, 'n regsgeleerde, het nege jaar lank as staatsaanklaer in Philadelphia gewerk voor hy in 2006 verkies is as ­prokureur-­generaal van Delaware – 'n politieke pos.

Beau en sy vrou, Hallie, in 2011. Foto: Gallo Imag
Beau en sy vrou, Hallie, in 2011. Foto: Gallo Images/ AFP

Sy loopbaan het 'n soort­gelyke pad begin volg as dié van ­Robert Kennedy, wat prokureur-generaal van die VSA was voor hy 'n presidents­kandidaat geword het en vermoor is.

Hunter was altyd op die agtergrond, die een wat sy pa en broer gesteun en ­altyd hul politieke en openbare saamtrekke bygewoon het. “Ek was taamlik seker Beau kon eendag as president staan en dat hy met sy broer se hulp sou kon wen,” skryf Joe.

Hunter het ook regte studeer, maar dit was in die MBNA-bankgroep dat hy vinnig opgang gemaak het. Destyds al is gefluister sy pa se senatorskap het vir hom deure oopgemaak. 

Maar dis sy stormagtige persoonlike lewe wat Amerikaners laat gons het.

Hy het self aan die tydskrif The New Yorker vertel sy vrou en die ma van hul drie kinders, ­Kathleen Buhle, het in 2003 gedreig om van hom te skei oor sy drankverslawing.

Beau het Hunter na sy eerste Alkoholiste Anoniem-vergadering vergesel. Sewe jaar lank was hy nugter voor hy in 2010 weer begin drink het.

Hunter het ook al erken dat hy soms dwelms gebruik het.

In 2013 is aggressiewe breinkanker by Beau gediagnoseer. Sy motoriese vaardighede en spraak is later aangetas.

In Mei 2015 is hy, omring deur sy familie, oorlede. Sy breingewas was soortgelyk aan dié wat die gesiene senator Ted Kennedy, oom van die vermoorde Kennedy-broers, se lewe geneem het.

Vroeër het Beau en Hunter saam hul pa oorreed om 'n 2016-presidentskandidaat te word, maar Joe het sy veldtog laat vaar om buite die openbare oog te rou.

Ook Hunter was verpletter.

'n Paar maande ná Beau se dood moes Joe hom glo uit 'n hotelkamer gaan haal waar hy homself weke lank saam met bottels wodka afgesonder het.

In 2016 het Kathleen genoeg gehad van haar moeilike huwelik, en sy en Hunter is ná 22 jaar geskei. 

Volgens haar hofdokumente het hy “finansiële sorge vir die gesin veroorsaak deur uitspattige besteding ... aan dwelms, alkohol, prostitute, ontkleedansklubs en geskenke vir vroue met wie hy seksuele bande gehad het”.

Hunter het ontken hy het vir seks betaal.

Teen einde 2016 was hy in 'n verhouding met sy broer se weduwee, Hallie. “Ons het ’n baie spesifieke hartseer gedeel,” het hy verduidelik. Joe het Hunter en Hallie hierin ondersteun, maar die twee is vroeër vanjaar uitmekaar.

In Mei vanjaar het Hunter die Los Angeles-­rolprentmaker Melissa Cohen (32), oorspronklik van Johannesburg, die jawoord gevra. Toe hulle Joe inlig, het hy glo aan haar gesê: “Dankie dat jy my seun die moed gegee het om weer lief te hê.”

Hunter glo nie sy swartskaapbeeld sal sy pa se verkiesingsveldtog beïnvloed nie.

“My pa is lief vir my,” het hy vroeg vanjaar opgemerk. “En hy’s te lief vir die Amerikaanse nasie om toe te laat dat enige teëspoed tussen hom en ­nasiediens staan.” 

Toe Trump onlangs vir Hunter van verdagte sakebedr
Toe Trump onlangs vir Hunter van verdagte sakebedrywighede met die ­regering van Oekraïne beskuldig, het hy geïmpliseer dat Joe se gewete ook nie heeltemal skoon is nie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Trump se aanval op Hunter Biden

Dit blyk pres. Donald Trump het geen bewyse gehad wat Hunter Biden met korrupte Oekraïense sakebedrywighede en sy pa, Joe, met nepotisme kan koppel nie.

Trump het sy aanval van stapel gestuur op grond van bewerings in die boek Secret Empires: How the American Political Class Hides Corruption and Enriches Family and Friends

Die skrywer is Peter Schweizer, redakteur van die verregse nuusweb­tuiste Breitbart News. Toe bel Trump die Oekraïense president, ­Wolodimir Zelenski, en eis dat hy die bewerings ondersoek. 

Volgens 'n fluitjieblaser het Trump gedreig om militêre hulp aan Oekraïne te weerhou as Zelenski nie saamwerk nie.

Dis waarom die Amerikaanse kongres Trump nou ondersoek en hom moontlik in ’n staat van beskuldiging kan plaas. 

“Om 'n ander land te vra om smerighede vir jou verkiesingsveldtog te voorsien in ruil vir wapens, is magsmisbruik wat 'n staat van beskulding regverdig,” verduidelik die voormalige federale vervolger Harry Sandick.

  • Bronne: cnn, newyorker.com, nytimes.com, theguardian.com, promise me, dad: a year of hope, hardship, and purpose deur joe biden, bloomberg.com, apnews.com
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.